Nuusflits 7 Okt. 2020

HOU MOED!

元気を出しなさい!

Gedagtes oor die lewe uit Kobe se herfs

In hierdie nuusflits deel Carina haar ervaringe van die afgelope tyd. Ons gebedsversoeke volg aan die onderkant. Baie dankie dat jy saam bid en meeleef.

In verbondenheid, 
Stéphan

———————————————

Vroeg Oktober. Elke skemeraand wanneer ek gaan stap ruik ek die ongewone kombinasie van sojasous en soetpatats en miso (gegiste boontjies). In herfs-Japan is pers patats met hul ryk, geel binnekante soveel goedkoper – R10/elk in plaas van R20! 

Ek stap deesdae in die aande om myself ordentlik moeg te kry en ook om my malende gedagtes te beveg. Op een of ander manier het ek in ’n kringloop van slapeloosheid verval. Ek vermoed dit is jare van vinnig beweeg en ‘n te-veel-wil-doen mentaliteit, gekombineer met emosies wat deur ons almal in hierdie vreemde tyd bruis. Of dit kan iets heeltemal anders wees. Die mens is immers kompleks!

My Hoopstad vriendin gee raad dat mense wat geneig is om dinge ‘met die kop te voel’, juis eerder sensoriese hawens moet skep met ’n bepaalde, positiewe inhoud. In plaas van gedagtes wat spiraal na negatiwiteit of net doelloos kolk, kan jy eerder doelbewus dink aan ryk, vervullende herinneringe. So stil jy jou gedagtes en word jou liggaam rustig.

Terwyl ek hieroor nadink, ruik ek Japanese aandetes deur vensters se warm gloed. Ek ervaar dadelik diep vervulling. Net die inasem van geure voel soos om onder ’n sagte warm kombers in te krul en omvou te word met iets goeds enversorgend. Ek kies dit as my slaap-gedagte: warm rooi-oranje herinneringe wat flikker met sekuriteit en versorging, gevul met kosreuke.

My familie was nog altyd vir my ’n ekstra veilige hawe – waar ek versorging, volledige sekuriteit en betekenis ervaar het. Ek was een van daardie rare tieners wat ’n aandjie saam met familie verkies het. By die huis was ons fokus voorwaar op kos … maar ook op idees. En in daardie ruimte is twyfel en worsteling met idees nie veroordeel nie, maar aangemoedig. Geen wonder ek assosieer kosreuke van ander se potte as versorgend en betekenisvol nie.
Buiten vir my ouers se versorging op ’n fisiese en intellektuele vlak, het hulle radikale oorgawe aan God die rotsvasheid van my kinderjare onderstreep. God was en is die rots vir my ma en pa. Is dit nie waar dat ons in die mees intieme ruimtes mekaar die seerste kan maak, OF ’n erfenis van diep, lewegewende energie kan gee nie?

In Mere Christianity skryf CS Lewis van die vier kardinale deugde wat die hele wêreld deur die eeue as algemeen aanvaar het: Verstandigheid, Regverdigheid, Matigheid, en MOED.

MOED…

Nou die dag noem my ma dat sy sukkel om die Here te prys wanneer dit met haar goed gaan, want sy wonder of sy dit sal regkry om Hom te prys as dit regtig sleg gaan…as ’n groot storm oor haar kom. Ds. Nezu, ons tuisgemeente sepredikant, preek verlede Sondag uit Handelinge 27. In vers 13 lees ons van Paulus wat seil met ’n ligte bries, wat hulle help om vlot te vaar … maar dis nie lank nie, toe waai daar ’n stormwind en almal is in wanhoop. 

Is ons nie geneig om te dink dat die stil, rustige wind dieeen is wat ons werklik verdien nie … asof God ons dit skuld? Diep binne ons voel ons dit hoort so. Jona en Paulus het albei woeste storms in bote ervaar. Jona was die oorsaak van die storm en Paulus weer die lewensversekering van almal op sy boot. Maar die gemene faktor was in albei gevalle: God. Hy was in beheer van beide storms en beide lewens. 

Ek wonder ook of ek die Here sal kan prys wanneer die groot branders oor my sal spoel? Met net ’n effense sterker briesie en ek klou reeds klaend aan my maspaal vas. Ek weet net God kan my gees versterk. Mag ons almal versterk word sodat ons saam met Paulus met die grootste vertroue kan verklaar en ander om ons aanmoedig:
“Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle:
Hou moed! 元気を出しなさい(Genki wo dashinasai). (Handelinge 27:22).

Carina Van der Watt

cvdwatt@gmail.com

Stephan eet patat

GEBEDSVERSOEKE
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
* Gesondheid t.m.v. genoeg werk en bedienings-verantwoordelikhede.
* KRTS studente wat wag op beroepe na gemeentes, ander wat psigies-emosioneel swaar trek.
* Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.

VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
* Missie Japan se jaarvergadering op 14-15 Oktober via ZOOM.
* Carina se gesondheid t.m.v. slapelose nagte, tuisonderrig dagtake, omgee vir mense in ons omgewing ens.
* Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.
* Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier.
* Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en Nadine se pa se gesondheid (hy word vandag (7 Okt) ge-opereer).
* Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.