Nuusflits van Tobie en Annalie – 14 Februarie 2011
Liewe Familie/Vriende/Ondersteuners,
’n Persoonlike briefie van ons.
Nadat ons gedurende die afgelope Kersseisoen bevoorreg was om vir ’n wonderlike tyd saam met ons familie in SA kon verkeer, is ons terug in Japan vir ons heel laaste termyn van een enkele jaar tot einde 2011. “Aftree” ouderdom is hierdie jaar in Julie en Missie Japan het saam met die RCJ besluit dat ons tot einde van die jaar sal aanbly. Dan terug om ons DV op my tuisdorp, Swellendam, saam met my suster en swaer, Annelie en Lodewyk Spies te vestig. Hulle is besig om vir ons daar onder die berg ’n gesamentlike huis te bou. Hopelik sal ons daarvandaan onder die vaandel van Missie Japan ons roeping, in ’n ander hoedanigheid, voortsit. Dit is egter toekoms musiek….
Ons laaste jaar in Japan is propvol geleenthede en uitdagings: Bo en behalwe die normale hier in Tokushima saam met die twee gemeentes, het ons ’n hele klomp afsprake vir bediening verder op die eiland van SHIKOKU asook in die res van die land. Ons is natuurlik diep dankbaar vir die kerk wat ons vir oulaas wil benut…
Terselfdertyd is ons so dankbaar vir Stephan en Carina se wonderlike aanpassing in hierdie vreemde land. Selfs gedurende die twee maande van ons afwesigheid was hulle so betrokke in hul omgewing dat hulle blykbaar ons nie eens gemis het nie. Hulle is besig om in hul omgewing soveel wonderlike kontakte te maak. Hulle is regtig ten volle deel van die plaaslike gemeente wat hulle baie waardeer en ondersteun. Stephan se heel eerste preek in Japannees was ’n reuse “sukses!” En die “cherry” op die koek is die uitslag van sy Japannese taal-eksamen (’n nasionale eksamen) wat hy, teen sy eie verwagting, met vlieënde vaandels geslaag het! Ons is so trots op hulle! En dankbaar vir SY genade in hul lewe en werk hier in Japan.
Ons waardeer almal se volgehoue meelewing en voorbidding vir ons, vir Stephan en Carina, vir die kerk van Japan en vir die miljoene van Japan.
Met dankbaarheid en liefde,
Tobie en Annalie (de Wet)
Liewe Tobie en Annalie,
Dit het n natuurramp gekos om jul op te spoor! Ons het al die tyd maar vir julle in die vreemde gebid en gehoop ons sien mekaar eendag weer! Wil tog so graag julle e-pos adres he sodat ons kontak kan behou. Dis soveel jare (toe Nico gebore is het Annalie gebel uit PE om ons te verwittig dat jul nou ook ‘n Nico het! Ons bly lief vir julle totdat ons weer van jul hoor! Hendrik en Trienie van der Merwe. Vanderbijlpark.