Nuusflits – September 2019

GO Bokke! 頑張れスプリングボックス!Ekskuus, maar ek moes dit net eers uitkry.
Noodeloos om te sê: die opwinding is al hemelhoog met die rugby wêreldbeker wat op ons voorstoep kom draai. Ons sal onsself beslis nie elders wil bevind in hierdie dae nie.
In Gees en waarheid
Maar buiten die rugby en rysoeste oral om ons, kom daar ook ‘n nuwe kwartaal by ons op spoed. Dit hou ons bedrywig ná ons verlof, met ‘n veelvoud van bedieninge. Ons het sedert Julie begin inskakel by die RCJ se Westelike ring. Laasweek het ons as gesin hulle twee-jaarlikse retreat bygewoon. Dit was regtig verrykend en inspirerend om saam met vriende en kollegas uit 34 gemeentes saam te sing, gesels, eet en bid, rondom die tema: “Om God in Gees en waarheid te aanbid.” Dit was ook ‘n wonderlike verrassings-geleentheid om vir Satomi van Kumamoto weer daar te ontmoet. Baie ondersteuners in Suid-Afrika het destyds vir haar gebid. Sy het tot bekering gekom en is gedoop, twee jaar ná die 2016 aardbewing – kliek hier vir meer daaroor.

Kobe Reformed Theological Seminary (KRTS)
Verder het ons ook onlangs ‘n dinkskrum saam met ‘n paar van ons KRTS dosente gehad (foto onder). Ons het nie net gepraat oor die teologiese inhoud wat ons deur ons onderskeie vakgebiede aan studente oordra nie, maar ook oor die komplekse uitdagings op ons tafel – bestuursgewys, finansieël, allerlei persoonlike kwessies met studente ens. Die kweek van gesonde kerkleiers is nie kinderspeletjies nie, en om ‘n self-onderhoudende kweekskool te wees in Japan, nog minder. Nietemin is ons baie dankbaar vir die gawes en geleenthede waarmee ons geseën word en was dit bemoedigend om kreatief te kon saam dink oor die pad vorentoe. KRTS kry wye erkenning uit interkerklike geledere en word beskou as ‘n bastion van konstruktiewe teologiese onderrig met ‘n klem op evangelisasie in Japan, aldus die terugvoer aan ons dekaan. Dis ‘n voorreg om daarvan deel te wees.

Kyk saam na 2019 se Somersnitte
Daar’s nog baie meer om te deel, maar vir ‘n groter omhaal van woorde het min mense tyd. Daarom, vir dié wat nog 3-minute het: kliek hier vir meer nuus in kleur en klank. Dit wys iets van wat ons beleef het die afgelope tyd en sluit ook in: ‘n kort grepie uit ‘n opvolg-gesprek met Satomi (haar regte naam, want die skuilnaam Hiromi is nou oorbodig want sy is nou gemaklik daarmee om as Christen ge-identifiseer te word). Haar getuienis bly vir my ‘n groot wonderwerk wat net die Gees van God in iemand se lewe kan vermag. Sy getuig moedig (buiten die video-grepie) hoe die Here haar dra en lei te midde van teenkanting en verwerping van haar man se Boeddhistiese familie. Daarvoor loof ons God! Deel dit asb. wyer.
Oop, vol huis
Laastens, is ons diep dankbaar dat ons huis daagliks oorloop met maats wat uit die buurt kom speel. Die verhoudings wat ons kinders nou bou is toekomsbrûe, ook – so bid ons – vir ons plaaslike gemeente. Bid asb. saam met ons vir die uitbou van al die bg. verhoudinge en geleenthede, ter wille van God se koninkryk in Kobe.
Met waardering vir elkeen se gebede en ondersteuning!
Stéphan, Carina en gesin.

GEBEDSVERSOEKE
- Dank die Here vir goeie gesondheid en vir ons tuiskoms in die RCJ se Westelike ring.
- Bid vir ontvanklikheid in ons buurt vir die nuwe bedieninge wat ons beplan by Kita Kobe gemeente (kinder-fokus).
- Vir insig en uithouvermoë vir Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies.
- Gys en Linda Olivier se nuwe kwartaal as Engelse onderwysers in Kochi.
- KRTS se bestuur, die teologiese opleiding en versorging van studente, hulle beroeping na gemeentes.
- Missie Japan se bestuur wat in die volgende maande deur ‘n oorgangsfase sal beweeg.