Missie Japan en die RCJ kom ‘n lang pad – Tobie vertel (19 Maart 2011)

Die werk van Missie Japan saam met die Christelike Gereformeerde Kerk van Japan

Deur Tobie (ds.) en Annalie de Wet – sendelinge van Missie Japan in Tokushima

19 Maart 2011

Sending onder die “rykstes van die rykes”

Terwyl ons (Tobie en Annalie de Wet) destyds in Port Elizabeth gewoon en gewerk het, was Annalie en ek via die ACVV aktief betrokke in die “townships” van PE onder “die armstes van die armes.” Hier in Japan het ons te doen met “die rykstes onder die rykes.” Per kapita is die mense van Japan die rykste bevolking ter wêreld.

Verskriklike gevolge en uitdaging van die groot aardbewing en tsoenamie

A.g.v die skrikwekkende groot aardbewing en tsoenamie van Vrydag 11 Maart (grootste in meer as 140 jaar) moes duisende van hierdie “ryk” mense skielik probeer leef in omstandighede wat vergelyk met, en erger is as dié van die armstes van die armes in PE!  In een oogwink verloor tien-duisende mense letterlik alles, geliefdes, besittings, huise, grond, werk, inkomste, ALLES. Die hele land van Japan is diep geraak en geruk deur hierdie drie-dubbele ramp (aardbewing, tsoenamie en kern-bestraling krisis). Terwyl ons die beelde van verwoesting en menslike lyding en ellende daagliks op ons plaaslike TV aanskou, worstel ons met ’n gevoel van diepe empatie met en geestelik-emosionele pyn oor die lot van hierdie mense wat skielik alles verloor het, in haglike toestande probeer oorleef en nou sonder vooruitsig en hoop die toekoms in die gesig staar.

Kerk se roeping en taak in ’n krisis situasie

Daar is by ons ’n oorweldigende besef van die roeping van die kerk van Christus om juis nou uit te reik met die konkrete liefde en barmhartigheid van Chritus. Ons glo met ons hele hart dat hierdie tragiese gebeure terselfdertyd ’n God-gegewe geleentheid en uitdaging vir die kerk en die Christendom is om iets van die liefde van Christus onder die Japanese bevolking te konkretiseer.

Terwyl ons brand om self ook fisies betrokke te raak by die massa in hul uur van uiterste nood, sit ons egter redelik ver vanaf die rampgebied op ’n ander eiland en as te ware vasgevang in ons daaglikse “kerklike pligte” en “kerk-werk,” amper soos die priester en die Leviet wat anderkant verby geloop het…

Mense moet eers sien om te kan hoor

Net soos in SA moet ook die mense van Japan eers die liefde van Christus in die praktyk sien voordat hulle kan hoor. Sendingwerk in Japan (en eintlik is dit maar presies netso ook in alle ander gebiede…) is in die heel eerste plek opregte identifisering met die mense self, dienslewering, liefde bewys, konkreet uitreik na mense en veral mense in nood. Die probleem in Japan is dat die nood meer sosiaal en geestelik-emosioneel as sigbaar en fisies is. Dit is een van die redes waarom sendingwerk in Japan nie so eenvoudig en maklik is nie.

Die geestelike gevolge van die aardbewing en tsoenamie?

Net na die Tweede Wêreld-oorlog was Japan platgeslaan en het die kerk die geleentheid benut om die land en sy mense met God se liefde en Woord te bedien. Baie Christene in die kerk vandag het hul geloof en bekering te danke aan daardie eerste dekades van sendingwerk. Biddend wonder ons wat die vrug gaan wees van die nagevolge van hierdie groot ramp wat besig is om die land plat te slaan?

As sendelinge is ons in diens van die Kerk van Japan

Wat vir ons van meet af aan prinsipieël belangrik was, is dat Japan ’n klein maar geestelik sterk inheemse plaaslike kerk het. Sendingwerk vanuit die buiteland is in beginsel om saam en verkieslik binne die plaaslike kerk te werk, onder die plaaslike kerk se toesig en leiding. Dit is presies die pad wat die NG Kerk en Missie Japan van die begin af en tot vandag toe nog geloop het. Ons sendelinge hier in Japan is niks meer nie as net die gestuurdes en verteenwoordigers van die kerk in SA en diensknegte van die Christelike Gereformeerde kerk van Japan, onder wie se leiding en toesig ons staan en bedien.

