Covid-19 KRAG IN BROOSHEID (31 Maart 2020)

Sakura bloeisels voor ons huis

Ons is in die globale seisoen van Covid-19. By jou is die herfs aan die deurbreek, hier in Japan ontvou die lente uit ‘n sluimerende winter. Die Here wat die seisoene gemaak het, is nie skielik afwesig nie. In Sy voorsiening het Hy mos dié tyd ook bepaal (Pred. 3). Van die vroegste tye af moes mense krisistye soos dié deurleef. Ons vrese, onsekerhede en frustrasies gaan ook nie ongesiens verby nie. Aan God se regterhand is Jesus, wat opgevaar het en deur Sy opstandingskrag nou vir ons elkeen krag gee om in hierdie beproewing staande te bly. Dis mos nie net ‘n betekenislose rympie wat ons Sondae uit verveling opsê nie. Nee, dis ‘n diep waarheid waarin Christene krag en moed vind. 

Broosheid ontbloot
Ons is – soos met ‘n naelstring – aan God verbind. Broos en afhanklik. Dis vanuit hierdie realiteit wat ek ‘n paar gedagtes deel oor die dun, amper deursigtige vliesie tussen lewe en dood. Geen mens kon hierdie pandemie voorspel nie. Ons weet ook nie een hóé ingrypend dit oor die volgende maande en jare gaan uitkring nie. Ons hoef ook nie al die antwoorde te hê nie (skryf NT Wright elders)! Ons word herinner aan hoe onvoorspelbaar en onvervangbaar die lewe is wat ons uit die Skepper-God se liefdevolle hand ontvang. Dié wete laat ons nou nuut kyk na alles, ook na ons eie sterflikheid.  

Vlietend en Verganklik
Lydenstyd het ons opnuut in die sentrum van Christus se eie lyding geplaas. Ons Hoëpriester het intense medelye met ons swakhede en broosheid (Hebr. 4). Ons is verganklik. God wéét dat ons soos stof is (Ps. 39;103). Vanuit Japan sou ons ook kon sê dat ons soos Sakura (kersie) bloeisels is. Presies in hierdie laaste dae van Maart is die Sakura bome voor ons huis aan die bot. Jy kan nie anders as om net ‘n oomblik stil te staan en jou te vergaap aan die hemelse gesig nie. Net vir ‘n paar dae is die bloeisels oop, in volle glorie. Dis ontsettend mooi, maar binne ‘n oogwink verby! Vlietend. Momenteel.

Daar is ‘n Japannese woord – 潔い (isagiyoi) – wat o.a. vertaal kan word met  “rein, moedig, grasieus, manlikheid, sportmangees.” Destyds is die samurai tradisie – om in jou eie swaard te val as jy weet jou dood lê om die draai – hiermee vertaal. Want, só is daar gedink, wanneer dood onafwendbaar is, is dit nie goed (grasieus of braaf) om daaraan te probeer vaskleef nie (verwant aan die Boeddhistiese idee van dood). En dís waaraan sakura bloeisels Japannese mense herinner. Hulle vier dit gewoonlik in hulle hordes, in parke en langs riviere oraloor die land*. Maar vanjaar is dit anders. Die donker Covid-19 wolk hang vir baie mense net te laag oor die Sakura bome. Politieke leiers versoek ernstig: bly weg, kom kyk maar volgende jaar weer.    

Vir Christene is die lyding van hierdie lewe iets wat ons broos maak, maar nie laat boedel oorgee, omdat alles uiteindelik sinloos, leeg of futiel is nie. Die Psalms (o.a. 8 en 139) herinner ons aan die kosbaarheid van hierdie lewe. God wat ons stoflikheid ken, gun ons ook die lewe in oorvloed, met al die skoonheid daarvan ingesluit. Om te lewe is Christus, te sterwe is wins (Fill.1). Die lewe is tegelyk vol lyding en glorie, pyn en oorwinning.

Woordlose sugte

Ons troos is dat die Gees van Christus onophoudelik intree vir ons skepsels, ja vir die hele skepping, by God die Vader. Ons eie gesug in hierdie Covid-19 benoudheid, is nie sonder hoop en troos nie. Soos in barensnood, pynvol, maar verwagtend op die nuwe lewe wat kan deurbreek, sug die hele skepping nou. Die Gees pleit vír ons – want ons woorde is op – met woordelose versugtinge. (Rom. 8) En net so, woordloos, gaan die Sakura bloeisels een vir een oop, broos en beeldskoon.    

