‘n Venster op Japan (17 Sept 2018)

 

Laat ons asseblief vir julle ‘n VENSTER OP JAPAN wees

Tobie en Annalie De Wet in Kobe, saam met jarelange Japannese vriende

Liewe Vriende en Voorbidders,

Vandag (Maandag 17 September) is presies 3 weke van ons 12 weke (3 maande) in Japan verby…

Die skok en teleurstelling met ons visums en die “verbod” om aan enige “godsdienstige aktiwiteite” deel te neem is min of meer verwerk, die uitmergende hitte van die somer is min of meer verby en Annalie se vreemde maagaandoening ook baie beter. Die afgelope drie weke was tog vir ons ‘n mooi, positiewe en vrugbare tyd saam met ons kinders en kleinkinders en saam met ons Japannese broers en susters.

Gister (Sondag) het ons hier by die plaaslike gemeente van Kita-Kobe (waar Carina lidmaat is) geluister na ‘n uitstekende preek deur die plaaslike leraar uit Handelinge 2 oor die kenmerke van ‘n Geesvervulde gemeente. In diepte vers-vir-vers Skrifuitleg met inspirerende toepassing. Ons is opgewonde oor die “nuwe” leraar, ds Nezu (die vorige een het so pas afgetree), sy mooi nederige gesindheid en sy deeglike voorbereiding en uitstekende Skrifuitleg.

More (Dinsdag) het ek en Annalie ‘n belangrike ete-afspraak by Osaka stasie (ongeveer 1 uur 30 minute per bus en trein van hier) met twee vriende uit Fukuoka, Kyushu (die Suid Eiland waar ons destyds 7 jaar gewoon en gewerk het), beide nie-Christene.

Ons is dankbaar om hier te wees en waardeer almal se belangstelling en gebede. Ons bly diep bewus daarvan dat ons hier is as gestuurdes en verteenwoordigers van Missie Japan en ons kerk in SA. Daarom kyk ons vorentoe na die res van ons tyd in Japan en vra onsself die vraag: Wat is ons rol gedurende hierdie tydperk?

Natuurlik, soos reeds duidelik beklemtoon is, is dit om te fokus op “sendelinge-versorging” van ons eie sendeling-kinders. Dit is ons groot voorreg en vreugde! Daaroor skryf Stéphan:

Ons glo dat dinge nie toevallig so uitgewerk het rakende die visum kwessie nie. Die Here se beskikking was anders as wat ons almal verwag het, maar dis goed so. Nou is daar meer geleenthede vir ons en (pa) Tobie en (ma) Annalie om mekaar se teenwoordigheid rustiger te beleef. Hulle hier-wees is nou op ’n dieper vlak bemoedigend, want hulle self kry ook kans om minder te skarrel, en meer bloot net te ‘wees by ons’. Soos min (of eerder waarskynlik geen) ander mense het hulle nou opnuut vir ons iets van die vleesgeworde Woord kom word. Al is dit net vir ’n tydjie, gee dit ons nuwe krag en bring dit troos, waarvoor ons uiters dankbaar is!”

Verder op ons program is betrokkenheid by die plaaslike gemeente (waar Carina lidmaat is), en by die Kweekskool (daaglikse bidure en “chapel-“dienste) en besoeke aan enkele ander gemeentes (Tokushima, Okayama, Otsu en Takarazuka). Terselfdertyd wil ons graag ‘n VENSTER wees waardeur julle saam met ons hier na Japan kan kyk en saam kan bid.

Buiten vir die wonderlike voorreg om in hierdie pragtige land en tussen hierdie besondere nasie, vir wie ons soveel bewondering en waardering het, te kan wees, saam met ons kinders en klein-kinders kwantiteit en kwaliteit tyd deur te bring en hulle te geniet, en Sondae eredienste in verskillende gemeentes te kan bywoon en opnuut die gemeenskap van ons Japannese broers en susters te smaak, wil ons graag vir julle ‘n “venster” wees op Japan aan die anderkant van die aardbol, die kerk in Japan en op ons sendelinge sodat julle dalk meer konkreet saam met ons kan bid vir.

