Missie Japan Nuusflits – 18 Maart 2022

Graadvang beteken altyd baie meer as die ontvang van ‘n akademiese kwalifikasie. Dis ‘n lang reis van saam verras word, saam moeg word en stilstaan langs die pad, saam worstel en groei. Dit gaan oor ‘n integrasie van leer en lewe. Daar was botstil dae (soos by verlede week se plegtigheid), maar ook stormdae (soos met dié groep studente se inhuldiging in April 2018). Só sit ek en dink terwyl ek sien hoe sewe studente ná 4 jaar van harde werk met dankbare harte hulle pad by KRTS voltooi. Dis die sewende keer dat ek die voorreg gehad het om hiervan deel te wees … ‘n klein entjie se saamstap by dié sewentigste gradeplegtigheid van die RCJ kweekskool se geskiedenis. 

Uitgestuur om te dien
Ons dekaan, Prof. Takashi Yoshida deel – saam met ons almal se gelukwense – ook ‘n kort boodskap uit Romeine 9:19-23 met die afgestudeerde studente. Hy herinner hulle – voortaan voltydse bedienaars van die Woord – aan hulle brose identiteit as kleipotte in God se hand (soos Paulus dit beskryf in 2 Kor. 4). Die realiteit van hulle studietyd het o.a. hulle betrokkenheid as ramp-vrywilligers ná 2018 se vloede, en natuurlik 2 jaar van Corona omstandighede ingesluit. Paulus se pad was vol lyding en swaarkry as brose kleipot (Hand. 9:15-16), en die sewe nuwe leraars moet dit ook te wagte wees in hulle onderskeie bedieninge wat nou begin. 

Daarom is Prof. Yoshida se aanmoediging eenvoudig: 

  1. Hou nederig jou eie broosheid, swakheid en tekortkominge altyd voor oë. Jy is nie meer as ‘n breekbare kleipot in God se hand nie. Maar onthou ook: God het groot geduld (ontferming) met jou en sien jou aan in genade, nie in veroordeling (toorn) nie (Rom. 9:22). Jy is immers die Here se kleipot. Daarom is jy van groot waarde, omdat God die voorreg om Sy evangelie te deel, aan jou toeken.
  2. Wees heelhartig getrou aan die Here wat jou as kleipot gebruik in sy diens. Die agtergrond van hierdie oproep is uniek aan die RCJ se pad in Japan, wat presies tagtig jaar gelede gelede begin het (Maart 1942), midde-in die Tweede Wêreldoorlog. KRTS moes (as vorige kweekskool onder ‘n ander naam) – t.w.v. die suiwer verkondiging van die evangelie – wegbreek van Japan se Shinto regering, wat ons voorgangers wou inforseer onder ‘n Shintoïstiese bestel. Onthou daarom, sê Prof. Yoshida dat ons as dosente steeds toegewyd werk om teologiese opleiding nie af te water of vermeng in ‘n multi-godsdienstige opset nie. Julle as RCJ leraars word daarom geroep om toegewyd getrou te bly aan God en die Bybelse getuienis in hierdie uitdagende, verwarrende tyd.
  3. Onthou dat die evangelie waarvan julle moet getuig, ‘n evangelie van ontferming is. Net soos God se deernis julle as breekbare kleipotte omvou, só word julle gestuur om ‘n evangelie van genade en deernisvolle liefde uit te dra. Nie die Here se toorn nie. Gaan dan en wees draers van hoop en vrede vir dié wat smag daarna in hierdie dae van stryd, angs en wanhoop.  

Nuwe pad vra volharding binne gebroke realiteit 
Dié boodskap aan die afgestuurdes verklank die behoefte aan diep, standvastige lering in ‘n land vol godsdienste, sektes en filosofieë wat mense soos dryfsand probeer insluk. Om daarvan deel te wees is ‘n voorreg en reuse geleentheid as gestuurde sendeling hier in Kobe. Ek het die diepste respek vir elke student se unieke verhaal van reuse opoffering, toewyding en ware integriteit. Hulle het my dikwels geïnspireer en ek wens ek kon een vir een hulle verhale vir jou vertel …   

Bid saam met ons vir hulle wat nou oppad is na gemeentes wat swaar getref is deur die pandemie en sukkel om te oorleef. Mag hulle ‘n lewegewende verskil maak op die lang en eensame pad van kerklike bediening in Japan. KRTS se gange is ook meer leeg met hulle vertrek en die effek wat bv. reisbeperkinge gehad het op die inname van nuwe studente (veral ook uit Korea). 

