2024.04.04 Niihama Nuusbrokkie
Liewe Vriende
Sedert ons laaste kommunikasie (19 Februarie!!), het mooi positiewe dinge hier gebeur:
Alhoewel die nie-Christen dame nog nie weer kerk toe gekom het nie (ons hou wel kontak met haar), het die lidmaat wat haar met haar negatiewe opmerking weggejaag het en klaarblyklik sleg en skaam gevoel het en gesê het dat sy vir eers nie eredienste sal bywoon nie, amper dadelik weer kerk toe gekom (natuurlik na talle reguit en openlike pastorale gesprekke). Ons glo sy en ons almal het ‘n goeie les uit dit geleer. Kan amper sê dat dit nogal nodig was om almal se oë oop te maak vir die primêre rede waarom die kerk hier is! Alhoewel die opmerking van die lidmaat ons op daardie oomblik diep geskok en ontstel en ontmoedig het.
In my prediking en ons gesprekke word die hooftaak van die kerk, van elke gemeente en van elke gelowige voortdurend beklemtoon: volg en gehoorsaam Jesus om die buitenstaanders en verlorenes te soek en te bedien. “Die hooftaak van die Kerk is die evangelisering van die wêreld!”
Al is RCJ Niihama ‘n piepklein sendingpossie met meestal ouer dames, is dit ook ons en elkeen se hooftaak — nie na binne nie, maar na buite gerig. Ons is almal sendelinge!
In hierdie maand het ons twee Annalie se verjaardag (12 Maart) gevier en op Saterdag 30 Maart ons 50ste Huweliksherdenking. ‘n Groep jonger lidmate van Tokushima gemeente het ‘n tyd voor die geleenthede vir ons al die pad kom haal om in ‘n luukse hotel beide geleenthede saam te vier.
Dit is 50 jaar gelede dat ons huweliks bevestiging in PE-Wes NG kerk niks anders was as ‘n “Uitstuurdiens as sendelinge na Japan.” Wat ‘n genade-voorreg om dit 50 jaar later weer terug in Japan te kan vier.
Die hoogtepunt van die afgelope tyd is definitief die besoek van Elsabé en Johan du Plessis, afgevaardig deur Hoopstad NGK gemeente om ons sendelinge hier op die veld te bemoedig en aan te moedig (sendelinge versorging). Ons het eers ‘n twee-dae retreate in Kobe saam met die Van der Watt-gesin gehad wat deur Elsabe en Johan gelei is.
Daarna is hulle twee saam met ons hier na Niihama waar hulle ons die Saterdag vergesel het met die viering van ons huweliksherdenking, die Sondag die erediens bygewoon en ‘n goeie tyd met die lidmate kon deurbring.
Maandag het ons toe, met Johan en Elsabé hier, weer ‘n spesiale Afrika Dag gereel met ‘n tipiese Afrika-braai en ‘n verskeidenheid Afrikaanse geregte, krummelpap, KWV wyn ens. Ons was altesaam 21 mense waarvan 16 uit die omgewing van buite die kerk was. Dit was regtig ‘n mooi gesellige geleentheid wat hopelik die mense ‘n positiewe ervaring van die kerk en Christene gegee het.
Nogmaals dankie vir elkeen se biddende meelewing met die kerk en werk ook hier in Japan.
Seëngroete
Tobie en Annalie