Lydenstyd-flits 26 Febr 2020

Ek hoop dit gaan goed by jou op hierdie Aswoensdag.
Dit gons oral oor die Corona-virus, verál ook hier in Japan, en in naburige Korea. Heelwat groot sport byeenkomste is onlangs gekanselleer, en selfs die Tokyo Olimpiese Spele se voortgang kan blykbaar in die gedrang kom. Vandag is ons eie KRTS se twee-jaarlikse toer na ‘n kweekskool in Suid-Korea (wat in Maart sou plaasvind) ook van die baan af. Maar buiten al die gebeure, deel ek graag in die nuusflits meer oor die Japan-Korea verhoudinge in ons midde. Vandag se begin van lydenstyd het my hieraan herinner.
Koreaanse invloed toenemend sterker in Japan
Ons het pas 4 nuwe studente gekeur wat in April (die begin van ons akademiese jaar) hulle teologiese studies hier gaan begin of voortsit. Almal van hulle is Koreane.
Toe ek twee jaar gelede ons Japannese studente kon vergesel na Korea vir ‘n kort besoek, het my oë opnuut oopgegaan vir die geskiedenis van onderdrukking en kolonisasie (1910-1945), van Japan teeoor Korea. Die boeiende uitstallings by die Independence Hall in Cheonan was gevul met grafiese beelde van afgryslike magsvergrype. En dis nie baie lank gelede nie …
Wanneer ek klasgee by KRTS is dit meestal vir Japannese studente, maar die afgelope jare het die Koreaanse invloed sterk toegeneem. Nie net in klasse of eredienste is dit waar nie, maar ook in ons eie huis kom speel daar amper daagliks – buiten Japannese maats – Koreaanse maats met ons kinders. Hulle is deel van die studente-families wat hier in die KRTS koshuis woon, en dis altyd fassinerend om te sien hoe die Koreaners en Suid-Afrikaners in Japannees kuier! Maar tussen die Koreane en Japannese is dit nie noodwendig altyd maklik om oor die weg te kom nie, gegewe hulle diep verdeelde, pyn-belaaide geskiedenis.
‘n Kerk wat taan in Korea?!
Daar is baie redes hoekom Christenskap en kerke begin swaar trek het in (Suid-)Korea die afgelope twee dekades – . Toe ek in Cheonan was het ek eerstehands gehoor van die uitdagings van toenemende sekularisasie, druk op Christene om nie hulle geloof vryelik te deel nie, probleme rondom, sektes met messiasfigure, magsbehepte leraars wat mega-kerke tot ondergang gelei het ens.
Enersyds het ek gehoor van jong mense se apatie teenoor die kerk, maar andersyds ook beleef hoe honderde teologiese studente driftig uit-die-hart uit bid en baie dinamies hulle geloof uitleef. Op ‘n radikaal anderse manier as ons Japannese jeug, d.i. met ondubbelsinnige uitdrukking van emosie en openlike oorgawe aan God – iets van die charisma wat ‘balans’ bring in hulle meer rasionele en besadigde Japannese broers en susters se midde, hier in Kobe. In kort: die Japannese het die Koreane nodig!
‘n Spiritualiteit wat vrugdra uit pyn
Verder het ek ook tydens die 2018 besoek kennis gemaak met ‘n groep kinders wat uit desperaatheid om te oorleef, van Noord-Korea gevlug het na Suid-Korea. Meeste van hulle het maande lank in die berge weggekruip en net-net oorleef met blare uit die veld. Die kweekskool wat ons besoek het, het daarom ’n skool begin, en sorg nou vir dié einste weeskinders, totdat hulle dalk eendag op hulle eie kan klaarkom en op ’n manier ’n nuwe lewe kan begin daar. Want as hulle ooit sou terugkeer, sal hulle nooit weer die lewenslig sien nie.
Ek sou nog veel meer kon vertel, maar volstaan eers hierby: die Suid-Koreaanse Christene en albei hierdie Koreaanse nasies kén lyding en pyn! Dis die harde grond waaruit hulle volhardende geloof en inspirerende toewyding aan God gebore is. Daar is geen nasie wat pro rata meer sendelinge as hulle uitstuur in die wêreld in nie. Dit spreek vanself!
Stuur my na plekke sonder kerke, asseblief
Een van die mooiste dinge wat ek sien gebeur by KRTS, asook in die wyer RCJ, is versoenende rol van Koreaanse sendelinge in Japan. Hulle blote teenwoordigheid en bereidheid om in Japan – hulle aartsvyand – te dien, is tekenend van Christus se versoening, vergifnis en genesing. Hulle tree op as bedienaars van die versoening. Want, daar is net een liggaam van Christus. Vandag – Aswoensdag – se leesrooster teks uit 2 Korintiërs 5:18-21, was daarom tydig.
Dis t.w.v. die bediening van dié versoening wat een van ons nuwe jong studente na Japan gekom het, vertel hy opgewonde in die keurings-onderhoud laasweek. Hy, wat grootgeword in ‘n Koreaanse mega-gemeente met amper 20 000 lidmate, só sê hy, het diep bewus geword van hoe ‘oorbodig’ hy is. En dat die Here hom veel beter kan gebruik om kerkplanting te doen in Japan. Hy is pas getroud en hy en sy vrou het pas ingetrek in ‘n leë kerkgebou in Tokushima, op die Japannese platteland. Daar is geen lidmate in die gemeente nie. En dís soos hulle dit verkies, want, gaan hy voort: “as ons 10 gemeentes in ons leeftyd kan plant, sal ons baie bly wees.” Hy en sy vrou beplan om albei in die week by ons te studeer en loseer en oor naweke die kerkplanting te begin uitbou.
En ek dink weer: dís die tipe geloofsmoed waarvan ons meer nodig het hier. Gekneusde en soms veragte bedienaars van die versoening, gedring deur Christus se liefde om ‘n lewegewende verskil te maak!
Dank saam met ons die Here, vir Sy roeping van hierdie studente. En bid saam met ons vir Sy leiding hoe om hulle toe te rus en te ondersteun om Sy roeping vir hulle uit te leef.
Vrede en vreugde uit Kobe,
Stéphan, Carina en kinders
NS: hierdie brief kan ook gelees word deur hier te kliek.

Hulle bedien nou in Shikoku se platteland.