‘n Spesiale koffiewinkel in Tokushima – Gideon vertel
Koffiewinkel in Tokushima
Vanuit Suid Afrika, ons land met groot, oop en leë ruimtes, is ons op besoek aan Japan. Dis ‘n vol besoek, vol ontmoetings, onderhandelinge en ‘n paar moeilike besluite. Dis vermoeiend, want telkens moet alles vertaal word totdat elke woord tot in die fynste woordspeling begryp word. Japan is ‘n vol land, vol mense, motors en elektrisiteit. Die enerse geboue staan ry op ry, ingeryg soos stringe krale. Hulle word aanmekaar vasgebind deur kabels wat onderdeur en bo-oor die strate loop, kabels waardeur woorde en beelde en energie heen en weer vloei. Dit vul die hele stadsruimte, tot oorlopens toe.
Ons vriende wat in Tokushima woon en werk neem ons na ‘n koffiewinkel aan die rand van die stad. Dis ‘n koffiewinkel met boeke, jy kan daar gaan sit en lees, vertel hulle. Deur benouende kronkelstate ry ons tot teenaan die berg langs die stad. Ons soek stilhouplek en kry ‘n klein parkeerarea, spesiaal vir die koffiewinkel se gaste. Ons parkeer agterstevoor, soos mense maar maak in Japan. Is dit spesiaal so om die weggaan makliker en vriendeliker as die aankoms te maak? Langs die parkeerarea staan groente en kruie geplant, met spatsels kleur van blomme tussenin – alles ineengevleg in ‘n klein en oor-vol tuintjie.
Die koffiewinkel lyk van buite na ‘n gewone huis, soos al die ander, met kenmerkende Japannese dak en voordeur. In die voorportaal trek ons eers skoene uit – ‘n ou gebruik waarmee respek betoon word. Dit herinner jou dat jy nou iemand anders se ruimte betree, ‘n ruimte waarin jy maar net die gas is. Ruimtes, besef jy, is nooit leeg of neutraal of sommer net nie. Ons leef in ruimtes, ons haal asem en deel ruimtes met ander, binne ruimtes tree ons in verhoudinge. Ruimte definieer verhoudinge en word daardeur definieer. Ruimtes is verwelkomend en gasvry of onvriendelik en uitsluitend.
Vanuit die voorportaal kom ons in ‘n leeskamer, met rakke vol boeke. Rak op rak, selfs op teen die trap wat na die bovertrek lei. Tussen die rakke staan een van die tuin se blomme uitgestal, sorgvuldig gerangskik in ‘n pragtige pot. Dit staan op die regte plek sodat lig uit ‘n venster mooi daarop kan val. Die boeke op die rakke is ook netjies en presies gerangskik – dit lyk na ou en kosbare versamelings. Boeke vol antieke kennis oor plante, diere, mense en hulle oorloë, stede, letterkunde, kuns en kultuur en dalk ook ou gelowe. Dis ‘n hele kamer gevul met kennis en wysheid. Vir my is dit egter alles vreemd en ontoeganklik. Ek voel vir ‘n oomblik uitgesluit, ‘n blote besoeker wat maar net die boeke van buite kan bewonder, terwyl ek bly wonder oor die inhoud daarvan. Hoe sal ek ooit, sonder die vaagste benul van die taal en kennis van die konteks en tydsraamwerke, iets van die diepte en hoogte en breedte van hierdie kulturele erfenis kan peil?
Ons kom die bovertrek binne, waar die koffie bedien word. Dis ‘n kleinerige kamer, met enkele tafels en stoele van hout. Iemand sit rustig by een van die tafels en lees, maak nou en dan aantekeninge. Ons gaan sit by ‘n toonbank wat op die berg uitkyk. Ons kyk deur vensters in netjiese houtrame. Die bome van die berg kom tot teenaan die vensters. Die ruite is silwerskoon. Die groen skakeringe van blare is helder en blink na die reën. In die bome fladder daar ‘n paar voëls. Dit voel asof die klein ruimte van die vertrek uitloop op die berg met bome, asof dit deel van die berg en bome word. Die koffiewinkel word die berg, die bome en die voëls. Ons stoot die vensterraam oop. Die geure en klanke van die berg kom die vertrek binne. Ek haal diep asem.
In die kombuisgedeelte van die vertrek werk ‘n man en vrou stil en onopvallend. Ek neem aan hulle is die eienaars van die winkel. Vriendelik neem hulle ons bestellings. Hulle sit sagte musiek aan, wat die vertrek saam met die geur van vars koffie vul. Die kaaskoek is heerlik, bekend, net soos dit by die huis ook gemaak word. Hierdie taal van gasvryheid word begryp: “Ons geniet dit, baie dankie”, beduie ek vir ons gasheer en gasvrou met ‘n kopknik en ‘n glimlag. “Dis lekker om julle gaste te wees”.
Die koffiewinkel word ‘n stukkie ruimte in die stad waar geure en kleure, klanke en teksture ‘n vreemde laat tuiskom, waar aanvoeling en belewenis uitstyg bokant die onbegrip van taal, en waar gasvryheid en openheid duidelik kommunikeer word – meer as wat woorde ooit kan vermag.
Op hierdie plek, in hierdie ruimte, in die klein koffiewinkel op die rand van Tokushima, kan ek nie anders as om oor ‘n paar vrae te peins nie: Miskien moet ons die misterie van God minder probeer vasvang in die taal van woorde? Moet ons dit nie dalk meer leer beleef, ons meer laat verras deur God se teenwoordigheid in die klanke en kleure, die geure en teksture binne die ruimtes van ons saamwees nie? En, is dit nie juis ook ons diepste lewensdoel , om die ruimte wat ons geskenk word, binne die wye omhelsing van ons liefdevolle Vader, dankbaar te geniet en met ander te deel nie?
Ons vertoef ‘n rukkie in die koffiewinkel voor ons weer die stad inry. Ons is ryker, met meer ruimte binne in ons as toe ons daar aangekom het.
Gideon van der Watt (Mei 2010)
Lieflik! Ek het sommer gevoel dis soos mens moet koffie drink. Dankie!