1) die mense van Japan, die miljoene rondom ons wat totaal buite die kerk en sonder enige kennis van die evangelie van Jesus Christus is (99+% van die 127 miljoen), vir mense en harte wat hul geestelike behoefte en nood sal begin besef, ervaar en begin soek na die Waarheid, na die “sin” en “doel” van hul bestaan en lewe op aarde, na ware geestelike vervulling, na die Enigste Bron daarvan, die lewende God, ons Skepper-Vader en Jesus Christus, ons enigste Verlosser-Here. Kom bid saam vir die soewereine werk van die Heilige Gees (“Die wind waai waar hy wil…”) in hierdie land en tussen hierdie mense;

2) die Kerk van Japan, die klein groepie Christen-gelowiges, die klein gemeentetjies (van gemiddeld 30 lidmate) verspreid oor die hele land, ons broers en susters, vir geestelike herlewing, dat hulle, toegerus en vol van die Heilige Gees kragtige getuies van Christus sal wees teenoor hul nie-Christen gesinne, families, vriende, bure, kollegas, land. Kom bid saam vir hierdie klein minderheid Christen-gelowiges in ‘n oorweldigende nie-Christelike samelewing met soveel fisiese, sosiale en geestelike struikelblokke en uitdagings;

3)  ons sendelinge (Missie Japan sendelinge: Die van der Watt-gesin, die Olivier-gesin en die Du Rands op pad na Japan, asook die honderde ander sendelinge) wat daagliks woon en werk in hierdie veel-eisende samelewing, moeilike taal, vreemde kultuur, geslote volk gebonde deur hul godsdientige tradisies en materialisme. Kom bid saam vir ‘n intieme verhouding en onafgebroke wandel met die lewende Here Jesus, ‘n Geesvervulde lewe, ‘n groeiende roepings-besef, daaglikse selfverloenende gehoorsaamheid gedronge deur die liefde van Christus, bonatuurlike krag tot geduldige volharding te midde van soveel struikelblokke en teleurstellings (meestal deur gebrek aan sigbare vrug) en uitdagings, biddende en vaste vertroue op God en sy Gees om hulle te gebruik in die saai van die saad van sy Woord en om op Sy tyd die vrug te gebied.

Ons sal dus graag iets meer van die lewe en bediening van Stephan en Carina vertel en sporadies van die gemeentes, leraars, lidmate en kweekskool studente aan julle voorstel met die oog op meer gefokusde voorbidding.

Groete in Christus

Tobie en Annalie (uit Kobe, Japan)

 


 

Die onderstaande is slegs vir diegene wat belangstel om bietjie verder en dieper te lees en te verstaan oor SENDING en/of EVANGELISASIE in Japan “BINNE en/of BUITE” die kerk.

‘n Goeie vriend vra, veral ook na aanleiding van die “verbod” van die Japannese Immigrasie dat ons nie met ons “toeriste visum” aan enige amptelike godsdienstige aktiwitiete mag deelneem nie, oor sending- en evangelisasiewerk in Japan “binne die kerk” en/of “buite die kerk,” wat is prakties moontlik en toelaatbaar en hoe dit ons raak.

Ek probeer soos volg verduidelik:

Die vraag / opmerking oor sendingwerk (evangelisasie…) “binne en/of buite die kerk,” en wat is prakties moontlik, is ‘n belangrike vraag en om daaroor te dink en te gesels is goed vir onsself en vir ander om sendingwerk veral ook in ‘n land soos Japan beter te verstaan en beter te kan bid.

‘n Mens sou eerstens wou reageer en beklemtoon dat evangelisasie-werk eintlik meer buite die kerk as binne die kerk moet gebeur. Eintlik behoort diegene wat reeds “buite die kerk” ge-evangeliseerd is, nou “binne die kerk”  geestelik opgebou en toegerus te word vir hulle evangelisasie-werk “buite die kerk.” Soos seker in meeste sendingvelde werk dit egter nie so eenvoudig nie.

Sending- en/of evangelisasiewerk buite die kerk

Baie van ons is goed vertroud met sendingwerk in Israel onder die Jode. Mens kan ook kyk na sending in Moslemlande. Onsself het ook gewoon en gewerk tussen Moslems in PE. Ons het sendeling-kollegas, goeie vriende wat in Basra, Iraq onder Marsh Arabiere sendingwerk doen. Hulle werk basies “buite die kerk” dmv ‘n amper “sekulere diensorganisasie” en fokus op praktiese dienswerk en suiwer “vriendskap evangelisasie” met die klem op konkrete projekte van liefdesdiens en verhoudings- en vertroue bou.

