Kernkrag-bestralings gevare – nuutse nuus (24 Maart 2011)

Radio-aktiewe bestraling is 'n geweldige risiko

Beste vriendin/vriend,

Hier volg vandag se nuutste nuus oor die kernkrag se radio-aktiewe bestralingsgevaar…

Wat sê die mense hier in Japan oor die radio-aktiewe bestraling?

Mense is angstig, ontredderd en baie onseker. Hulle weet bv. nie presies wat aangaan by die kernkrag-sentrale nie – a.g.v. gebrekkige en teenstrydige informasie wat steeds uit verskillende oorde spruit. Daar word orals gerugte versprei, soos dat daar radio-aktiewe wolke in omtrek is en dat mense met sambrele en reënjasse moet rondloop vir beskerming. Selfs baie mense in China probeer op allerlei maniere voorsorg tref vir ‘n verwagte ramp met Chernobyl-afmetings. Mense getuig (op TV berigte daagliks) verder van diepe ontnugtering, skoke en magtelose verslaendheid. Baie mense weet nie wat of wie om te glo in die tyd van ontstellende onsekerheid nie. Mense wat nie naby die rampgebied is nie, probeer hulself gereed maak vir die onvoorsiene. Water word gekoop, blikkieskos, selfs ‘draagbare’ toilette en water suiweringstablette…

Is ons (as sendelinge) in gevaar om bestraal te word?

Dit is baie moeilik om die vraag volledig te antwoord. Ja, daar is beslis ‘n gevaar indien die kernkrag-ramp by Fukushima verder intensifiseer en uitkring. Maar nee, daar is tans geen gevaar vir direkte bestraling hier in Tokushima nie. Ons is wel onseker oor wat presies die uitwerking nog kan wees op die kos en water wat ons daagliks gebruik, veral natuurlik m.b.t. kos uit die Noordelike gebiede. Reuse vars vismarkte in Tokyo het bv. vanoggend vir die eerste keer sedert mense daar kan onthou feitlik tot stilstand gekom…bloot omdat kopers vrees dat die visprodukte besmet kan wees, en ook omdat die visserye Noord van daar reeds die geweldige verwoestende impak van die rampe op die visbedryf kan sien en voel. Die omgewing en diere (o.a. visse) is gedeeltelik verwoes.

Hier is ‘n ‘link’ in Engels waar jy self na die radio-aktiwiteitslesings per provinsie in Japan kan gaan kyk – http://www.mext.go.jp/english/radioactivity_level/detail/1303986.htm. Dit is twee dae gelede deur die regering op TV hier vrysgestel sodat mense self na lesings kan kyk. Kliek net op Tokushima om bv. die lesings vir ons provinsie te sien. Jy sal sien dat daar bv. ‘n onbeduidende klein beweging op die lesing was sedert eergister, maar dis absoluut minimaal tans. Daar is ook onderaan die grafiek ‘n aanduiding of bestraling al in die waterbronne van daardie provinsie opgemerk is al dan nie.

Moet ons voorkomend optree? Is daar enige iets wat ons kan doen hier in Tokushima?

Op die stadium het ons geen amptelike kennisgewing hieroor van plaaslike owerhede ontvang nie. Ons sal wel van vandag af (vroegtydig) eerder gebottelde water gebruik as kraanwater (n.a.v. berigte dat water-besmettingsvlakke in Tokyo-area se kraanwater gevaarlik geword het vir babas om te gebruik), veral ter wille van die twee kleuters in ons huis. Verder kan ons maar net wag op berigte oor verdere verspreiding van radio-aktiewe bestralings elders (en nader aan ons hier in Tokushima op Shikoku-eiland).

Hoe lyk die kos, water en elektrisiteitsvoorraad waar ons woon? (daar is berigte van ander plekke waar dit op is of moontlik besmet is met radio-aktiwiteit)

Kos voorrade hier by ons is nog stabiel. Elektrisiteits-gewys is daar nog geen amptelike beperkings op verbruik geplaas nie. Oor die water-situasie het ek hierbo geskryf.

Vrede

Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.