Maar ons staan vas, al is die uitdagings groot en die getalle min. Die diepte en kwaliteit van wat ons hier doen, is deurslaggewend. Niks is immers ook vir God onmoontlik nie, soos een van die studente getuig het dat Markus 10:27 van kleuterskool se dae af sy lewenskompas was. Dié student het – nadat hy voor sy koms na KRTS beide sy ouers en broer aan die dood afgestaan het – stoksielalleen hier aangekom. Maar by die gradeplegtigheid was daar ‘n skare mense wat God die afgelope jare om hom opgerig het (o.a. sy stralende jong Christen vrou). God was inderdaad getrou! 

In herinnering en hoopvolle verwagting
Die wonde van die drie-dubbele ramp van 11 Maart 2011 (ook bekend as 3.11 in Japan) is laasweek Vrydag in herinnering geroep. Daar is steeds, ná elf jaar, enkele RCJ vrywilligers (o.a. ‘n Koreaanse sendeling kollega) wat betrokke bly by ramp-geteisterdes. Bid saam met ons dat die getuienis van omgee en uitreik oor die langtermyn vrug sal dra. Eergister was daar weer ‘n sterk aarbewing in dieselfde area (Noord-Oos Japan). Wat kan ons sê!? Woorde ontbreek, maar Psalm 46 se getuienis bly my by … God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. 

En in dieselfde asem … mag die tweede deel van die Psalm, soos soveel kere in die geskiedenis, nou opnuut in die Oekraïne oorlog waar word: Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur. Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

Met die ewigheid in ons harte
Eers as ons dit opnuut erken, word ons getroos en bemoedig deur die woorde van Jesus wat sy dissipels herinner i.v.m. hulle vrese oor die ‘eindtyd’, om “nie verskrik (beangs) te word nie”. Dan begin ons om die wêreldgebeure van vandag te verstaan as deel van die “geboortepyne, die begin van die nuwe tyd”. Die ‘nuwe tyd’ was reeds toe vir die dissipels geldig en is steeds nou vir ons ook relevant. Al weet ons (gelukkig!) nie wanneer die ‘laaste dae’ aanbreek nie, het God self in ons harte ‘n besef van die ewigheid geplant. Ons is anders as alle ander skepsels, maar steeds kan ons God se misterieuse werk nie volledig begryp nie (Pred. 3:11) . Ons deernisvolle Here weet (genadiglik!) mos dat ons net van stof gemaak is (Ps.103).

Kom ons vertrou onsself rustig toe aan die Een vir wie ‘n duisend jaar soos een dag is (Ps. 90 en 2 Petr. 3:8). Laat ons juis daarom vredevol volhard in die wete dat die “evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” (Matt. 24: 3-14)

Ons het nog werk om te doen. Getuienisse om te deel. Diens om te verrig. Enduit, tot Christus finaal kom. OF tot ons hoor: “Word weer stof!” (Ps. 90)

Met diep waardering vir jou volgehoue betrokkenheid en ondersteuning hierin.
En in solidariteit en verbondenheid met almal wat ly in die Oekraïne krisis.

Vrede en vreugde, 
Stéphan, Carina en gesin

Afskeidsgeleentheid vir finalejaar studente en hulle gesinne
Gelukwensing ná die gradeplegtigheid
Een afgestudeerde, sy gesin en ondersteuners
Carina en Annlie saam met vriendinne by die afskeidsaand

GEBEDSVERSOEKE

Dank die Here saam met ons vir

  • Annlie se onlangse geloofsbelydenis as deel van RCJ Kita Kobe gemeente
  • Ons gesondheid en krag aan die einde van die akademiese jaar (Maart)
  • ‘n Nuwe leraar (ds. Nishibori) en sy gesin (vrou Yōko en seun Hikaru) wat in April by ons gemeente begin bedien

Vra vir die Here se sorg en voorsiening in

  • Meer geleenthede vir ons kinders (wat groei soos bamboes lote!) se sosiale interaksie
  • Carina se voltydse tuisonderrig, Japannese studies, kerklike en KRTS bediening ens. 
  • Stéphan se aanbiedings by RCJ Sinode Diakonale Aksie Komittee, asook opkomende preek geleenthede (27 Maart by RCJ Kita Kobe) en vergaderings van die RCJ Westelike Ring asook as deel van die Raad van Seikeikai Welsynsorganisasie vir Gestremde persone in Hiroshima ens.
Annlie ontvang blame by Ds. Nezu ná haar belydenis aflegging
 Ná die winter maak ons die grond gereed om gras te plant
 Cornelius (regs voor) ná sy onlangse rugby wedstryd
Stephan is trots op sy selfgemaakte dis!