Geleenthede om die evangelie “buite die kerk” direk in woord oor te dra is baie beperk en neem dikwels baie lank voordat dit gedoen kan word en dan met baie groot versigtigheid en sensitiwiteit. Nie noodwendig uit vrees vir jou eie lewe nie, maar uit vrees dat jy deure en harte eens en vir altyd mag toemaak eerder as “sagmaak.”

Dit is “harde” langtermyn sending/evangelisasie, dikwels met weinig onmiddelike of korttermyn sigbare vrug, wat geweldige geloofsvolharding, daaglikse selfverloening en baie gebed sowel as baie morele, geestelike en gebeds ondersteuning van Stuurders en Ondersteuners vra om nie moedeloos te word en op te gee nie. Dit is ook baie waar van sendingwerk in Japan.

Alhoewel ons in Japan volkome godsdiensvryheid geniet, geld dieselfde beginsel ook hier. Hier is die klem hoofsaaklik (uitsluitlik?) op”vriendskapevangelisasie” en verhoudinge bou.

Vir praktiese dienswerk gerig op Japannese se fisiese en materiele nood, soos in tweede en derde werelde (Iraq, Afrika, ander Asiatiese lande ens.) met duisende konkrete fisiese en materiele nood, is hier in Japan egter weinig, indien enige moontlikhede. Japan is in die volste sin van die woord ‘n Eerste Wereld land en nasie met bitter min sigbare fisiese behoeftes (behalwe natuurlik wanneer `n skielike ramp Japan tref, soos die tsunami van 2011, die groot Kumamoto aardbewings van 2016 en die groot reens en vloede van vanjaar). Normaalweg is Evangelisasie uit en uit eenvoudig die maak en bou van vriendskapverhoudinge en vertroue.

Selfs dit is nie so eenvoudig in Japan nie. Hier is wel volkome godsdiensvryheid, maar die Japannese kultuur, goddienstige agtergrond (godsdiens, kultuur en nasionaliteit/Japannese identiteit is in-een gemeng), Japannese samelewing, lewenswyse, Japannese se vol program elke dag van die week, hulle geslotenheid, psigiese ingesteldheid teenoor enigiets van buite, absolute klem op uniformiteit (almal moet dieselfde dink en doen en andersheid is ‘n euwel: “Die spyker wat uitsteek moet ingeslaan word!”) ens. ens. maak selfs vriendskap evangelisasie (om by mense uit te kom en goeie verhoudinge te bou) baie-baie moeilik en tydsaam. Toe ons in 1974 die eerste keer in Japan gekom het, is aan ons vertel: “In Japan there are walls everywhere, walls around the houses en walls around people`s minds…”

Japan word, met reg, genoem “die begraafplaas van sendelinge.” Die talle mure is net eenvoudig te hoog en te dik. Baie gee eenvoudig moed op en wyk uit na “makliker,” oper (toegankliker) en “meer vrugbare” sendingvelde, of gaan “huis toe.”

Sending- en/of evangelisasie binne die kerk

Dit is ons ondervinding dat werklike direkte evangelisasie eintlik eers “binne die kerk” gedoen word wat Japan betref. Buite die kerk bou ons verhoudinge en leef ons die lewe van Christene sodat ons vriende mettertyd agterkom ons (die Christene) het dalk iets wat hulle nie het nie. Ons nooi ons vriende gereeld uit na spesiale evangelisasiebyeenkomste “binne die Kerk” waar hulle iets van die gemeenskap van gelowiges, onderlinge liefde en warmte, die positiewe atmosfeer van die kerk ervaar, en ook blootgestel word aan die verkondiging van die Woord.

Vir ‘n baie lang tyd verstaan hulle weining van die inhoud van die prediking en is dit dalk meer die onderlinge verhoudinge wat hulle aantrek en weer laat kom. Wanneer hul belangstelling egter geprikkel is, word hulle uitgenooi om ‘n persoon-tot-persoon Bybelstudie te doen. Dit kan natuurlik normaalweg lank neem voordat so ‘n persoon gereed en bereid is om gedoop te word. Doop is ‘n geweldige groot stap vir ‘n Japannees met talle verreikende implikasies vir hom in sy gesin. Aan die anderkant is selfs die doop eintlik maar die eerste stap tot ‘n lang pad van dissipelmaking….

Binne of buite die Kerk?

Wat is die implikasies van bogenoemde vir ons drie maande in Japan met die verbod om by praktiese sendingwerk betrokke te wees veral dan binne die kerk met Woordbediening?