In verbondenheid 
Hierdie krisis is meer globaal as enige wêreldoorlog in die geskiedenis. Meer as ooit tevore is ons as één liggaam van Christus diep aan mekaar verbind. Ons ly saam en ons deel in mekaar se vreugdes (1 Kor 12). Kom ons dra mekaar in gebed en omgee. My gebed is, saam met Paulus, dat ons selfs diep vreugde sal vind in hierdie swaarkry, want ons weet dit kweek volharding, egtheid van geloof en hoop wat nie beskaam nie. God het immers sy liefde in ons harte uitgestort deur Sy Heilige Gees! (Rom.5)   

*Carina het ook destyds iets hieroor geskryf – lees dit hier

Gedagtes uit Kobe oor Covid-19 en bemoediging vir SA ondersteuners in afsondering

Japan se breër situasie
Dis amper 5 weke sedert Japan se regering ernstige matreëls begin instel het om Covid-19 te bekamp. Die sluiting van alle skole en allerhande ander kansellasies van groot byeenkomste was aanvanklik effektief en die lae vlakke van infektering het baie verstom, maar die vraag of dit op die lange duur genoeg sal wees. Lees hier meer. In die laaste week het Tokyo veral ‘n skerp styging in gevalle getoon, wat binnekort kan veroorsaak dat die regering ‘n nasionale krisis kan verklaar, strenger matreëls kan instel en ‘n tipe ‘lockdown’ vereis. Ons bly waaksaam want ons woon ook in ‘n gebied (reg langs Osaka) wat hoër vlakke van infeksies toon. Grondwetlik kan dit nie afgedwing word in Japan nie, maar staatsleiers maak aanspraak op elkeen om die versoeke van die regering na te kom. Die Japannese nasie se gehoorsaamheid aan reëls en eensgesindheid is welbekend, maar niemand weet of dit in hierdie onsigbare oorlog voldoende sal wees nie. Lees verder.  
 
Kerke in Japan
Omdat kerke se lidmaattal gemiddeld 30 is, is alle eredienste nog nie afgestel nie. Maar RCJ kerkgangers, soos baie ander kerke, is pro-aktief besig om soveel as moontlik te self-isoleer ten einde die virus te beveg. In Tokyo is het party kerke onlangs web-eredienste begin hou. Daar kleef reeds ‘n potensiële stigma aan kerke a.g.v. die groot uitbraak van infeksies onder ‘n Koreaanse sekte vroeër vanjaar (die 99% nie-Christen Japannese bevolking tref nie maklik onderskeid tussen sektes en kerke nie!). Die RCJ is daarom ook besig om baie ernstig te besin oor aksieplanne vir die afsienbare toekoms. Ek dien op twee van die RCJ sinode se kommittees – een wat by diakonale werk betrokke is; die ander een gefokus op pastorale sorg en begeleiding van leraars en kerklidmate rondom pastorale sorg. Ons is pal besig met gesprekke en die saamstel van material wat gemeentes kan help om met wysheid te onderskei wat nou prakties die beste weg vorentoe is.
 
Ons in Kobe
Op ‘n persoonlike vlak gaan dit met ons goed. Dit bly besig a.g.v. Covid-19 en verwante, onverwagse uitdagings. Ons huis het ook a.g.v. die skole se sluiting outomaties ‘n sentrale speelplek geword vir kinders uit ons buurt – vanweë die ligging daarvan as deel van KRTS se gronde. Ons bly self versigtig en waaksaam, maar ook realisties oor die aard van kinders. Punt is: hulle beweeg! Almal is tans darem nog gesond.
 
Wees asb. verseker dat ons daagliks bid vir julle, ons broers en susters in Suid-Afrika, asook vir die wêreldwye impak. Bid asb. ook vir ons (sien versoeke hieronder).
 
In diep verbondenheid.
Stéphan, Carina en kinders

‘n Ligter oomblik Noord van Kobe in die berge

Gebedsversoeke:

  • Die Covid-19 bekamping in Japan, ook vir die RCJ en ander kerke se getuienis en bedieninge in hierdie tyd.
  • Ons gesondheid as span – Van der Watts, Du Rands, Oliviers – lees ook hier nuus uit Missie Japan se SA kantoor. 
  • Wysheid rondom KRTS se nuwe akademiese jaar wat Vrydag, 3 April, begin.
  • Elmar Du Rand se ouers wat hier by KRTS gestrand is a.g.v. gekanselleerde vlugte ens.
  • Ons eie deputasie program (beplan vir Junie-Sept 2020) wat nou beïnvloed kan word deur die pandemie.

Vind hieronder twee opnames wat die afgelope maande vrygestel is:

  1. ‘n Gesprek (podcast) wat ek gevoer het in Engels (getiteld Reformations Conversation) met Dr. Karin Maag van die H. Henry Meeter Center for Calvin Studies wat handel oor pastorale sorg navorsing, die Reformasie, werk en lewe in Japan ens. – LUISTER HIER
  2. ‘n Radio uitsending (in Japannees) wat handel oor die Rugby Wêredbeker 2019, my roeping as predikant/sendeling en Nkosi Sikelel’ iAfrika – LUISTER HIER