In reaksie op ’n versoek van die Kerk van Japan lei die Gees die NGKerk na Japan

Dit het alles begin toe afgevaardigdes van die Christelike Gereformeerde Kerk van Japan (Reformed Church of Japan = RCJ) in 1970 by die Gereformeerde Ekumeniese Sinode in Sydney (Australië) die NGKerk afgevaardgdes versoek het om sendelinge na Japan te stuur. Hierna het die Sinode van die NG Kerk in die Vrystaat in April 1972 besluit om met sendingwerk in Japan te begin. Inderdaad ’n historiese besluit aangesien daar in die hele NG Kerk tot op daardie stadium geen amptelike sendingwerk vanuit dié Kerk oorsee gedoen was nie (wel in die res van die kontinent van Afrika). In 1974 is ek en Annalie as ’n bloedjong sendingpaar na die RCJ gestuur.

Ons werk binne ’n amptelike sending-samewerking ooreenkoms

Sedertdien het daar baie water in die see geloop. Alhoewel die werk vanuit die NG Kerk in Japan op ’n stadium tydelik onderbreek was, is dit in 2000 weer met alle erns hervat. Vandag het beide die NG Kerk Algemene Sinode en die RCA amptelike bande met die RCJ en bestaan daar ’n amptelike en duidelike sending samewerkings-ooreenkoms tussen ons kerke. Missie Japan is die amptelike kommittee van die NG Kerk-familie wat die sending na Japan administreer. Ons as sendelinge is volledig lidmate en predikante van die RCJ. Ons fokus-gebied is Shikoku, die kleinste van die vier groot eilande van Japan waar ons binne die RCJ Shikoku Ring werk.

In 2009 het Stéphan en Carina van der Watt as voltydse sendelinge by ons kom aansluit nadat hulle deur ’n proses van keuring (ook deur die Ring van Shikoku) moes gaan. Gys en Linda Olivier is ook op Shikoku onder die vaandel van Missie Japan, en gee voltyds Engels by die enigste Japannese Christen skool op die eiland. Op versoek van die RCJ Ring van Shikoku-eiland het Missie Japan biddende besluit om ’n verdere sendingpaar te werf. Dit is nie ’n vinnige en eenvoudige proses nie aangesien so iemand aan hoë vereistes moet voldoen, deur die RCJ goed gekeur en beroep word, en moet help om sy/haar eie finansiële ondersteuning te werf.

Missie Japan

Missie Japan is ’n gesamentlike amptelike kommittee van die NG Kerk-familie wat ook deur die RCJ as sodanig erken word. Ons hoofkwartiere is in die Vrystaatse Sinodale Getuieniskantoor met Dr. Gideon van der Watt die administrateur van Missie Japan en die amptelike skakelpersoon tussen die RCJ en die Kerke in SA. Ons is is egter ’n geloofsending afhanklik van die vrywillige bydraes van gemeentes oor die totale spektrum van die NG Kerk-familie (veral die Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap en Oos-Kaap), wat ook amptelik op Missie Japan kommittee verteenwoordig word. Dié ondersteuningsbasis brei tans baie vinnig uit na nog meer streke.

Die totale onkoste om ’n sendeling (predikant) in Japan te onderhou vergelyk goed met dié van die totale pos van ’n predikant in die NG Kerk in Suid-Afrika op topskaal, alhoewel Japan steeds ’n baie duur land is om in te woon. Missie Japan is basies verantwoordelik vir die sendelinge se salaris en toelae sowel as reiskoste tussen SA en Japan terwyl die RCJ, in beginsel en sover moontlik (tenspyte van die feit dat veral die kerk op Shikoku-eiland klein is en finansieël swaar trek) probeer instaan vir die huisvesting-, reis- en werkskoste in Japan.

Die NGKerk-familie en die Christelike Gereformeerde Kerk van Japan

Die Gereformeerde Kerk van Japan is een van slegs drie oorsese kerke met wie die NG Kerk Algemene Sinode ’n susterskerk-verhouding het. Moderatore / afgevaardigdes besoek gereeld mekaar se sinodes om wedersyds groete oor te dra, wedersydse besoeke van lidmate en jongmense vind af en toe plaas, teologiese dosente van die RCJ Kweekskool in Kobe het al lesings in SA aangebied. Dosente vanaf SA het al in Japan lesings gegee en studente van die RCJ het al onder sorg van Missie Japan in SA korttermyn studies aangepak.

