Nuusflits Februarie 2018 / Newsflash February 2018
RADIKALE OMMEKEER – ‘n verhaal van een lewe wat ingrypend verander het
RADICAL CONVERSION – a story of one life that changed irreversibly
To read this newsletter in English, CLICK HERE
or visit: https://mailchi.mp/64f793a6e697/mission-japan-newsflash-april-30-2018?e=264846cb77
“Ons het lanklaas gesels, wil jy nie iets saam gaan eet nie?”, vra my Japannese kollega my nou die dag ná ‘n vergadering. Ons gesprek sentreer aanvanklik rondom die eerste dae toe ons mekaar leer ken het, meer as agt jaar gelede. Hy kon destyds baie diep identifiseer met my totale onvermoë om Japannees te praat, want hy het dit self ondervind terwyl hy lank gelede vir sewe jaar in Frankryk gewoon het. Ek het geweet van sy tyd daar, maar nooit die dieper verhaal gehoor nie. En toe vertel hy (en ek som dit hieronder op):
Ek het in ‘n huis groot geword waar my ouers pal baklei en gestry het. My pa was baie afwesig en ek het nooit regtig tuis gevoel nie, wou nie by die huis wees nie. Daarom het ek allerhande verkeerde goed begin aanvang. Onder andere die leier van ‘n motorfiets bende geword. Ek was ‘n aktiewe ateïs, en in my vroeë twintigs is ek Parys toe, eintlik om weg te vlug. Ek kon goed teken/skilder, dit was al. Verder was ek nie regtig goed met studies nie. Maar my lewe het al hoe meer begin uitrafel…
Ek het dwelms begin verkoop, en rondgeslaap. Op ‘n stadium het ek tegelyk met vier vrouens verhoudinge aangeknoop. Een van hulle het swanger geword (sy het later my vrou geword). Ek het haar verwerp en haar aangesê om ‘n aborsie te kry. Ek wou niks met die kind te doen hê nie. In daai tyd het ‘n kunstenaar vriend van my (wat ‘n Christen was), my kerk toe genooi. Ek wou niks daarvan weet nie, en wou net so ver as moontlik van die kerk af wegbly. My vriend het gesê dis ‘okay’, ek kan maar net kom vir die kos, want dis verniet. My meisie was meer opreg in haar begeerte om te gaan, al het sy voorheen nog nooit met die kerk te doen gehad nie. Haar toekoms was ook op die spel, as gevolg van die swangerskap en die hangende aborsie.
Om een of ander rede het ons wél bly kerk toe gaan ná die eerste keer … en ek kon begin gesels met mense oor allerhande worstelinge en vrae in my gemoed. Deur ‘n hele paar ontmoetings met verskillende mense, het die Here my hart begin verander. Uiteindelik het ek my lewe aan hom oorgegee, en kon ek ook vir my meisie vra om nie die baba te aborteer nie. My lewe het handomkeer verander. Ons (enigste) dogter is gebore en ons is getroud. Parys sal altyd die plek wees waar ek die mees radikale ommekeer en oorgawe van my lewe gemaak het!
Dit was die kort weergawe van my kollega se bekeringsverhaal.Intussen is hy al meer as 20 jaar lank ‘n toegewyde leraar en gerespekteerde leier in die RCJ. Voorsitter van dié kerk se grootste ring van 36 gemeentes. Maar sy voete is vas op die grond. En sy hart klop sterk vir gebrokenes en randfigure. Want hy wéét hoe diép die Here hom uit die put van sinloosheid getrek het.
Toe hy ‘n paar jaar gelede by ‘n nuwe gemeente as leraar begin werk het, verwelkom ‘n paar gemeenteleiers hom by die pastorie met sy aankoms. Hulle vra plegtig om verskoning omdat daar rondom die pastorie – in die tyd toe dit leeg gestaan het vóór sy koms – allerhande randfigure begin uithang het. Jongmense wat leeglê, raas en rook ens. Nietemin kon hy nie anders as om soos volg (die kerkleiers) te antwoord nie, “Maar behoort húlle dan nie juís die fokus van ons gemeente se bediening te wees nie? Gee my 10 minute saam met hulle, en volgende Sondag sit hulle almal in die kerk”.
Die ouderlinge het net verdwaas na mekaar gekyk, want hulle het nog geen idee gehad waar dié dominee vandaan kom nie!
Die leraar wie se storie ek geheel het – met sy toestemming – lei vandag ‘n unieke, kreatiewe bedieningsnetwerk (genaamd IBUKI) wat onder andere kuns, in en deur die kerk (én interkerklik), bevorder. Hy maak ‘n waardevolle bydrae op ‘n manier wat niemand anders ooit sou kon doen nie. Hy is inderdaad besig om ‘n gróót en betekenisvolle verskil te maak – as kunstige bediener van die evangelie.
En om te dink: hy was amper ‘verlore’, vasgevang in die put van sinloosheid.
As dit nie was vir God se opsoekende, onbeskryflik groot genade nie! Genade wat ‘n nuwe seisoen met nuwe lewe kan laat aanbreek. Dieper en meer ingrypend as enige ander invloed in ons lewens …
Baie dankie vir jou ondersteuning vir en meelewing met ons werk en lewe in Japan.
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan
GEBEDSVERSOEKE
|
|