Nuusflits – 2 Sept. 2020

Wanneer die Japannese na iets uitsien, lui die spreekwoord (direk vertaal): maak jou nek lank en wag. Ons nekke is nou al ekstra lank van wag vir ‘n tikkie herfs ná ‘n uitgerekte en uitmergelende warm somer. En terwyl dié jaar begin kantel, strek ons ons nekke nóg ‘n entjie verder uit … in die hoop om iewers in 2021 ons voete weer in Suid-Afrika te sit, DV. Wag is nie altyd maklik nie, maar dikwels leersaam en goed – só is ons ook uit Psalm 42-43 herinner en bemoedig in dié dae.
Nuwe seisoen en kwartaal
Ná ‘n welkome tyd van verlof is ons al ‘n rukkie terug in die tuig. Ek sou oneerlik wees as ek sê dat ons verfris voel, maar die fisiese wegbreek – wat swem, kamp en ander uitstappies ingesluit het – was vir ons goed. Dankbaar! Intussen het ons weer bedieninge in die kerk en by KRTS hervat, al is dit steeds met noodsaaklike aanpassings, voorsorgmatreëls en regulasies in plek, i.t.v. Covid-19. Ons mis die vryheid om groter groepe mense aan huis te ontvang, maar probeer om op kleiner skaal deur gasvryheid steeds verhoudinge uit te bou. En ons wag ook hierin op die Here.
Digitale byeenkomste en ander werk
Die globale ‘nuwe normaal’ blyk vir die interim aanlyn ontmoetings te wees. Soos jy dit self seker ook aan die lyf ervaar, voel dit maar soms kunsmatig, maar ons pas aan. Ek woon deesdae al hoe meer vergaderings, gebedsbyeenkomste en konferensies aanlyn by. Selfs ons kinders se jeuggroep en somerkamp het só plaasgevind. Die uitdaging is om verbintenisse te verdiep al voel dit soms ontoereikend en meer emosioneel dreinerend. Ander werk vir sinodale en rings-komitees, jaarverslae, vertalings van korrespondensie, preke, voorbereiding van klasgee inhoud vir die nuwe kwartaal ens., gaan voort soos altyd. Carina is ook volstoom aan die gang met tuisonderrig.
Japan en die stigma van Covid-19

In ‘n onlangse vergadering met RCJ kollegas wentel die gesprek rondom die uitsonderlike sosiale druk op en verwerping van mense wat positief getoets word vir Covid-19. Groepsdruk en stigmatisering in ‘n eer-en-skaamte kultuur soos Japan, werk skrikwekkend goed. Een predikant vertel hoe twee tieners – wat onlangs binne enkele weke uitmekaar albei hul ouers aan die virus verloor het – ‘versoek’ is om die dorp (waar hy werk) te verlaat. Ons hoor soortgelyke stories by Japannese vriende en sien hoe TV-nuus, sosiale media ens. gebruik word om bv. ook besighede, instansies en Universiteit studente te laat padgee a.g.v. groep-infeksies (sg. clusters). Gevolglik toets mense hulleself eerder nie, want as hulle positief toets is die verwerping baie erger as net die uitslag van die toets!
Die kulturele gebruik van sistemiese uitsluiting bestaan al meer as vier eeue in Japan en staan bekend as Mura Hachibu(村八分). Dit kom neer op die straf (verwerping) van ‘n individu t.w.v. die groep se harmonie. Daar is lae en lae van sosio-kulturele betekenis verbonde aan dié ritueel om iemand uit te sluit. Gesien vanuit die evangelie, is die potensiaal van ware berou, vergifnis en versoening uiters relevant, maar dit word bitter min spasie gegun in ‘n samelewing met 1% Christene.
Baie dankie vir jou solidariteit in hierdie onstuimige tyd. Ons bly diep bewus van die reuse uitdagings in SA en leef in biddende verbondenheid met jou saam.
Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina en kinders
GEBEDSVERSOEKE
DANK DIE HERE SAAM MET ONS VIR:
- ‘n Geseënde somer verloftyd.
- KRTS studente wat landwyd kon voortgaan met internskappe tydens Julie-Augustus t.m.v. die Covid-19 uitdagings.
- Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.
VRA SAAM MET ONS VIR SY SORG EN GENADE VIR:
- Carina se gesondheid, tuisonderrig dagtake, omgee vir mense in ons omgewing ens.
- Stéphan se klasgee, preke, Zoom-vergaderings as deel van die RCJ se sinodale- en ringswerk.
- Ons kinders se groei (geestelik-emosioneel) en hulle vriendskappe hier.
- Elmar en Nadine Du Rand se Japannese taalstudies en Nadine se pa se gesondheid (hy is besig met rehabilitasie behandeling vir ‘n ernstige rug probleem).
- Gys en Linda Olivier se lewe en werk by SEIWA Christenskool in Kochi, Shikoku.