Japanese Ubuntu? – 15 Februarie 2011 (deur Carina)
Daar is ‘n vreemde neiging in die Japanese samelewing. Die neiging tot isolasie, afsondering, eensaamheid, oor-privaatheid. Dit dring allerande lewenssfere binne.
Hierdie probleem is té kompleks om dit in ‘n kort skrywe sommer te probeer verklaar of verduidelik. Ek dink dit kom in meeste ontwikkelde lande voor. Daar is ‘n woord in Japanees: Hikikomori – wat beteken die onttrekking van jouself uit die samelewing. Dit word gedefinieër as ekstreme sosiale isolasie. Mense onttrek hulself uit die samelewing en bly meestal binneshuis. En dan is dit natuurlik wyd bekend dat Japan een van die hoogste selfmoordsyfers onder ontwikkelde lande in die wêreld het (veral onder jong mense). Verder sien mens op TV-nuus van verwaarloosde ou mense wat soms eers dae na hul dood opgespoor word; of van ‘n ma wat wegloop van haar huis waar twee klein kleutertjies uiteindelik van hongerte sterf (dit te midde van hul kerm en huil wat deur bure wel gehoor is).
Hoe ryker en meer gevorderd ‘n mens raak, hoe kleiner raak jou families, hoe hoër raak jou mure én hoe meer jaloers raak jy op jou eiendom en privaatheid…hoe vreemd. ‘n Mens sou dink ‘n oorvloed van besittings, opvoeding en geleenthede sal juis natuurlik, uitvloei op ‘n oorvloed van gasvryheid – ‘n deel van jouself met ander.
Binne Afrika se Ubuntu-konsep gaan alles oor interaksie met ander en om te wees – jou identiteit te vind – deur die ander. Hoe nodig het ons nie hierdie kontak vir ‘n gesonde emosionele self nie? Hoeveel verloor ons nie van ons eie aangebore vermoë tot Ubuntu, met elke stap vorentoe (of liewers boontoe op daai klimleer nie).
Maar waaroor ek eintlik wou skryf is dat te midde van die ongelooflike fokus op privaatheid en afsondering in Japan, ek steeds ‘n unieke gemeenskapsgevoel ervaar. Hiér is ek ‘n vreemdeling en ek sal altyd een bly. Ek lyk en dink net té anders om ooit by die eenvormigheid van Japan in te pas. En daarom kan ek nie met genoeg gesag praat oor die diepte van hierdie gemeenskapsgees nie. Ek vermoed dat die verbintenis tussen mense in die vroeë Japan baie diep en ryk was toe die land nog nie deur die ‘maatskappy’ en die materiële oorheers was nie, maar eerder deur verhoudingsnetwerke binne die familie (hoe wyd ookal).
Te midde van die feit dat ek juis as buitelander en dus vreemdeling bitter alleen kan voel, het ek gelukkig gereeld kontak met baie mense (oor die kwaliteit hiervan kan weer gepraat word). My redding? Gemeenskap-sentrums. Dit vervul die rol wat die Kerk op baie plekke in Suid-Afrika al die jare gespeel het en baie keer steeds speel. Om sosiale netwerke tussen mense te bou.
Daarom gaan ek gereeld na so ‘n sentrum, waar die kinders vryelik kan rondspeel met allerande speelgoed (soos pophuise, skop-fietse, balle, ens). En gewoonlik is daar ‘n storietyd en selfs “arts en crafts”. Die belangrikste is dat ek dan ook ‘n geleentheid kry om met ander ma’s te gesels en dat die kinders met maatjies speel. Ek oefen my Japanees en nog meer belangrik: ons het KONTAK met ander mense. Ons maak vriende. Ons deel…
Daar word ook gereeld dinge aangebied by hierdie sentrums, soos bv. ritmiese dansklassies, hoe om speelgoed te maak uit wat jy in die huis het ens. Spesiale feeste in Japan word ook dikwels verduidelik en ten toon gestel deur dramatiese uitbeeldings of deur een of ander kunsvorm. Ek het al baie van die Japanese kultuur en leefwyse daar geleer, baie van my huidige vriendinne daar ontmoet en dis ook ons bymekaarkomplek.
Ek besef dat baie Japanese mense se emosionele probleme baie diep lê en dit raak aan my siel, veral omdat ek dit nog probeer verstaan en dus sukkel om sekere gedragspatrone net te aanvaar. Op ‘n manier baklei ek nog teen die kultuur. Maar die vraag is seker, waar eindig kultuur en waar begin ‘n universele behoefte van die mens. Soos die rol van gesonde interaksie binne die familie? Miskien omdat ons eie familielewe vir ons so belangrik is, is dit vir ons soveel erger dat interaksie tussen geliefdes baie kere maar baie oppervlakkig, reël-gebonde, en beroof is van kwaliteit of kwantiteit tyd. Of so blyk dit…
Al skraap dit net aan die oppervlak van ons behoefte aan kontak met mekaar is ek dankbaar vir die voorreg om dan deel van ‘n ouerskaps-netwerk te word – aldus vir altyd (as) ‘n vreemdeling.
Carina van der Watt