‘n Geseende reis na Suid-Afrika – Miwa vertel
‘N GESEëNDE REIS NA SUID-AFRIKA
Ek loof die Here se Naam. En ek sê dankie vir julle gebede. Ek het op 20 Augustus veilig in Bloemfontein arriveer, en is regtig baie verskuldig aan ds. Gideon, wat ‘n groot taak in Japan verrig, se familie. Dit is nou reeds meer as drie weke. Ek is gesond en is elke dag baie geseënd.
My lewe in Suid-Afrika
Na ‘n lang reis van 26 uur was ek bra onrustig want ek kon maar net in swak Engels kommunikeer. Maar ds. Gideon se vrou en sy sekretaresse Aldoret het vir my ‘n warm verwelkoming gehad en my ook die Suid-Afrikaanse gesegde “Don’t worry, Be happy, Eat Mango!!”, geleer, en ek was verlig. Ek het vir ‘n kort rukkie gerus, en dit toe geniet om ‘n bietjie die wêreld te besigtig, kerke te besoek en met die mense van Bloemfontein sosiaal te verkeer. Bloemfontein se mense is baie vriendelik en altyd besig om grappies te vertel. Ek het die voorreg om die warmte en rykdom in mense se harte persoonlik te beleef. Dit is nie asof Suid-Afrikaners baie vrye tyd het om met ander mense om te gaan nie. Om die waarheid te sê, Suid-Afrikaners werk baie hard en is besig, selfs ook in hulle privaat lewens. Maar die gewoonte om ander mense te waardeer is diep gewortel in hulle kultuur, en alhoewel hulle besig is, het hulle die gawe om tyd te maak om die gemeenskaplikheid van tee drink of eet saam met familie, vriende en medewerkers ten volle te geniet. Hulle noem dit “KUIER” in Afrikaans.
God het vir my ‘n wonderlike helper gestuur kort na my aankoms in Suid-Afrika. Dit was die (onverwagse) ontmoeting met ds. Mino van Tokyo Oncho (Grace of God) Kerk en sy vrou Mareta, wat ook by ds. Gideon aan huis oorgebly het tydens die 10de Internasionale Kongres oor Calvyn-navorsing (wat by die Vrystaatse Universiteit te Bloemfontein gehou is). Ek kon saam met hulle op besigtingstoere gaan, uiteet en by die Universiteit besoek aflê, en ek kon hoor van die noue en geskiedkundige bande tussen die Reformed Church in Japan en die NG Kerk oor die Suid-Afrikaanse kultuur, die agtergrond van die maatskaplike probleme en die Suid-Afrkaanse lewenswyse in detail. Hulle het dit alles vir my in Japanees verduidelik!! Ek was verstom oor die wonderlike tydsberekening hiervan, en het die grootheid van God se Plan beleef. Ek was huiwerig om staat te maak op die hartlike gasvryheid en vriendelikheid van die Suid-Afrikaanse mense, maar die woorde van ds. Mino, “As jy versorg word, moenie sleg voel daaroor nie, maar aanvaar alles met dankbaarheid. En in die toekoms doen jy weer wat jy kan vir andere”, het my houding verander, sodanig dat ek die seëninge van God wat Hy deur mense op my uitstort, aanvaar.
Die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) in Suid-Afrika
Ek het daarvan gehoor, maar nou sien ek vir myself die rykdom van verskeidenheid van die NGK-familie in Suid-Afrika. Afhangend van die plek is daar verskillende rasse, mense se lewenswyses verskil, hulle ouderdomme verskil, en hulle het verskillende maniere van aanbidding. In Suid-Afrika is dit vanselfsprekend, maar ek word elke keer daardeur verras. Daar is ‘n kerk waar ‘n klomp jongmense bymekaarkom, en hulle aanbid op ‘n manier genaamd “Tekkie”-kerk. Hulle aanbid met ‘n volle musiek-“band” en die boodskap word op ‘n redelik gemaklike en ontspanne manier gebring. Dan is daar ‘n kerk waar die boere op die platteland bymekaarkom en op ‘n meer tradisionele wyse aanbid word. Daar is ‘n kerk waar mense met musiektalent bymekaarkom. Daar is kerke waar die mense finansieël arm is, maar mense kan goed kook. Ek dink dat, volgens die verskille van mense se gawes, werk God op baie verskillende maniere. En volgens die plek van die gemeente, en die behoeftes van die kerk, word die kerk hervorm. Ek wonder wat is nodig vir ‘n kerk om te groei en ontwikkel op so ‘n wyse dat dit volgens God se Wil sal wees? Ek sien uit daarna dat die Here my in hierdie drie maande deur middel van verskeie ervarings sal onderrig.
