Nuusflits – 1 Sept. 2018
Read this post in English by clicking HERE.
Bemoedig in ‘n nuwe seisoen
Wees gegroet uit ‘n kalmer en koeler Kobe …
Dodelike somer agter die rug
Met hittegolwe, vloede, tifone en aardbewings wat sedert middel Junie hul tol ge-eis het, hang die nadraai van alles nog soos ‘n donker wolk oor Japan. Op klein, maar betekenisvolle maniere het plaaslike kerke uitgereik en ingespring met ondersteunings-aksies. Natuur-rampe is nou amper nie meer die uitsondering nie, maar eerder die reël hier!
‘n Nuwe seisoen en ‘n vol huis
Intussen het ‘n nuwe seisoen en kwartaal aangebreek, en is ons lankal weer op volspoed wat werk aanbetref. Ons jaarlikse verlof was regtig geseënd, al sou ons graag meer fisies wou rus as wat moontlik was. Die verswelgende Japannese somers laat jou maar soos ‘n uitgewringde waslap voel, maak nie saak waar jy jou bevind in dié land nie.
Genadiglik het ons kort na ons terugkeer na Kobe, die groot voorreg beleef om Carina se ouers by ons aan huis te ontvang. Hulle teenwoordigheid, omgee, gebede, praktiese hulp in die huis en met ons kinders ens. bemoedig en troos ons diep. Hulle is hier vir 3 maande, basies t.w.v. ons ondersteuning, al was die aanvanklike plan ook dat langer sou kom en baie gemeentes sou besoek en bedien. Visum probleme het die planne gestuit, maar dis nie die einde van die storie nie! (Pa) Tobie vertel self meer, lees gerus hier.
Kerklike bediening en geleenthede (fokus: diakonia)
Einde Augustus het ek (Stéphan) die voorreg gehad om Kampen (Holland) te besoek om ‘n kort aanbieding te doen oor diakonale werk in Japan en SA n.a.v. onlangse natuurrampe. Die konferensie wat ek bygewoon het (met eie navorsingsfondse) was getiteld “Education, Formation and the Church”. Dit was ‘n goeie kans om kerklik-akademiese netwerke te verdiep, en heelwat te leer by nuwe gespreksgenote.
Verder het ek ook vroeg in September by RCJ Sonoda gemeente (naby Osaka) ‘n spesiale evangelisasie-diens gelei, en daarna ook kans gekry om meer te deel oor die NG Kerk se huidige rol in die uitdagings van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit was ook baie lekker en spesiaal dat (pa) Tobie kon bywees en iets van sy eie ervaringe kon deel in die verband.
Die volgende twee Saterdae (22 en 29 Sept) is ek genooi om vier lesings aan te bied oor die geskiedenis, asook die relevansie van diakonale werk in Japan en wyer. Ek leer baie in die proses, en is opgewonde oor wat die Here aan die doen is deur Sy kerk op dié terrein. Die volgende storie getuig ook hiervan …
Omgee-harte bring breë glimlagte
Nioma Venter van Diaconia Wes-Kaap is aan die woord:
Ek moet eenvoudig hierdie deel. In 2011 na die tsunami in Japan, bied ‘n klein gemeentetjie in Kumamoto ‘n veilige plek vir kinders wat getraumatiseer is deur die ramp. Sedertdien het hulle Saterdae ‘n uitreik na kinders. Met die droogte in die Wes Kaap, reik hierdie gemeentetjie met sy skrale 20 lidmate na ons uit. Ons konnekteer hulle met die gemeente in Frazerburg toe hulle ‘n dankoffer wil stuur om droogte te verlig. In die proses voel ons in ons kantoor by Diaconia, dat ons ietsie wil stuur vir die kinders van Kumamoto. Ons hekel toe beertjies. Elkeen het op sy ruggie ‘n rugsakkie met ‘n woordlose boekie wat die Evangelie in kleur oordra. Die beertjies is in Augustus op die vliegtuig gesit en vandag het ons hierdie fotos gekry! Dit is só kosbaar! (sien foto hierbo)
Ons bly afhanklik van jou gebede en ondersteuning (emosioneel en finansieël ook).
Baie dankie dat ons daarop kan staatmaak!
Vrede en seën,
Stéphan, Carina en die span in Kobe.
GEBEDSVERSOEKE
Asb. vir die Here se sorg en leiding m.b.t. die volgende sake:
- Gemeentes wat steeds uitreik in gebiede wat deur natuur-rampe getref is in die somer.
- Elmar en Nadine Du Rand wat ondersteuning werf in SA om as kandidaat-sendelinge te kom na Japan (vroeg in 2019).
- Ons kinders – Annlie (11), Cornelius (9), Lodewyk (6) en Stephan (4) – se geestelike en emosionele ontwikkeling.
- Carina se daaglikse voorbereiding en aanbied van tuisonderrig van ons kinders: dit bly baie veeleisend en uitdagend.
- Die De Wets se tyd in Japan – dat dit vir ons maar ook vir baie ander mense tot seën sal wees.
- Stéphan se klasgee, bediening in gemeentes, aanbieding van seminare (soos hierbo genoem), die voorbereiding en lewering daarvan.
- Ons betrokkenheid en rol by RCJ Kita Kobe gemeente waar ons eredienste bywoon, en bid oor hoe ons dieper in ons buurt kan dien en uitreik.
- Vir meer gebedsversoeke, lees ook hier.