1) My persoonlike bediening in Japan was veral Woordbediening en daarvoor het ons ook hierdie keer gekom (‘n Hele program van prediking elke Sondag in verskillende gemeentes). Woordbediening was en is basies toegespits op die Christene om hulle in hul geloof te versterk, maar die hoogtepunt elke keer was en is wanneer in ‘n erediens ‘n nie-Christen (uitgenooi deur onsself, of aangemoedig deur ‘n Christen-vriend, of om’n ander rede) die kerk binnekom, soms selfs vir die heel eerste keer in sy/haar lewe, en aan die Woord blootgestel word.

Hopelik kry ek hierdie keer af en toe geleenthede om “binne die kerk” wel in ‘n groeteboodskap ook my persoonlike getuienis te lewer wat dalk vir ‘n “soeker” iets kan beteken. Daarvoor bid ons. Hier het elke saadjie, klein of groot, elke geleentheid, hoe gering ook al, ewigheids betekenis.

2) Ons beplande besoeke aan gemeentes was eintlik meer om ons broers en susters te bemoedig en te versterk, al is dit dan net om hulle te verseker dat ons hulle nie vergeet het nie en dat die Kerk in SA vir hulle bid. Dit as sodanig is natuurlik vir hierdie Japannese Christene van groot waarde, omdat die gemeentes bitter klein is en Christene baie ge-isoleerd is. Ons is dikwels in die verlede bemoedig deur die Japannese kerk met die woorde: “Net jul teenwoordigheid is al genoeg…” Hier by die Kweekskool waar ons bly, neem ons aan sommige Kweekskool aktiwiteite deel waar ons ook met die teologiese studente (toekomstige leraars) ontmoet en vir hulle kan bemoedig.

3) Vriendskap evangelisasie was in ons 20-plus jare ‘n integrale deel van ons “buite die kerk” bediening deur bv. Engelse klasse te gee, mense vir Kersfees en ander geleenthede na ons huis te nooi, goeie verhoudinge te bou en dan sulke mense dikwels na spesiale evangelisasie dienste “binne die kerk” uit te nooi. Met die groot tsunamie van 2011 was ons egter wel ook (vir die heel eerste keer van ons werk in Japan) intens betrokke “buite die kerk” by praktiese en konkrete “liefdesdiens” in die vorm hande arbeid van huise help skoonmaak ens.

NB: Vir vriendskap evangelisasie is permanente langtermyn woon onder mense absoluut noodsaaklik (Destyds toe ons in ‘n plek begin werk het, is die betekenisvolle vraag aan ons gestel: “Hoe lank beplan julle om hier te bly?” ‘n Opmerking wat bedoel dat indien julle julle nie langtermyn hier tussen ons vestig nie, kan ons julle nie regtig leer ken, vertrou en waag om op jul boodskap te reageer nie….). Dit is wat voltydse sendelinge kan en MOET doen. Daaroor is ons baie realisties. Ons kan maar net ons sendelinge en die kerk se hande probeer versterk op ‘n baie geringe manier gedurende ‘n kort tydjie hier. Dit geld natuurlik basies vir alle korttermyn uitreike.

Wat ons wel reeds beleef het, is dat van ons nie-Christen vriende van vorige jare reeds met ons gekontak het en ons besoek het en/of wil besoek. Dit bied verdere geleenthede om “buite die kerk” uit te reik en voort te gaan om saadjies te saai en nat te maak.

4) Soos, a.g.v. die visum-verbod, besluit is dat ons ons moet toespits op “sendelinge-versorging,” beskou ons hierdie eksklusiewe taak gladnie as gering nie. Inteendeel, dit is ‘n uiters nodige en noodsaaklike deel van die kerk se sendingtaak, naamlik om die sendelinge wat ons uitstuur, teen geweldige finansiele koste en fisiese opofferings, gereeld en deeglik te versorg op alle moontlike maniere —- gebed, finansies, besoeke, praktiese hulp en bystand, berading, bemoediging, ens. ens. —- om te verseker dat hulle nie ook net nog ‘n sendeling-“ongeval” word nie.

Ons het self destyds ons eie veral geestelike en emosionele behoefte aan sulke versorging akuut ervaar (en gemis) en ons sien dit nou opnuut in die lewens van ons sendeling-kinders. Ons hoor en lees dit ook gereeld van ander sendelinge.