Getuienisflits 14 April 2021

Stop. Kyk. Kyk stip. Staar …

Die afgelope weke rondom Paasfees het ons almal hanami (letterlik: blomkyk) geniet. Dis ‘n tradisie so oud soos die berge in Japan. Om die nuwe lewe wat die Sakura bloeisels (ná die lang winter) bring, stip te bekyk en waardeer.

Daarmee saam het ons op Goeie Vrydag – wat ook die openingsdag van KRTS se nuwe akademiese jaar was – drie nuwe studente verwelkom. Vandag deel ek die direkte getuienis van een van hulle, Masashi Toyoda, met sy toestemming. Wees saam met ons bly oor die nuwe lewe wat die Opgestane Here vir hom laat blom het – nog mooier as die Sakura! Soos die Here Lydia (vir Paulus se woorde, Hand.16:14) ontvanklik gemaak het, het Hy ook Masashi se hart oop gemaak vir sy Woord.

Hou die spasie dop vir meer inligting – in ‘n volgende nuusflits – oor hoe ons deputasie projek vorder, en hoe wonderlik die Here voorsien deur ondersteuners wat hulle harte en hande oopmaak om ons besoek te laat realiseer.

Vrede en vreugde, 
Stéphan, Carina en gesin

NS: op die foto hieronder is Masashi in die middel, tussen ds. Tsuneishi (deur wie hy gedoop is), en sy vrou van RCJ Osaka gemeente. 


Masashi Toyoda (29 jr.) se getuienis oor sy roeping en oorgawe aan God
 

Ek is gebore en het groot geword in ‘n nie-Christen huis, waarin daar feitlik niks bekend was van die Bybel, God of die Christelike geloof nie. Ek het van Jesus te wete gekom deur die vak “Christelike Kultuur” te neem terwyl ek op universiteit was (dit was nie ‘n Christelike Universiteit nie, maar ‘n teologie dosent het die vak aangebied as deel van die algemene kurrikulum). Vaagweg beskryf het ek voor daardie tyd nie ‘n idee gehad wat die doel van my lewe was nie en gereeld leeg gevoel. “Wat is regtig belangrik en waar?”, is wat ek myself afgevra het. Maar deur die klasse het my eng wêreld(beeld) radikaal verander. Die inhoud wat die dosent gedeel het – bv. oor ons as mense se sonde (vanuit Genesis), die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die mensbeeld in die Romeine brief ens. – het my oortuig, “dit wat hiér geskryf is, is waar en eg”. Dit was regtig soos skille wat van my oë af geval het. 

Daarna het ek self begin om die Bybel te lees en bestudeer. Ek het afgestudeer en begin werk, maar al het ek kennis van die Bybel verkry, het ek nog nie heeltemal verstaan wat dit beteken om in God te glo nie. Die Here het my gelei na ‘n kerk, spesifiek na die RCJ Osaka gemeente (in my omgewing). Ek het vir die eerste keer ‘n preek gehoor, en hoe gelowiges sing. Dit het ‘n groot impak op my gemaak om te beleef hoe dit is tussen mense wat regtig in God glo, en dit was ‘n vreugde om dit wat ek op my eie geleer het, nou te kon deel met hulle. Die ervaring het gemaak dat ek elke week begin kerk toe gaan het. Aanvanklik het ek nie ‘n beslissende bekering beleef nie, maar deur elke week se erediens, en deur die Here se uitwys van my sonde en die oortuiging dat ek nie sonder God kan leef nie, het ek God se leiding ervaar en is ek ná ‘n jaar gedoop. 

