Ramp-fonds terugvoer en beplande besoek aan ramp-gebied (25 Maart 2011)
Beste vriend/vriendin,
Net ‘n baie kort nuusflits om jou op hoogte te hou van enkele belangrike nuwe gebeure:
- Ons beplan om DV Maandag vir ‘n paar dae – op amptelike uitnodiging van die Diakonale Kommissie van die Reformed Church in Japan – persoonlik ‘n besoek aan die rampgebied en aan die kerke en predikante daar af te lê. Die groep sluit in: Kei Kataoka (RCJ Tokushima leraar), Tobie de Wet en ekself. Gideon van der Watt (dr) beskryf o.a. die doel van ons besoek hieronder.
- Eerskomende Sondag (27 Maart) word ‘n gesprek wat ek vroeër die week met Johann Symington (dr) gevoer het oor die ramp in Japan, om 19:00 op RSG (100-104 FM) uitgesaai. Die gespreksprogram se naam is Kruis en Dwars. Luister gerus as jy ‘n kansie het…
- Die Japan Rampfonds groei teen ‘n sterk tempo – al meer as R160 000 is ontvang – en ons is ontsettend dankbaar teenoor alle ondersteuners wat bydrae. Hou so vol asb. en lees gerus hieronder Gideon se amptelike brief wat terugvoer gee daaroor in meer detail.
Ons – saam met baie ander hier – het regtig jou gebedsondersteuning nodig in hierdie tyd.
Vrede en vreugde
Stéphan en gesin (ook namens Tobie en Annalie de Wet)
————————————————————————————————————————————–
TERUGVOERING OOR MISSIE JAPAN RAMPFONDS
Missie Japan is dankbaar om bekend maak dat ons reeds meer as R160 000 ontvang het vir die Japan Rampfonds, terwyl bydraes nog instroom. Soos wat die omvang van die ramp vir ons duideliker word, besef ons net hoe dringend nodig elke bydrae tot hierdie fonds regtig is. Baie dankie daarvoor.
Missie Japan is die amptelike kanaal waardeur die NG Kerkfamilie en ons Susterkerke met die Gereformeerde Kerke in Japan skakel. Dit bly van groot belang om ten nouste met die kerk daar te skakel en saam te werk. Hulle is direk betrokke en weet die beste hoe en waar om hulp te verleen.
Die Reformed Church In Japan het ‘n noodkomitee wat die betrokkenheid by die ramp koördineer. Hulle werk ten nouste saam met ander kerke en Christelike organisasies. Die Moderator van hierdie kerk, wat woon in die Sendai gebied wat die swaarste getref is, is voorsitter van so ‘n interkerklike noodkomitee wat hulp aan alle mense verleen. Tans fokus die hulp op skuiling en kos vir die duisende mense wie se huise verwoes is of wat moes vlug uit die gebied waar kern-bestraling gevaarlik is. Hierdie ontwrigte, getraumatiseerde mense, wat geliefdes en al hulle aardse besittings verloor het, moet ook getroos en emosioneel ondersteun word. Dit doen die kerke met vrywilligers.
Missie Japan se sendelinge, Tobie de Wet en Stephan van der Watt, vertrek binnekort op besoek aan die rampgebied. Ons is diep dankbaar vir hulle bereidheid om ten spyte van die moontlike gevaar, te gaan help.
Die doel / oogmerke van die besoek sal wees:
1) Om soveel moontlik RCJ-gemeentes in die streek te besoek en hulle persoonlik te verseker van ons liefde, gebede en ondersteuning;
2) Om die werklike situasie en die behoeftes van die mense in die rampgebied eerstehands te evalueer;
3) Om vas te stel wat die plaaslike gemeentes doen om die onmiddellike behoeftes van die mense te help hanteer;
4) Om te hoor wat die Kerk op voetsoolvlak beplan om die situasie op die langtermyn te help hanteer;
5) Om so gou moontlik aan Missie Japan en die Kerk in SA terugvoer te gee.
Dit gaan nog lank neem vir die diep wonde van hierdie geweldige gebeure, wat letterlik die mense van Japan se fondamente geskud het, om te genees. Ons doen ‘n oproep op gemeentes en individue om steeds bydraes te stuur; die kerk en die mense daar het dit regtig dringend nodig. Hou asseblief aan om vir die rampgeteisterdes te bid, vir ons broeders en susters in die kerk wat daar leiding neem en spesiaal ook vir ons sendelinge. Bid dat mense, te midde van hierdie stukkendheid, tog troos en heling in die liefde van die Vader, die Seun en die Gees sal ervaar.
Gideon van der Watt (Sekretaris Missie Japan)