Dr. Koichi Mino, wat tans ‘n RCJ predikant in Tokyo is, het sy Meesters en Doktorale graad destyds, in Afrikaans, aan die Teologiese Fakulteit van Stellenbosch verwerf (hy is getroud met Mareta van Stellenbosch, ’n gekwalifiseerde mediese dokter). Verder is die RCJ Sinodale Diakonale kommittee  finansieël betrokke by VIGS projekte in SA. Die RCJ het landswyd 6 Ringe, 90 gemeentes, 52 sendingposte, 126 predikante, 45 afgetrede predikante, 333 ouderlinge, 5335 belydende lidmate en 9,880 dooplidmate (2009 statistieke).

RCJ Ring van SHIKOKU eiland

Die RCJ Ring van Shikoku eiland het altesaam twaalf amptelike gemeentes (’n gemeente kan gestig word wanneer hulle tenminste twee ouderlinge kan beroep) en sewe sendingposte. Die totale belydende lidmaattal is 569 en verbondskinders (dooplidmate) is 207. Die 19 gemeentes en sendingposte word deur 14 voltydse leraars bedien.

Ons sendelinge se amptelike posisie

Ons as sendelinge is verbonde aan ’n plaaslike gemeente (RCJ Tokuhsima gemeente) en staan onder die leiding, toesig en tug van die plaaslike kerkraad. Ons opdrag en taak is egter veel wyer as die een gemeente waar ons betrokke is by weeklikse prediking, bidure ens. Dit behels onder andere om verder onder leiding en toesig van die RCJ Ring (se Sending- en Samewerking-kommittee), en op uitnodiging in verskillende gemeentes vanuit die hele Ring te preek en sending-motiverings en toerustings-seminare aan te bied.

Ons sendelinge se praktiese bediening

In die gemeenskap waar ons woon is ons betrokke by vriendskap-evangelisasie, gasvryheid-bediening en Bybelstudies met soekende individue. Stéphan en Carina is ook nog intensief besig met taalstudie en Carina veral met die versorging en opvoeding van Annlie en Cornelius, hulle twee peuters (sy moet ook self die kinders se skoolopleiding beplan en hanteer). Stéphan, wat gespesialiseer het en sy doktoraal in Praktiese Teologie (spesifiek Pastorale Sorg) gedoen het, is in ’n goeie posisie om in die toekoms sy opleiding en gawes aktief binne die RCJ en in Japan te benut d.m.v. berading, lesings en toerustings seminare.

Ons lang pad saam met die Christelike Gereformeerde Kerk van Japan

Ons verhouding met die Christelik Gereformeerde Kerk van Japan en die NG Kerk se betrokkenheid in Japan pad kom al ’n baie lang pad – amper 40 jaar – waarvoor ons die Here baie dankbaar is en waarop ons opreg trots is. Dis ’n intieme broederlike/susterlike verhouding van wedersydse respek met die mooiste samewerkings-ooreenkomste wat vir ons (ook as sendelinge) baie kosbaar is en ten alle koste soos goud bewaar moet word.

In die daarstelling en verdieping van hierdie besondere verhouding het Missie Japan se uitvoerende kommittee en spesifiek ons sekretaris, Dr. Gideon van der Watt, asook ons voorsitter, Ds. Victor Pillay oor die jare heen deurslaggewende rolle gespeel met hul mooi dienende gesindheid en Christelike sensitiwiteit vir ons broers en susters van die RCJ.

Ons dank die Here daarvoor en vir duisende lidmate en gemeentes in SA wat Missie Japan op vele maniere ondersteun en dra. Ons bede is dat dit nie net tot die einde volgehou sal word nie maar ook wyer sal uitkring en verder sal verdiep soos meer gemeentes en lidmate deel in hierdie visie en missie van ons NG Kerk-familie.

Tobie en Annalie

Comments (2)

Marlene WesselsJune 1st, 2011 at 2:09 PM

Ons bid vir julle werk om die land en sy mense met God se liefde en Woord te bedien, veral in hierdie moeilike tyd.
Hein en Marlene Wessels, Struisbaai

[…] langtermyn verhoudings tussen die NG Kerkfamilie en die RCJ verder uit te […]

Leave a comment

You must be logged in to post a comment.