Ek was gevul met diep dankbaarheid vir die geloof wat die Here my geskenk het, want ek het besef die Here het my gebede verhoor toe ek nog nie eers werklik gebid het nie … regdeur die vae leegheid wat in my hart was tydens my universiteitsdae, wat niks anders was as die versugtinge van ‘n “hert wat smag na water”, soos die Psalmis getuig nie. Die oortuiging het gegroei in my hart dat ek dié dankbaarheid en blydskap wat ek beleef het ten beste kan uitleef deur myself heelhartig aan God te wy en aan die uitdra van die goeie nuus (evangelie). Daar was ‘n paar dinge wat aanleiding gegee het tot die volledige toewyding aan die Here.

Die eerste keer wat ek besef het wat dit beteken om my heelhartig toe te wy en beskikbaar te stel vir God, was by die vierings-geleentheid net nadat ek gedoop is. ‘n Man het vir my Calvyn se Institusie (1536 weergawe) as geskenk gegee met die volgende woorde: “Ek hoop dat jy iemand sal word wat die inhoud hiervan kan verduidelik en oordra.” Ek het op daardie stadium nie regtig verstaan wat hy bedoel het nie, maar bewus geword dat daar ook ‘n pad is van volle oorgawe (m.a.w. voltydse diens aan God as kerkleier). Die volgende ding wat gebeur het, was ‘n jaar later by ‘n spesiale evangelisasie byeenkoms by die kerk waar die spreker onder andere vir my gesê het: “As jy klaarmaak met jou huidige werk, kom na die kweekskool”. Sy woorde het in hart gebly en ek het dit herhaaldelik bly bedink en begin bid: “Here, as dit U wil is, roep my (vir U diens).” Maar ek het nog nie heeltemaal verstaan wat ‘roeping’ beteken nie, en drie jaar het verby gegaan. 

Toe gebeur die derde en beslissende ding, toe ek verplaas is na Tokyo a.g.v. my werk. Daar het ek toe begin inskakel by RCJ Tokyo Bay gemeente. Die predikant, ds. Taka Ashida het vir my gevra: “Hoe wil jy die een aardse lewe wat jy ontvang het, aan die Here offer?” Ek was verstom deur dié direkte vraag waarvan ek nie kon ontvlug nie. Ek het hom nie op daardie dag dadelik geantwoord nie, maar in my hart was ek sterk oortuig en vervul met die behoefte om na die kweekskool te gaan. Ook in my gebede was my versugting daarna: “Here, as dit U wil is dat ek myself volledig aan U moet toewy, maak dit vir my glashelder.” Toe my (maatskappy) werk is beëindig is, het ek gedink: “As hierdie ook deel van die Here se roeping is, kom ek klop aan die deur”. Ek het met ons leraar (ds. Ashida) gaan gesels. Dit was eintlik ná die sperdatums reeds verby was vir aansoeke by KRTS, maar hulle het my tegemoet gekom en as buitengewone student aanvaar wat alle vakke kan neem.

Ek besef om by die kweekskool te studeer is ‘n harde pad wat baie opoffering vra. Maar, deur die leerproses hoop ek om myself as sondaar grondig te leer ken, my verhouding met Jesus te verdiep en uiteindelik bruikbaar te wees vir die kerk. As die Here wil, sal ek ná die eerste jaar oorskakel en as gewone student voortgaan. As ek daarna uiteindelik die (4-jaar) kursus voltooi en as leraar beroep word, weet ek die pad is steil in die kerk, met baie uitdagende realiteite. Maar ek weet ook dat daar regtig baie mense is wat – soos ek in die verlede – (miskien selfs) onbewustelik soek en dors na God, “soos ‘n hert na water in dorre streke”. Daarom is ek nou oortuig daar is (vir my) niks meer kosbaar as om te kan deel wees van die werk om God se Woord uit te dra nie, soos Paulus aanhaal: ““Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring” (Rom. 10:15). Ek glo die Here sal my pad tree vir tree voorberei, daarom wil ek dit aan Hom toevertrou. 

(geskryf deur Masashi Toyoda, vertaal deur Stéphan van der Watt)
(krediet vir onderste foto’s aan Izumi Matsumura – Sakura (bo) en Boke (onder))