Basiese Kursus in Kinder-evangelisasie
Op 30 Augustus het my werklike leerkursus begin. My dosent, Annemarie, gebruik die materiaal oor Kinder-evangelisasie van Petra-Kollege en evangeliseer kinders op verskeie plekke. Sy geniet hierdie werk met haar hele hart en offer haar lewe op in diens van God. Sy doen dit deur haar bediening in die kerk waarvan sy ‘n lidmaat is, sowel as deur evangelisasie van arm kinders in swart woongebiede en deur leiding te gee aan ander mense wat besig is met kinder-evangelisasie. In haar besige program het Annemarie my baie dinge geleer.
- Die belangrikheid daarvan om jou verhouding met God en jou verhouding met andere te deurdink.
- Die belangrikheid om ‘n verhouding van wedersydse vertroue met die kinders te bou.
- Hoe om te kommunikeer deur speel-aktiwiteite en deur stories te vertel.
- Dinge van belang as jy ‘n boodskap uit die Bybel deel.
- En deur in-diens-opleiding (veral in woongebiede) waar ons al drie keer besoek afgelê het, waar baie kinders bymekaarkom en na die Evangelie luister, met hulle hele hart in Jesus glo, en selfs geestelik groei. Al is hulle ekonomies arm, lag hulle baie, luister met blink oë na die Evangelie, en het groot drome vir die toekoms. Om sulke kinders te leer ken het ‘n diep indruk op my gemaak. Hulle ken die werklike betekenis van die rykdom van die hart.
Kerkbesoek in Pretoria
Moreleta-Park NG Kerk in Pretoria is ‘n reuse kerk met 15 000 lidmate, wat soos ‘n lughawe daar uitsien. Hulle is ook baie aktief met kinder-evangelisasie. Riana, wat voltyds daar werk, gebruik haar 30 jaar se ondervinding in Sondagskool-onderrig om programme en handboeke saam te stel – met die oog op die evangelisasie van babas tot voorskoolse kleuters. In die anneks van die kerk, spesiaal vir jong kinders gebou, studeer jaarliks 600 kinders in ‘n goedvoorbereide omgewing sodat daar verskillende klasse volgens die ouderdomme van die kinders kan wees, en hulle dit kan geniet om van die Bybel en Jesus te leer.
Ekself was nog altyd betrokke by Sondagskool vir voorskoolse kinders, en het nog altyd gedink dis moeilik vir babas en voorskoolse kinders om die Evangelie te ontvang. Maar ek dink dit was vir my ‘n groot seën om te weet dat die Krag van die Heilige Gees ook oorvloediglik in sulke kinders besig is en dat selfs hulle Jesus kan leer ken, en om te weet dat dit belangrik is om ook aan hulle die Evangelie te bring.
Mense wat Missie Japan ondersteun
Gedurende my verblyf in Bloemfontein is ek na verskeie kerke, huise en selgroepe genooi, en is ek die geleentheid gegun om te vertel van Tokushima Kerk en om my eie getuienis te lewer. Ek kon leer dat ‘n kerk groei deur die stuur van sendelinge, deur die werk van die sendelinge te geniet asof hulleself daar werk, deur opreg te bid en deur die werk te ondersteun. Ek dank hulle daarvoor. En ek het God gedank dat Hy hulle ‘n hart gee vir die ondersteuning van die Evangelisasie van Japan.
My planne vir nou: Ek trek aan die einde van September Pretoria toe. Dan gaan ek vir ongeveer ‘n maand Witrivier toe om van 2 Oktober aan Petra-kollege te studeer. Dit sal goed wees as julle my in julle gebede onthou. Kontak my asb. by : miwatera1016@hotmail.co.jp
Terauchi, Miwa
12 September 2010
[…] nuwe mense te ontmoet, dinge te leer en sommer net om die pragtige tuinroete te geniet. Lees gerus die nuusbrief wat sy vroeër geskryf het (dis nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar – baie dankie […]
[…] net om die pragtige tuinroete te geniet. Lees gerus die nuusbrief wat sy vroeër geskryf het by http://www.missiejapan.co.za/algemeen/n-geseende-reis-na-suid-afrika-miwa-vertel/ (dis nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar – baie dankie Loretta de Bruin vir jou […]
[…] en liefde deel. Met 20 mense in ‘n knus vertrek of twee het ons ‘n feestelike saamwees geniet. Miwa (wat onlangs terug is uit Suid-Afrika) het ook ‘n waardevolle kans gekry om ‘n paar nuwe mense […]
[…] vir elkeen wat getrou bly bid vir Nobuo (Terauchi) – dit maak ‘n verskil! Sy suster Miwa het onlangs ‘n kort briefie geskryf oor sy merkwaardige herstel sedert sy ernstige beroerte vroeg […]
[…] oor Miwa se besoek aan Suid-Afrika is by http://www.missiejapan.co.za/algemeen/n-geseende-reis-na-suid-afrika-miwa-vertel/ – lees gerus daar […]