Nuwejaars-flits 6 Januarie 2011
Beste vriend/vriendin,
Ons eerste treë in die nuwe jaar is versigtig geneem…want die pad buite ons huis was seepglad van die lagie sneeu wat die oujaar ingewaai het. Uit die hartjie van ons bibberwinter hoop ons jy en jou naastes beleef reeds ‘n sinvolle 2011!
‘n Haastige wegspring
Dié week was ons besig om ons laaste nuwejaars-briewe aan (meer as 80) Japanese families wat ons leer ken het die afgelope 20 maande, uit te stuur. Die gebruik in Japan is om nuwejaars-poskaarte te pos sodat dit op 1 Januarie hul bestemming bereik. Letterlik miljoene der miljoene word jaarliks versend. Hiervoor sorg die poskantoor báie stiptelik. Al die nuus wat ons wou deel oor 2010 se seëninge (in Japanees en Engels en met foto’s ens. by) kon egter nie als op ‘n poskaartjie inpas nie.
Intussen het ons ook ons Japanese taalstudies hierdie week hervat, en verder lê my se eerste twee preekbeurt in (eenvoudige) Japanees die volgende twee Sondae voor – eerskomende Sondag in ons tuis-gemeente en daarna by die Wes-gemeente in Tokushima. ‘n Groot en vervullende uitdaging! Bid asseblief saam dat dit tot seën sal wees vir almal wat sal kom.
In kleur en geur
Die afgelope Desember was besonder besig by ons, en volgende week sal ons veel meer daaroor deel – van die Japanese taal-eksamen tot verskeie kersfees-geleenthede. Maar as jy nuuskierig is oor ‘n paar ander dinge waarmee ons besig was sedert einde November, loer gerus gou hier onder vir 2 interessante artikels (met foto’s) wat Carina geskryf het oor herfs en kersfees in Tokushima…dis die moeite werd.
Bid asseblief saam met ons:
Met dankbare harte… vir ‘n baie geseënde feestyd waarin ons God se hoopvolle vreugde en liefdevolle sorg met mekaar en baie ander vriende en kennise kon deel.
In afhanklikheid… dat ons opnuut toegerus sal word met die vrug van God se Gees in hierdie nuwe jaar, om die Japanese mense wat ons pad kruis te dien met nuwe ywer.
Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius