SA Besoek 3 Junie 2021
Ek vertrou dit gaan met jou goed te midde van alles en nog wat in die derde vlaag.
Ons het pas gehoor dat elkeen in ons gesin se PCR toets resultate negatief is. Ons is dankbaar en verlig! Met peperduur sertifikate in die hand en vol gepropte tasse slaggereed, is ons vlugte ingeboek en staan ons op die punt om te vertrek na Johannesburg. Dis een week vroeër as onlangs beplan, a.g.v. gekanselleerde vlugte na Kaapstad. Maar dis ook een jaar later as aanvanklik beplan, a.g.v. Covid-19. Wat kan ons sê? Ons wik, maar God beskik.
Ons eerste missie is nou om veilig en gesond in Suid-Afrika te kom. Ondersteuners, familie en vriende se voorbereidings, omgee en gebede, bemoedig ons regtig. Nog vóór ons daar aanland, is die Here se voorsiening ons vooruit, vér bo ons gebede en verwagtinge. Dit gee ons krag om die groot ontwrigting wat dié skuif vir ons meebring, met blydskap aan te pak.
Terwyl ons binnekort akklimatiseer van somer na winter (en in velerlei ander opsigte), gaan ons sover moontlik self-isoleer vir die eerste 2 weke, komende van internasionale lughawens. In daardie tyd gaan ons ook ons besoek program vir die komende 5 maande skeduleer. As jy op ‘n dag later vanjaar verby Stilbaai (ons basis) ry en tyd het, loer gerus in. Andersins sien ons jou hopelik in persoon by ‘n ander ontmoeting iewers op ons roete van besoeke aan gemeentes, kleingroepe ens.
Dit voel alles ‘n bietjie onwerklik, gegewe die buitengewone omstandighede. Maar ons opgewondenheid en afwagting is nou nie meer getemper nie. Nader aan vertrek kan ons nie kom nie …
Baie dankie dat ons kan staatmaak op jou ondersteuning en gebede.
Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan
NS: hieronder is ‘n paar foto’s van onlangse gebeure, asook ons gebedsversoeke.
Foto’s (van links na regs en bo na onder):
1. Saam met ons kinders se Japannese onderwyseres wat kom afskeid neem.
2. Afskeidsete kort voor ons vertrek, saam met Hakamata en Du Rand egpare.
3. Twee nuwe KRTS maats van Korea speel by ons.
4. Stéphan se laaste klasgee geleentheid vir die kwartaal.
5. Tafeltennis tydens KRTS retraite.
6. Woensdag aand biduur saam met KRTS studente.
GEBEDSVERSOEKE
Ons is dankbaar vir Here se sorg en voorsiening t.o.v.:
- Almal se gesondheid, ons voorbereidings (dit was taai!) voor ons vertrek.
- Baie ondersteuners se finansiële, praktiese bydraes t.w.v. ons besoek.
- Carina se ouers se huis wat ons basis sal wees vir die 5 maande in Stilbaai.
Vra asb. vir sy leiding en beskikking in:
- Ons reise in die volgende dae, aanpassing in SA, goeie geleentheid om te rus, met familie en vriende tyd te spandeer.
- Alle beplande besoeke aan gemeentes, kleingroepe, individue t.m.v. Covid-19 inperkings in kerklike aktiwiteite.
- Alle RCJ gemeentes in Japan se getuieniswerk, voortgaande teologiese opleiding by KRTS.
- Elmar en Nadine Du Rand se studiewerk in Japan en hulle beplande besoek aan SA vanaf middel Julie.