Nuusflits – 13 April 2022

Gemeenteleiers van RCJ Westelike Ring vergader in Kobe

Die RCJ (Reformed Church in Japan) Westelike Ring se 34 gemeentes vergader vandag, in Groot Lydensweek. Baie verhale en gebeure word gedeel. ‘n Jong nuwe leraar is aangestel by ‘n gemeente wat vier jaar lank moes wag om hom te kon beroep. ‘n Ander gemeente getuig van hulle pyn en worsteling na hul predikant se bediening gestop moes word omdat hy internet preke misbruik het. In sy plek kom ‘n nuwe leraar wat self deur erge swaarkry is a.g.v. (verbale) magsmisbruik in sy vorige gemeente. Maar hy getuig aangrypend voor almal van die Here se krag in sy broosheid en van sy terugkeer na ‘n jaar van diep geestes-ongesteldheid. Dan is daar ‘n gemeenteleier wat juig oor haar nuwe aanstelling as leke prediker nadat die pandemie haar bediening ontwrig het. En ‘n jong vrou wat vertel van haar werk onder studente op universiteits kampusse waar sy ruimtes skep vir jongmense om hulle geloofsvrae te deel.  

Verder vertel ‘n kollega van sy werk in ‘n geloofsgemeenskap wat sukkel om te oorleef, met net 20 lidmate ná 20 jaar van bediening deur 4 verskillende leraars wat baie golwe en uitdagings deurleef het. ‘n Ander kollega word binnekort deur ons ring uitgestuur as sendeling (met sy vrou en 4 kinders) na Hongarye, midde-in die tergende onsekerheid van die oorlogstryd wat voortsleep in Oekraïne. Hierdie inisiatief en roeping rig en verenig die RCJ (met ‘n totaal van 140 gemeentes) tans op ‘n unieke manier, deur gebed en konkrete ondersteuning. Nóu ter wille van wêreldsending en God se Koninkryk veel wyer as wat voorheen ooit gedroom is. Nog ‘n ander samewerkende sendeling word beroep na ‘n sukkelende sendingpos waar sy voorganger (hulle is albei van Korea) handdoek ingegooi het, ná baie jare van vasbyt. Dis nie ‘n doodloopstraat nie, maar wel ‘n nuwe begin met vars potensiaal. Soos wat die uitstuur van 12 gestuurde leraars – ‘n spesifieke kategorie van opgeleide leraars in die RCJ – na hulle onderskeie sendingposte, aan die einde van die ringsvergadering, kragtig bevestig het. 

Kerklike bediening en die werk van gemeente leraars / leiers is – wêreldwyd – vol slaggate en steil bulte, ook hiér in die Weste van Japan, waar atoombomme en aardbewings tot onlangs toe nog verwoesting gesaai het. Reuse rampe het die volgelinge van Christus hier onherroeplik verander. Maar dié swaarkry het ook volharding gekweek en die volharding, egtheid van geloof. Die resultaat is onbeskaamde hoop, al lyk die realiteit na mislukte menslike pogings. Die hoop vloei voort uit Godself, wat Sy liefde in ons harte uitgestort het deur die geskenk van die Heilige Gees (Romeine 5:3-5). Ons klein, veerkragtige gemeentes hier hou geduldig aan met getuig, bewus van ons feilbaarheid en broosheid, maar ook oortuig: die Here hou sy kerk self in stand. 

Met Paasfees om die draai is ons ringsvoorsitter se boodskap uit Lukas 22 meer werklik en nodig as ooit. Ons bly opstaan as ons val, want soos vir Petrus, tree die lewende Christus deur Sy Gees steeds onverpoos ook vir elkeen van ons in … “”Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister. Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.” (vers 31-32) Die opstandingskrag van Christus bring nuwe lewe in afgematte en kis gewerkte gemeente leiers. Daarsonder sterf die kerk uit. Daardeur leef ons voort, met verwagting, volharding en onblusbare hoop.

Ds. Yuzuru Kawase – ons nuwe sendeling na Hongarye – bedank die vergadering
Kampus jeugwerker vra vir ondersteuning
Gestuurde leraars word opnuut uitgestuur