Nuusflits: 1 Februarie 2022

Stéphan doop ‘n sentjiie by RCJ Tokushima gemeente, einde 2021


As gedeelde vreugde verdubbel, en gedeelde smart halveer, wat gebeur met gedeelde Corona?! Die afgelope week was dit ons gesin se beurt om uit te vind (saam met Carina se broer Nico en sy vriendin wat tydelik by ons oorbly). Ons was almal tegelyk redelik plat, maar is baie verlig om weer aan die gang te wees, al is dit nog bietjie wankelrig. Die sesde infeksie-vlaag is besig om ‘n piek te bereik in Japan, met 85000 nuwe gevalle vandag. Ons dien nog die laaste dae van verpligte isolasie uit, maar sien weer kans vir wat kom. Intussen werk ons aanlyn voort …
 
Vanjaar het eintlik op meer as net die virus se noot onstuimig begin vir ons klompie hier in Kobe. Die ander brander wat ons onverwags getref het, was die skielike bedanking van ons mede-sendelinge, Elmar en Nadine Du Rand. Lees meer daaroor hier. Dié nuus het ons diep getref en ons verwerk nog daaraan. Hierdie week moet dit alles ook, onder leiding van Missie Japan se bestuur, sorgvuldig verduidelik word aan ons Japannese kollegas.
 
Buiten die ontwrigting van die bogenoemde gebeure, kyk ons terug na ‘n betekenisvolle Desember-Januarie. Soos gewoonlik was dit nie ‘n stil tyd van die jaar vir ons nie. Die Corona knyp was ligter rondom Kersfees, wat meer ruimte gebied het vir allerlei ontmoetings. Ons het die koue verdryf met gesellige kuiers saam met vriende en familie, en die vreugde van Christus se koms gevier met koekies uitdeel, kerssangdienste, ballet-uitvoerings en veel meer. 
 
Vroeg in Januarie het die werk by KRTS op volspoed uit die blokke gekom. Dit is goed om weer intensief by die studente hier betrokke te wees. In die wyer kerk is daar ook op verskeie fronte nuwe inisiatiewe, te midde van die pandemie, of dalk juis as gevolg daarvan. Ek is dankbaar om daarvan deel te wees. 
 
Byvoorbeeld, die RCJ se diakonale werk het uitgekring na aktiewe ondersteuning van ons Christen broers en susters in die oorlog geteisterde Myanmar. Verder het een van ons kollegas en sy gesin in die Westelike ring waarvan ons deel is, ‘n roeping ontvang na Hongarye. Saam met Resonate Global Mission is ons besig om hulle skuif na Budapest later vanjaar haarfyn te beplan. Laas week was ek ook deel van ‘n ekumeniese vergadering met kerke in Nederland, wat ‘n lang verhouding het met die RCJ, en soek na geleenthede vir samewerking op ‘n breër vlak. Kortom: ons bly wyer kyk na hoe die Here globaal werk, terwyl ons ons gewig hier plaaslik ingooi. 
 
Ons sien ook uit om in die volgende maande aktief kontak te hou met ondersteuners, in opvolg van ons 2021 besoek aan Suid-Afrika. Laat weet gerus wanneer ons bv. ‘n WhatsApp oproep kan doen tydens ‘n erediens of by ‘n kleingroep geleentheid, of selfs een-tot-een. Ons maak graag so! 
 
Baie dankie vir jou volgehoue belangstelling en ondersteuning, dit dra ons.
 
Vrede en vreugde, 
Stéphan, Carina en gesin

DEEL HIERDIE NUUSFLITS DEUR HIER TE KLIEK


KRTS eindjaar afsluitingsete 
Geskenke uitdeel met Nico en Akari
Ballet by Kita Kobe Kersfees vir Kinders
Nuwe lidmaat gedoop by RCJ Kita Kobe gemeente
Kuier saam met vriende
By RCJ Tokushima gemeente

GEBEDSVERSOEKE

Bid asseblief saam vir die Here se sorg en leiding met:
1. Ons gesondheid en volledige herstel ná die Corona virus
2. Nuwe ritme en diepte in ons werk en bedieninge
3. Die keuring en toelating van nuwe studente by KRTS.
4. Wysheid vir die opkomende vergadering met Shikoku ring 
5. Die Du Rands op hulle nuwe pad, voortaan los van Missie Japan.