Nuusflits – Julie 2019
Lees hierdie nuusflits ook deur hier te kliek.
Hartlike groete uit ‘n bedompige Kobe, waar die reënseisoen aan die opdroog is en die somerhitte nou die sweet laat afrol teen ons rûe.
Diep betekenisvolle tyd agter die rug
Ons het bietjie meer as twee weke gelede terug gekom vanaf Grand Rapids (Calvin Seminary), waar ek 6 weke navorsing gedoen het om die fondasie vir verdere onderrig by Kobe se kweekskool (KRTS) uit te brei. Dit was ook ‘n unieke kans om, as gesin, nuwe dinge in ‘n heel ander konteks te leer. En om, ná 10 jaar se bediening in Japan, dieper te delf. Nie net navorsingsgewys nie, maar ook op ’n geestelik-emosionele vlak. Daar was tonne geleenthede om te benut i.t.v. ons kinders se opvoeding. En ons kon meer tyd maak vir stilword en reflekteer uit ‘n vars hoek en in ‘n lieflike omgewing. Lees meer:vollediger verslag (met foto’s) hier.
Nuwe kwartaal om die draai
Intussen het die volgende skof in Japan aangebreek. Die fokus van ons bediening het pas geskuif na die Westelike ring van RCJ gemeentes (gesentreer in Kobe-Osaka-Kyoto omgewing). Ek is laasweek as leraar van dié ring aanvaar. In September begin ook ‘n nuwe fase by ons plaaslike gemeente (Kita Kobe) se kinderbediening, waarin Carina verál gaan voorvat. Ek is gevra om inisiatief te neem met ‘n nuwe Engelse erediens, informeel in styl en gefokus op eenvoud, aanbidding en geloofsgemeenskap (fellowship).
Verder gaan die normale ritme van teologiese onderrig by KRTS, die aanbied van seminare, werk vir sinodale kommissies, betrokkenheid by ‘n diakonale welsynsorganisasie ens. wyer in Japan, volstoom voort in die nuwe kwartaal. Ek en Carina is onder andere ook genooi om vir die ring van Shikoku se getroude leraars ‘n huwelikseminaar aan te bied. Veel meer is in die pyplyn, maar daaroor vertel ons volgende keer weer …
Tydjie vir vieringe en laaglê
Vandag (17 Julie) vier ons Annlie se 12e verjaardag. Ons prys die Here vir haar wat soos ‘n sonneblom straal en hoog-op groei in ons gesin se lewe saam. Intussen (vanaf 25 Julie) lê daar ‘n jaarlikse somer verloftyd voor, waarna ons baie uitsien. Die saam kuier en vertoef met ander sendelinge van regoor die wêreld (wat in Japan werk) is altyd ‘n dieptepunt in ons jaar.
SKYPE of WHATSAPP?
Ons sal graag weer wanneer ons terug is (15 Aug), kontak opneem met almal. Ek hoop veral om binnekort meer Skype en WhatsApp gesprekke te voer met gemeentes en ondersteuningsgroepe. Wil jy/julle ook so maak? Kontak my gerus, dan spreek ons ‘n tyd af.
Baie dankie vir jou volgehoue gebede en ondersteuning.
Vrede en seën,
Stéphan, Carina, Annlie (12), Cornelius (10), Lodewyk (7) en Stephan (5).
Foto beskrywings van links bo na regs onder:
Annlie op haar 12e verjaardag; ‘n Seminaar oor Calvinisme en kuns wat ek bygewoon het; Stéphan, Elmar, Nadine en Kiyoko bevestig as lidmate van RCJ Kita Kobe gemeente; Stephan en Lodewyk saam met Kobe maatjies; Bars-die-waatlemoen speletjie by RCJ Kita Kobe gemeente
GEBEDSVERSOEKE:
- Dank die Here vir ons geseënde, produktiewe en betekenisvolle tyd in die VSA.
- Wysheid en insig vir die beplanning van en gereedmaak vir die nuwe kerklike bedieninge wat opkom.
- Leiding en krag vir Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies – lees hier meer oor hulle.
- Gys en Linda Olivier se werk en lewe in Kochi by SEIWA skool vir dogters. Lees hier meer.
- KRTS studente wat tans in RCJ gemeentes 2-maande internskappe doen.
- Ons tyd van wegbreek en herlaai: vir diep rus en nuwe krag.