Nuusflits – 31 Oktober 2012

Beste ondersteuner,

Die einde van die jaar is in die pylvak, en daar’s heelwat om oor te skryf ná die afgelope twee maande se doen en late.

Verfrissende rustyd

Ons jaarlikse verloftyd was regtig nodig en goed ons het uitgespan in ‘n gehuurde houthuis in die Takayama (sendeling) vakansieoord, oos van Sendai. Oral rondom ons was opruimingswerk steeds volstoom aan die gang, 18 maande na die drie-dubbele rampgebeure. Annlie, Cornelius en Lodewyk het die vryheid van heeltyd-speeltyd, spasie en see baldadig geniet. Interaksie met ander kinders (veral Amerikaners) was ook volop. Ek en Carina kon asem skep, en het heelwat meer tyd gehad vir dieper gesels as wat gewoonlik moontlik is tussen die 3 kleintjies se versorging, opvoeding ens. deur.

Seisoen se draai propvol aksie

Saam met die herfs wat die afgelope 5 weke ingelui is, het ons ook sedertien lekker besig geraak met:

  • ‘n Waardevolle 10-dag besoek aan Suid-Afrika waartydens ek ‘n aanbieding by ‘n konferensie in Stellenbosch gedoen het, openhartig met Missie Japan bestuurslede kon gesels oor ons bediening en lewe en die toekoms daarvan, asook ‘n paar bemoedigende gesprekke met oud-kollegas, vriende en familie kon geniet. Danksy Carina se ouers se wonderlike ondersteuning – te midde van hulle eie besige skedule – kon ek met gemoedsrus weg wees van die huis en is Carina darem nie in die proses heeltemal ooreis nie …
  • ‘n Inspirende 3  weke van betrokkenheid in die rampgebied as vrywilligers saam met pa Tobie en ma Annalie . Carina het ‘n magdom koeke gebak vir ‘n “koffie-winkel” wat hulle ge-inisieër het by Sakura huis in Matsushima-Oos. Verder het ons ook by die tydelike behuisingskemas vir ramp-slagoffers besoek afgelê; saam met kinders uit die gebied gespeel en hul soms gehelp met skoolwerk, en op uitstappies gegaan ens. … Kyk hieronder vir meer foto’s wat die verhaal verder vertel…
  • Die bywoning van die jaarlikse RCJ sinode sitting. Vanjaar was dit my beurt om namens dr. Kobus Gerber (Algemene Sekretaris) van die NG Kerk ‘n meelewende groete boodskap oor te dra. Daar was ook heelwat ander goeie gesprekke, onder andere oor die moontlikheid van ‘n groep jongmense uit die RCJ wat in 2013 as vrywilligers by ‘n bestaande HIV/Vigs projek van die NGK-familie wil betrokke raak en op grondvlak wil uitreik.

Aangrypende dagboek om te lees

Hulle fokus was volledig net op praktiese liefdesdiens en meelewende, aktiewe luister na dié wat gewillig was om te praat. As jy ‘n graag meer insig wil kry in die aard en omvang van die De Wets se ondersteuningswerk van die afgelope 3 maande in die Sendai-rampgebied, lees hulle boeiende dagboek hier – en deel in die lewensveranderende vertellinge van baie ramp slagoffers.  In ‘n volgende nuusflits sal ek probeer om video-grepe hiervan te deel…

Opwindende vooruitsigte

  • Tussen 11-14 November vind in-diepte gesprekke plaas oor die verwagtinge, uitdagings en inhoud van Missie Japan se sendelinge se werk en lewens. Daar sal ook finale besluite geneem word oor ons as (Van der Watt) gesin se langer termyn vestiging en werksbenadering. Ons is amptelik deur twee gemeentes beroep, nl. RCJ Tokushima en Takamatsu, en die besluit oor watter een, moet nou geneem word. Vir hierdie belangrike besprekings het Missie Japan bestuur vir Gideon van der Watt en Elsabe du Plessis afgevaardig om ons in die tyd te besoek. Dis ook ‘n geleentheid om veral vir Carina emosioneel te ondersteun en die RCJ Tokushima Gemeente se Happy Kids kinderbediening se groei self te sien.
  • Op 23-24 vind die tweede Huweliksverrykings-seminaar in Kobe plaas. Tobie en Annalie lei dit, en ek en Carina kry ook geleentheid om die deelnemers te leer ken, veral met die oog op ons toekomstige bedieningsfokus.

Bid asseblief saam met ons

1 Thess 5:16-18 het ons weer in die afgelope tyd gehelp om te onderskei waarop om te fokus in ons hierwees: vreugde, dankbaarheid en afhanklikheid van God (gebed). Wees saam met ons bly en dankbaar oor die bg. geleenthede en ervarings, en bid asb. saam vir November se gesprekke en geleenthede wat fyn onderskeidingsvermoë en wysheid sal vra. Bid veral ook vir nuwe krag vir Tobie en Annalie wat binnekort uitgeput van die rampgebied sal terugkeer, en ook vir die Heilige Gees se seën op hulle afgelope ondersteuningswerk.

Ons waardeer en maak staat op jou volgehoue ondersteuning. Baie dankie!

Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk (ook namens die De Wets en Oliviers)

 

Comments (2)

VrydagNuus | NGK WelgemoedNovember 1st, 2012 at 12:38 PM

[…] by http://www.missiejapan.co.za/algemeen/nuusflits-31-oktober-2012/ vir meer foto’s wat die verhaal verder […]

[…] by http://www.mis Kry Sol Iustitiae artikels per epos | Get Sol Iustitiae articles via e-mail This entry was […]

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.