2023.07.18 Niihama Nuusbrokkie
Liewe Vriende,
Presies ‘n kwart van ‘n jaar (3 maande) is verby sedert ons op 17 April deur RCJ Shikoku Ring bevestig is as pastor/prediker/evangelis en ingetrek het by RCJ Niihama Sendingpos. Aanvanklik was dit elke tweede Sondag, maar sedert bietjie meer as ‘n maand gelede doen ek die hele erediensliturgie en preek elke Sondag in die kerkie van Niihama. Na die erediens sit Annalie vir almal ‘n ete voor vir “fellowship” en om selfs die preek ens. te bespreek.
Die afgelope Sondag was ‘n hoogtepunt: Die Van der Watt-gesin was die naweek by ons om ons kleindogter, Annlie se sestiende verjaardag hier by ouma en oupa te kom vier. Vir die heel eerste keer het ons ook “onverwagse” besoekers gehad, ‘n jong paartjie uit Tokyo op reis, wat by ons erediens ingeloer het. ‘n Verdere verrassing was die bywoning van ‘n jong vrou, lidmaat van die gemeente, maar wat vir jare nooit erediernste bygewoon het nie. Dit was vir ons paar lidmate ‘n groot verrassing en bemoediging. Annalie moes natuurlik bontstaan om skielik te sorg vir kos vir al die onverwagte gaste. Almal het egter lekker geëet en die saamwees en gesels was fantasties.
Ons kinders en kleinkinders se besoek het ons ook goed gedoen. Nou terug na “normaal”. Elke Woensdagaand is Kenji san hier vir sy Bybelstudie, al sy vrae en lekker saamgesels (my gebrekkige Japannees tenspyt). Vanaf Oktobermaand moet ek maandeliks basies twee keer ook in ander gemeentes in RCJ Shikoku Ring preek. Meeste van my tyd word natuurlik opgeneem deur preekvoorbereiding in Japannees en ek bly dankbaar vir my Japannese skoondogter wat seker maak dat my preke min of meer verstaanbaar is.
Ons ry ‘n paar keer in die week fiets (enigiets van 20km tot 30km per keer), maar dit moet baie vroeg gedoen word (enigiets van 5vm) om die erg hitte van die vuurwarm son en sweterige bedompigheid vry te spring. Dankbaar vir “airconditioners,” nag en dag! Buite die huis steek jy jou kop nie uit nie, tensy jy na die verkoelde winkel moet of kan gaan. Die Regering waarsku ons “ou mense” om nie buite te gaan nie, om verkoeling te gebruik en natuurlik om genoeg water te drink.
Ek en Annalie begin normaalweg ons dag met gesamentlike Bybelstudie, sang, gebed en voorbidding. Ons is besig met die boek Handelinge en is diep bewus van die kernrol wat die Heilige Gees speel in die sending van die kerk, ons verhouding met Hom (die opgestane Jesus en die Vader deur die Gees), ons sensitiewe gehaarsaamheid aan Hom en ons vertroue op Hom: “Die werk is Uwe troue Heer, die werk waarin ons staan. En daarom kan hier nimmermeer die werk ten gronde gaan. Maar soos die koringkorrel spruit, as dit bedek word deur die kluit, so moet die EIE-Ek eers dood, die SELF so snood, die eie-ek eers dood.” (my geliefde Hallelujalied)
Nogmaals diep dankbaar vir almal se voorbidding, meelewing, WhatsApp bemoedigende boodskappe en konkrete ondersteuning.
Tobie en Annalie de Wet – tobiedewet@hotmail.com