Kersfeesflits Des. 2020
Ons het ons planne gehad vir 2020, en hóé! Ons besoek aan Suid-Afrika was onder ander haarfyn uitgedink. Noodeloos om te sê, dinge het radikaal anders uitgewerk. Die Here het beter geweet en ons vooruit gegaan.
Vanjaar was taai in vele opsigte en om uiteenlopende redes. Ek vermoed elke een wat hierdie stukkie lees, kan saampraat. Ons leer daaruit dat ons maar bitter broos is, en baie min weet of kan beheer. Ons is herinner aan die nabyheid van verlies en die dood. In Japan is die realiteit dat meer mense in Oktober vanjaar selfmoord gepleeg het, as wat gedurende die hele 2020 gesterf het aan Covid-19. Lees hier meer. Dit plaas dinge in perspektief en wys dat die nood veel dieper is, as wat die virus kan blootlê. Angs, wanhoop en ‘n gebrek aan lewenssin skuil in baie mense se lewens.
En tog is dit nie als donker nie. Carina skryf hier onder meer hieroor. Lees dit gerus en dink saam met ons na oor die wonder van Kersfees in Japan.
Kyk ook na die kort video (kliek net op die PLAY knoppie) …
Ons as gesin se gedagtes en gebede was en is deurentyd by julle in Suid-Afrika. Met ons as gesin gaan dit goed, te midde van die uitdagings op ons tafel. Heelwat meer van ons lewe en bediening het vanjaar aanlyn gebeur, van vergaderings tot jeug-saamtrekke. Maar die meeste van ons werk by KRTS en Kita-Kobe gemeente kon in persoon voortgaan, met streng matreëls in plek om almal se gesondheid te probeer beskerm. As ons buite die huis is, is maskers nog al die pad ‘n gegewe. Japan se derde vlaag infeksies neem toe en niemand kan bekostig om net gewoonweg aan te gaan nie. Ons bly waaksaam.
Ons dink met diep dankbaarheid terug aan ‘n geseënde jaar, verál ook te danke aan ondersteuners soos jy wat ons bly dra en bemoedig. Mag jy in hierdie dae uit Christus se oorvloed genade op genade ontvang (Joh. 1:16)!
En dan gesels ons weer vroeg in die nuwe jaar oor 2021 se moontlike besoek.
Ons beplan om vir 5 maande in SA te wees, tussen April en September.
Geseënde Advent en Kersfees, In Christus ons Here.
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk
‘n JAPANNESE KERSFEES WONDER
Neuspunt. Vingerpunte. Tone.
Dis die ekstreme dele van ons liggame wat yskoud vries en lank vat om te ontdooi hier in Kersfeestyd in Japan. Ons dwing onsself egter om van onder die warm sagte duvet uit te klim en dit te waag in die ysige, donker-winter buite die huis. Ná die aanvanklike pyn aan al die punte van ons lywe, kan ons diep teue inasem en ‘n vreemde vreugde vind in die stil winterkoue rondom ons
(veral as ons weer naby die huis kom!).
Winters in Japan is koud. Miskien is dit meer die aanvoelbare temperatuur. Meestal is dit grys dae, kaal bome en ‘n skraal windjie – soveel anders as die koue oggende en nagte, maar sonnige dae van Suid-Afrika se winters in Junie/Julie. Anders as met huise in Suid-Afrika is moderne Japanese huise nie baie temperatuurvriendelik nie (baie vensters, glasskuifdeure en min insulasie). Miskien is die samurai gedagte ook in die argitek se kop, want hier moet ‘n mens vasbyt – somers en winters. Behalwe op die Noord-Oostelike eiland, Hokkaido, is daar meestal nie sentrale verhitting in huise nie, en gasstowe of lugversorgers hou kamers warm. Dus is die een kamer heerlik warm, maar sodra jy die deur oopmaak en gang afloop na ‘n ander kamer, loop jy jou vas in ‘n muur van koue. Gelukkig is daar klein, uiters gerieflike genadetjies. Hier is daar nie gehekelde toilet sitplekke as verwarming nie. Die toilet sitplekke word outomaties verwarm!
Vir mense in die Suidelike Halfrond is die tradisionele warm see-vakansie eie aan Kesfees, vol lig en warmte en kokosneut sonskerm reuke. Die koue Kersfees van die Noord-lande val vreemd op die oor. Dis soos wanneer ons in die versengende somershitte van Julie/Augustus hier in Japan, drupnat van die sweet op Whatsapp Video call met ons ouers praat, en sien hoe hulle met warm truie en serpe en kombersies by kaggels sit. Ondenkbaar. Na ons ongemaklike somers omhels ons egter die winters. Kaneel geure, kerse, feetjieliggies in bome en by die voordeur, hot chocolate en koffie. Snoesige komberse op ons rusbanke. Vere duvets op ons beddens. Elke oggend kyk ons na ons temperatuurmetertjie en bestudeer ons wolkpatrone. Want miskien is vandag ‘n sneeudag!
En nog een groot voorreg …
Die koue en donkerte maak dit vir ons maklik om iets wonderbaarlik te onthou.
Destyds het God ‘n besondere donker tyd in die geskiedenis gekies om die antieke professie tot vervulling te bring. En die volk van waaruit die Verlosser gebore sou word, het gely. Herodes het hulle swaar belas en was wispelturig en wreed, soveel so dat hy elke seuntjiebaba voor die voet vermoor het.
Maria was jonk, arm en ‘n Jood! En baie rondom haar het haar beskou as ‘n los meisie. Selfs Josef het ‘n engel nodig gehad om sy hart te verander. Hoogswanger en dodelik ongemaklik moes Maria met ‘n donkie na Betlehem. Geen skoon, steriele wit hospitaalmure en bed nie. Vuil en ongemaklik. Donker. God kies die onwaarskynlike donker tye en omstandighede om die lig te bring. In ‘n gehawende gehuggie… Híér skyn die helder ster en verklaar God dat die Koning van alle Konings gebore is … voor verdwaasde, ongeletterde skaapwagters.
Ook in die somerKersfees van Suid-Afrika is dit donker en koud vir baie. Hier in Japan, maar ook daar in Suid-Afrika, lê die vrees en siektes en hartseer swaar op ons. Ons voel swak, onseker, bang en soms kwaad…Donker. Maar God kies aspris die donker. Binne ons ongemak en lyding verskyn die lig.
Immanuel. God is met ons.
“Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2: 10) … “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28: 19,20)
Moenie bang wees nie, maar verkondig dit aan die hele wêreld…aan die Japannese…en in Afrika, Rusland, Nieu-Seeland en oraloor: God is met ons.