Kwartaalflits 17 Maart 2014
- Van der Watt 6 by RCJ Tokyo Bay
- RCJ Tokyo Bay
- Stephan presenting family seminar
- Carina sharing experiences about parenting
- Stephan lecturing at RCJ Kobe Theological Seminary
- Magnolias close to our home
- Homeschooling with Annlie
- Cherry blossoms in our back yard
- Stephan at 4 months
Beste vriend/vriendin,
As die Japannese Nagtegaal (voëltjie) begin sing weet ons die laaang winter het regtig ontvries, en maak plek vir die lente! Dié Mangnolias in die straat agter ons vertel ook die storie …
(Ver)genoeg(d)
Dis baie goed om weer terug “op die lug” te wees. Nie omdat ons weg was die afgelope tyd nie … allermins. Ons het eintlik meestal oorlaai gevoel die laaste paar maande. Want daar is oorgenoeg werk en nuwe geleenthede buite die huis. En daarbinne: genoeg trane om af te droog, genoeg doeke om te ruil, genoeg boeke om voor te lees, vreugde om te deel, ervarings van isolasie, daaglikse huis skoonmaak (sonder ‘n huishulp), en dies meer. Met vier woelwaters tussen 0-6 jaar oud, voel ons gereeld oorweldig … maar geseënd ís eintlik die woord! Só lyk ons jongste, 4 maande oue Stephan, vanoggend (vars en blykbaar uitgerus al kry sy pa, en véral ma, maar min slaap in! J).
Nuwe begin vir vele
Met my (Stéphan) onlangse bykomende werk as deeltydse dosent (in pastorale sorg en berading) by die (Reformed Church of Japan se) Kobe kweekskool, en Carina se voltydse verantwoordelikheid as ma wat tuisonderrig ook moet gee (sonder ‘n ondersteuningsnetwerk), bly die dae vol. Annlie het sedert Januarie met graad 1 begin en vorder mooi. Ons bid en praat gereeld oor hoe om ons tyd en energie sinvol te balanseer, sonder om uit te brand. Dit gaan somtyds taai, maar dit bly ‘n leersame uitdaging, veral wat ons eie karakterbou en geloofspad as familie betref …
Wyer bediening in Tokyo
Alhoewel ons bedieningsfokus steeds gerig is op Tokushima gemeente en die ring van Shikoku, word ons ook toenemend betrokke in wyer gebiede. Ek (Stéphan) is gewoonlik gereeld alleen uitstedig met werk, maar verlede naweek het ons as gesin die voorreg gehad om ‘n dinamiese gemeente in Tokyo te besoek. RCJ Tokyo Bay het ons genooi om daar te preek en saam (as egpaar) ‘n seminaar aan te bied oor familie-verhoudinge (insluitend ouer-kind kwessies, huweliksgroei ens.) – alles in Japannees natuurlik.
Hierdie warm en gasvrye gemeente is ook op verskillende maniere betrokke by die getuienis-vennootskap tussen Missie Japan (namens die NGK familie) en die RCJ. Die predikant daar, ds. Taka Ashida, is aan die spits van opwindende uitbreidings op die gebied. Lees gerus hier meer oor hul kort-termyn uitreik na SA, asook nuwe planne rondom “Mission Africa” ens.
Besoek aan Suid-Afrika om die draai
Soos genoem einde verlede jaar, is ons middel vanjaar DV in Suid-Afrika op besoek. Die gedagte is om (soos 3 jaar gelede) vanaf Julie tot September onder meer terugvoer te gee aan ondersteuners en verdere ondersteuning te werf. En ook natuurlik om vooraf en tussen-in die stywe program, genoeg te rus.
Ons breë skedule lyk soos volg (meer finale besonderhede sal nog volg):
25 Junie-19 Julie: Arriveer in Kaapstad en verloftyd
20 Julie-3 Aug: Suid- en Wes-Kaap besoeke
10-13 Aug: Suid- en Oos-Kaap besoeke
16-24 Aug: Gauteng en Noord-OVS besoeke
30 Aug-7 Sept: Suid-OVS en Noord- en Oos-Kaap besoeke
11-14 Sept: Oos-Kaap besoeke
16-17 Sept: Missie Japan bestuursvergadering
21 Sept: Wes-Kaap besoeke
28 Sept: Vertrek uit Kaapstad
Nog ‘n lang pad van genesing voor ná 3 jaar (sedert 11.3.11)
Verlede Dinsdag (11 Maart) was die derde herdenking van die geweldige trauma van 2011 se rampgebeure in Japan. Die heropbou van honderde duisende mense se lewens duur steeds voort. Buiten die frustrasie en worsteling van baie mense wat steeds in piepklein tydelike huise moet sien-kom-klaar, is die letsels van lyding ook veral onder kinders nou duidelik sigbaar. Ek lees onlangs in ‘n koerant artikel hieroor: “One in four nursery school children caught up in Japan’s 2011 tsunami disaster has psychiatric problems caused by the horrors of loss and destruction, with experts warning of a dire shortage of psychiatrists.”
Maar soos ek al baie voorheen ook gedeel het: veral vir die handjievol Christene (1%) in Japan het hierdie krisis ook ‘n geleentheid geword om op praktiese maniere die hoop van die evangelie (ook veral met kinders te deel. Lees gerus hier ‘n sendeling-kollega (van die Christian Reformed Church North America), ds. Larry Spalink se verslag oor sommige van die voortgaande inisiatiewe (waarby Missie Japan ook via ds. Tobie en Annalie de Wet tot onlangs toe nog direk betrokke was).
Gebedsversoeke
Dank saam met ons die Here vir:
Meer geleenthede as wat ons ooit kon dink om die plaaslike gemeentes te ondersteun d.m.v. die aanbied van seminare ens.
‘n Goeie begin by RCJ se kweekskool in Kobe, met die onderrig van pastorale sorg daar.
Sy voorsiening i.t.v. baie praktiese dinge wat nodig is om tuisonderrig te kan doen.
Vra saam met ons vir God se sorg m.b.t.:
Emosionele en geestelike stamina vir die eise wat die bediening en tuisonderrig aan ons stel.
Carina se rug wat sedert baba Stephan se geboorte baie pyn t.m.v. behandeling.
Beplanning en voorbereiding vir ons besoek aan Suid-Afrika
Iemand wat plaaslik deel van Carina se ondersteunings-netwerk kan wees m.b.t. tuisskoling.
Baie dankie dat jy hierin met ons meeleef!
Vrede en vreugde
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius, Lodewyk en Stephan
NS: ek het onlangs bewus geraak van ondersteuners se e-posse wat my nie bereik via my stephan@missiejapan.co.za adres nie. As dit die geval was met jou (dat ek jou navraag nie beantwoord het nie), probeer asb. jsvdwatt@gmail.com as alternatief.