Nuusflits 5 Mei 2021

Pinkster is om die draai en ‘n nuwe seisoen het aangebreek in die natuur. ‘n Paar openbare vakansiedae hier het ons help asem skep (lees: kamp). Gister was juis Natuurdag en vandag vier ons KinderdagLees gerus hieronder meer daaroor. 

Onlangse gebeure
Covid-19 se vierde vlaag infeksies is aan die toesak op Japan en ‘n nuwe noodtoestand is aangekondig vir sekere provinsies, insluitend waar ons woon. Ons eie buurt is gelukkig nie in die middestad van Kobe nie, maar ons bly waaksaam en versigtig.

Intussen gaan ons werk en bedieninge relatief normaal voort. Ons is veral dankbaar vir ‘n bietjie meer interaksies as in die vorige (winter)maande waar die isolasie van inperkinge soms swaar was. Die foto’s hieronder vertel die stories van wat onder andere hier gebeur het die afgelope maand of wat.

Verstom deur ondersteuning
Met hierdie nuusflits wil ons graag ons diep waardering deel, vir elkeen wat gereageer het op ons vorige versoek i.t.v. die spesiale projek rondom ons deputasie tyd. Binne ‘n paar weke het verskeie ondersteuners meer as R100 000 asook ‘n motor (kosteloos) geborg. Ons loof die Here vir sy fantastiese sorg en voorsiening en vir vriende se oop harte en hande! Nou is die basiese kostes rondom reis, verblyf, PCR toetse ens. ten dele gedek. Ons vertrou vir volgehoue ondersteuning in die tyd wat kom.

Deputasie planne
Ons vlieg DV op 10 Junie uit Osaka en sal daarna vir 5 maande in SA wees. Die doel van ons besoek is hoofsaaklik: terugvoer aan ondersteuners, besoeke aan gemeentes en individue, strategiese beplanning en visionering saam met Missie Japan leiers, rus en kuiertyd saam met familie en vriende, asook  studieverlof. Omdat daar soveel veranderlikes en onsekerhede is rondom internasionale reise t.m.v. die pandemie, kan ons nie vooraf finale besoek reëlings tref nie. Maar, ek sal tydens ons eerste 10-14 dae van afsondering, kontak maak met almal ons afsprake vas te knoop.  

Bid asb. saam met ons vir als wat voorlê – sien gebedsversoeke hieronder.

Mag vanjaar se Pinkstertyd jou opnuut inspireer tot ‘n dieper, Geesvervulde lewe.

Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan

Doop geleentheid by RCJ Kita Kobe gemeente
RCJ Westelike Ringsbyeenkoms
Carina onthaal vroue by ons huis
Carina lei Treasure Hunters by Sondagskool
Kamptyd!

KINDERDAG KULTUURBROKKIE

Vandag (5 Mei) is Kinderdag, ‘n nasionale vakansiedag in Japan. In hierdie tyd word kinders se geluk en gesondheid gevier en hulle uniekheid en persoonlikhede gerespekteer. Kinders is immers een van ‘n nasie se grootste bates. Orals rondom ons wapper “visvlae”.Die swart karpverteenwoordig die pa, die rooi karp verteenwoordig die ma, en die ander kleure wapper vir elke kind, met ‘n unieke kleur en posisie in verhouding tot hulle ouderdom en posisie in die gesin.

Die vlae simboliseer (energieke en sterk) karpe wat moedig stroomop swem.Met die bedoeling dat veral seuns ook moedig en sterk sal leef … “En wat van die dogters?”, vra jy dalk saam met my. Kinderdag was oorspronklik nét seuntjies-dag. Dogtertjies het wel hul eie dag (genaamd Hinamatsuri – of poppe dag – op 3 Maart). Dit het in 1948 ‘n meer gender-vriendelike Kinderdag geword, wat die waarde en krag van albei geslagte vier. 

Op die foto’s hieronder is ons kinders by (en in!) die vlae en voor die tradisionele uitstallings wat met die feeste gepaard gaan – binne en buite Japannese se huise – o.a. saam met ons Japannese onderwyseres me. Kitagawa, by haar huis.

Ons dank die Here vir ons onvoorspelbare en onvervangbare kinders – wat ‘n seën!

By ons kinders se Japannese onderwyseres aan huis
Pret met Koinobori vlae
Kinderdag onder Koinobori vlae

GEBEDSVERSOEKE
Vra asb. vir die Here se leiding vir:

  • Ons besoek aan RCJ Tokushima gemeente op 16 Mei, om Elmar en Nadine Du Rand aan die gemeente voor te stel.  
  • Baie ekstra preekbeurte en vol klasgee program vir Stéphan, vergaderings t.w.v. RCJ sinode se pastorale en diakonale werk.
  • Carina se voltydse tuisskool onderrig t.m.v. voortgaande Japannese studies, haar bedieninge by RCJ Kita Kobe gemeente ens.  
  • Voorbereidings vir ons koms na SA, gesondheid en krag, dat vlugte sal plaasvind soos beplan.
  • Ons kinders se aanpassing in SA, hulle groei en verhoudinge met maats en met God. 
  • Ons rol in die toerusting en bemoeding van lidmate en kerkleiers in die RCJ, ook t.w.v. getuieniswerk midde-in die voorslepende pandemie en baie inperkings in kerklike aktiwiteite.