Gebedsflits – 10 Maart 2011

Beste vriend/vriendin, 
 

Ma Annalie in gesprek by Takamatsu-kerk

Dank asseblief die Here saam met ons vir:

 1)      ‘n Baie geseënde byeenkoms van (meestal) werkende Christen-jongmense van Shikoku-eiland, verlede Saterdag in Takamatsu. (Ma) Annalie was een van drie mense wat haar getuienis kon deel met die groep. Dit het harde voorbereiding (in Japannees) gevra, maar is baie sinvol beleef deur almal.

2)      NGK La-Rochelle gemeente (Bellville) wat verlede week hulle vlugte kon bespreek om einde April ‘n uitreik na Japan te doen. Hulle (diverse groep van 7 mense) sal o.a. in Tokushima (20-24 April) en ander plekke in Shikoku uitreik d.m.v. drama/mimiek, getuienisse, musiek, sport ens…en hier hulle gawes kom deel om ook ons as sendelinge en RCJ gemeentes te kom ondersteun. Ons is baie opgewonde saam met hulle oor die vooruitsig.

Vra asseblief in afhanklikheid van die Here vir Sy leiding en sorg in:

 1)      Hierdie naweek: i)Vrydag ontvang ons goeie (nie-Christen) vriende – hulle het ook twee kleuters – vir ete by ons huis. Bid asb. dat dit ook ons vriendskap sal versterk en vir dié geleentheid om iets van Christus se gasvryheid, liefde en hoop te deel. ii) Sondag-oggend neem (pa) Tobie die eredienste in Tokushima en Marugame gemeentes waar. Bid asb. vir sy voorbereiding.

2)      Volgende Week: i) Stéphan en Carina se daaglikse taalstudies – daar is goeie vordering maar ook ekstra druk a.g.v. die feit dat ons DV vanaf Junie-Aug in SA sal wees. ii) Tobie en Annalie se Bybelstudie-geleenthede en ontvangs van vele gaste as deel van hulle bediening. iii) Tokushima gemeente se biduur geleentheid (Donderdagaand).

3)      Algemeen: (i) Vir ons liggaamlike, emosionele en geestelike gesondheid. Met die seisoen se draai (word nou lente) is daar nuwe energie, maar ook nuwe uitdagings. Tobie en Annalie het besonder baie verpligtinge i.t.v. hulle bediening in Shikoku-eiland en op baie ander plekke aangesien dit hulle laaste jaar van amptelike bediening in Japan is. (ii) Vir die geloofsvorming van Annlie (amper 4) en Cornelius (amper 2) hier in Japan waar daar omtrent geen ondersteunings-of speelnetwerk is wat Christen-maatjies aanbetref nie. Annlie sukkel ook al maande met middeloor-ontsteking. (iii) Baie administrasie en reëlings wat tans getref word t.w.v. ons (Van der Watt-gesin se) besoeke aan gemeentes ens. in SA later vanjaar. (iv) NGK La-Rochelle se beplanning en voorbereiding rondom hulle uitreik – ook veral vir hulle fondsinsameling en span-verhoudinge.

Baie dankie vir jou gebedsondersteuning, dit dra ons!

Vrede en vreugde,

Stephan, Carina, Annlie en Cornelius

www.missiejapan.co.za

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.