Getuieniskantoor Nuusbrief 9 Januarie 2009

Liewe Medewerkers

OPWINDENDE JAAR VIR MISSIE JAPAN 

Ons vertrou dat 2009 ‘n mooi jaar sal wees, vol vrede en vreugde.  Missie Japan is opgewonde oor opwindende dinge wat voorlê!  Ons glo dat die Here oor dit alles sy hand van seën sal hou.

1.            Stephan en Carina gaan in April Japan toe! 

Missie Japan het finaal besluit om vir Stephan en Carina van der Watt uit te stuur as sendelinge na Japan.  Dit was natuurlik nie ‘n maklike besluit nie.  Ons is oortuig van Stephan hulle se roeping, hulle bekwaamheid en die bydrae wat hulle in Japan kan maak – hulle is twee heel besondere mense!  Tog bly die groot vraag:  gaan daar genoeg fondse wees?  Volhoubare fondse?  Op hierdie stadium het ons nog maar net meer as die helfte van dit wat ons nodig gaan hê.  Maar, in die geloof het ons besluit om voort te gaan om hulle uit te stuur.  Ons gaan hard werk om dit moontlik te maak, want hulle roeping is ook ons roeping…..en ons vertrou die Here.

Stephan hulle het reeds heelwat gemeentes in die Wes-, Oos- en Suid-Kaap besoek. Gedurende Februarie gaan hulle verskeie Vrystaatse gemeentes besoek.  Laat weet as daar nog gemeentes is wat dalk belangstel om ‘n besoek te ontvang.  Ons beplan om hulle op 1 Maart 2009 amptelik uit te stuur vanuit die NG Gemeente Aliwal–Noord, waar Stephan tans nog leraar is.  Vroeg in April vertrek hulle DV Japan toe!   Kom ons bid vir hulle en ondersteun hulle, groot  asseblief!

2.            Gys en Linda Olivier word as sendeling-onderwysers uitgestuur.

Dit is ook nou finaal dat Missie Japan nog twee pragtige jongmense, Gys en Linda Olivier, as sendelinge na Japan gaan uitstuur.  Hulle gaan vir twee jaar skoolhou by die Seiwa Christen Skool vir Meisies in die stad Kochi op die eiland Shikoku.  Die skool sal self hulle salaris betaal, maar die hele projek word in noue samewerking met ons vennoot, die Reformed Church in Japan, gedoen.  Ons is sommer baie trots op hierdie twee jong Christene wat maar pas verlede November getroud is en bereid is om offers te bring om hulle getuienis daar te gaan uitleef.  Hulle vertrek DV teen einde Maart.  Ook hulle het ons gebede en ondersteuning baie nodig.

3.            Studente besoek Japan

Die besoek van die Bloemfontein studente aan Shikoku gedurende Desember was ‘n groot sukses.  Die groepie jongmense, onder leiding van ds Leon Marais, kan gewoon nie uitgepraat raak oor alles wat hulle beleef het nie;  die gasvrye manier waarop hulle ontvang is en hoe goed dit was om die jong Christene daar te ontmoet.  Ook die terugvoer vanaf Japan is dat dit ‘n baie goeie besoek was en veel vir die gemeentes daar beteken het.  Bande is gebou.  Lewens is verryk.  Nuwe wêrelde is geopen en ons vertrou dat die wedersydse betrokkenheid van jongmense by die werk van Missie Japan net verder uitgebou sal word.

4.            Besoek vanuit Japan

Ons is ook baie opgewonde oor ‘n besoek wat ons eersdaags van verteenwoordigers van die Reformed Church in Japan gaan ontvang.  Die groepie sluit ook ‘n paar jongmense in.  Die toer sal op 19 Februarie 2009 in die Kaap en Stellenbosch begin. Hulle reis deur die Suid-Kaap, besoek ‘n paar gemeentes in die Oos-Kaap en reis dan na Bloemfontein.  In Bloemfontein vind daar op 26 en 27 Februarie ‘n baie belangrike vergadering van Missie Japan plaas.  ‘n Hele klomp sake rondom ons samewerking en die uitstuur van die nuwe sendelinge moet bespreek word.  Op 1 Maart sal die Japannese ook die uitstuur van Stephan hulle op Aliwal bywoon en dan reis hulle deur die Noord Vrystaat na Gauteng toe.  ‘n Propvol program, met baie afsprake!  Ons is regtig opgewonde oor die besoek – ten diepste gaan dit oor kerke wat mekaar se hande vat en mekaar ondersteun in hul roeping en al kom ons uit verskillende wêrelde, is ons één, met één Here en één roeping.  Juis dit gaan ons opnuut vier tydens hierdie besoek! 

5.            Tobie en Annalie de Wet           

Met Tobie en Annalie gaan dit goed.  Hulle kom saam op die besoek – wat sekerlik vir hulle ‘n groot ervaring sal wees, veral met die uitstuur van hulle kinders as sendelinge na Japan.  Tobie het ‘n slegte terugslag gehad toe sy een oog se retina onlangs geskeur het.  Na ‘n operasie gaan dit egter nou beter en ons is bly daaroor.  Dit gaan ook baie goed met hulle familie en hulle werk.  Hulle is besig is om stewige fondamente te lê waarop verder gebou kan word.  In die Reformed Church in Japan is daar groot waardering vir hulle werk.  Ons moet hulle en hulle kinders steeds aan die Here opdra.

Dankie vir al die voortgesette finansiële- en gebedsondersteuning.

Groete.

GIDEON VAN DER WATT

(SEKRETARIS)  

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.