2023.05.02 Nuusflits
VEELKLEURIGE brokkies uit ons lewe en leer
Ontbyt by Commonwealth House in Oxford saam met mede-studente uit
Poland, Turkye, Japan, China, Hong Kong en Engeland.
Pinkster lê voor ons, en ek vertrou daar lê ‘n genotvolle langnaweek agter jou!?
By ons in Japan, terwyl die pienk-pers en wit Tsutsuji (Azalea) blom en die rysboere gereed maak om neon-groen rysplantjies te plant, lig ek net ‘n paar hoogtepunte uit van die afgelope ses weke.
Vol, veelkantige besoek aan Oxford en verder
Psalm 117 besing die veelkleurige, globale genade van God:
Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk,
aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!
Ek het opnuut iets van die reikwydte en diepte van dié (kortste) Psalm se lofsang eerstehands beleef in Maart. Dit was ‘n reuse, unieke voorreg om by die Oxford Centre for Mission Studies (OCMS) en ander plekke te draai vir verrykende (en hopelik verreikende) navorsing/studieverlof, besprekings en die aanbied van lesings. Soos belowe doen ek dié keer meer volledig verslag.
KLIEK HIER om meer te sien en lees oor die blywende indrukke (met foto’s) uit die ervaring.
Indien jy verder tyd het en belangstel, kliek op die volgende twee skakels vir (akademiese) artikels wat voortkom uit my navorsing:
- Mission-minded pastoral theology and the notion of God’s power: Maturity through vulnerability
- Diaconal Church Initiatives and Social/Public Welfare in Postwar Japan: A Descriptive Overview
De Wets vestig en spring weg in Niihama
Tobie (ds.) en Annalie de Wet was in Kobe by ons vir die eerste paar weke ná hulle aankoms. Intussen het hulle amptelik by RCJ Niihama gemeente begin met hulle 3-jaar bediening. Tobie skryf die volgende ná Sondag se eerste erediens:
“Baie dankie vir soveel Whatsapp boodskappe van bemoediging en meelewing en voorbidding. Dit het ongelooflik baie beteken. Ek het ook aan begin van die diens vir almal gesê dat ek vreeslik swak en beangs voel maar dat al die boodskappe van bemoediging en voorbidding van vriende uit ons land en vriendekring ons baie moed en krag gee. Het vreeslik baie aan my boodskap geskaaf en geskuur, Sondagoggend vroeg nog, om dit net meer en meer eenvoudig te probeer maak en (om die rede) waarom Paulus “die alles-oortreffende waarde van die kennis van Jesus” so beklemtoon, nog duideliker te probeer maak. Alhoewel al die huidige lidmate bejaardes is en meeste selfs verswakte bejaardes is of familie het wat hul nie alleen by die huis kan laat nie, was vier vroue in die erediens (een weer vir eerste keer na ‘n baie baie lang tyd), waaroor ons baie dankbaar was. Dan het ons twee nuwe besoekers gehad, ‘n man en sy 24-jarige dogter. Hy het wel ‘n Christelike en kerk agtergrond maar is tog ‘n “soeker.” Omdat hy gehoor het van die Christian Reformed Church of Japan se beklemtoning van “die Bybel alleen”, het hy besluit om te kom kyk en hoor. Ons is dankbaar vir ‘n geseënde dag. Tog ‘n merkwaardige dag! Ons glo gebede is verhoor…”
Die De Wets bou nog hul ondersteunings-basis uit, so maak gerus kontak om hulle te bemoedig by tobiedewet@hotmail.com
Familietroue en meer
In April het ons ‘n groot en unieke lekkerte beleef! Carina se jongste broer Nico is getroud met ‘n Japannese vrou (Akari) van Yamagata provinsie. Dit was my voorreg om die huwelikseremonie te lei en ons as gesin het — saam met Carina se ander familie uit Suid-Afrika — die unieke, veelsydige en veelkleurige onthaal en saamkuier gate uit geniet! Afrikane(rs) is plesierig, ook in Japan(nees) :-).
Verder was ek die afgelope weke o.a. besig met addisionele preke en eredienste by RCJ Shinkō en Tokushima en gemeentes. En natuurlik met die eerste Missiologie klasse se aanbied by KRTS, waar ons met die draai van die akademiese jaar ou studente gegroet en nuwes verwelkom het. Carina was oudergewoonte steeds voltyds aan die beurt ons kinders se tuisonderrig, asook met die ondersteuning van vroue (by KRTS en Kita Kobe gemeente), Sondagskool interaksies en gasvryheidsbediening. Oorweldigend is soms meer akkuraat om al die hooi op haar vurk te beskryf (verál ook met die ekstra lading wat sy moes dra in my lang afwesigheid).
Juis dáárom lê die Golden Week (drie publieke vakansie dae) en glimmer voor ons. Die oggendstond het goud in die mond, en All work and no play makes Jack a dull boy, so ek groet eers sodat ons binnekort die tentpenne kan inslaan vir ons beplande kamp …
Lees asseblief verder hieronder oor ons motor projek en sake vir gebed.
Ons waardeer elkeen se omgee, saam bid en saam stap!
Stéphan, Carina en kroos
MOTOR PROJEK
Op voorstel van Missie Japan se bestuur kon ons ‘n nuwe – tweedehandse – motor koop!
* Die motivering daaragter is verlede keer verduidelik.
* Ons is baie dankbaar vir ‘n Nissan Serena wat 6 jaar oud is maar net 16 000 kilo’s op die klok het en splinternuut lyk van binne en buite.
* Die koopprys was ¥2 miljoen (R267,000).
* Ons het groot waardering vir almal wat reeds bygedra het: ongeveer 25% van die motor is reeds gefinansier deur ondersteuners!
DIe projek is steeds aan die gang.
As jy / julle kleingroep of gemeente miskien ‘n bydrae wil maak,
kontak my @ jsvdwatt@gmail.com of
Sanet Annandale by die Missie Japan kantoor @ sanet@ngkvs.co.za
*** Missie Japan bankbesonderhede ***
Rekeningnaam | Missie Japan
Bank | ABSA
Takkode | 632005
Rekeningnommer | 4049690248
Verwysing | Eie Naam & Van + MOTOR
LINKS BO NA REGS ONDER:
- Azaleas in volblom: Sypaadjies regoor Japan is besaai met Tsutsuji, ‘n fees vir oog.
- Rysplant seisoen: Lande word geploeg en nuwe rysplantjies versorg voor dit geplant word.
- Graadvang @ KRTS: Dankbare harte ná groot toewyding en vasbyt met studies. Die bediening wink!
- Inlywing @ Wes-Ring: ‘n Nuwe vierdejaars student van KRTS word toegelaat as kandidaat leraar.
- @ KRTS Braai: Carina en Annlie gesels met ‘n nuwe student by KRTS se verwelkoming.
- @ KRTS Braai (2): Kollegas deel ‘n ligte oomblik by die verwelkoming onder Sakura bome.
SAKE vir GEBED
Dank die Here saam met ons vir:
* Gereelde, bemoedigende kontak met ondersteuners wat regtig ons welsyn op die hart dra.
* ‘n Geseënde besoek aan Oxford en verder, vir missiologie navorsing.
* Vyf afgestuurde KRTS studente wat gegradueer het en nou in verskillende gemeentes wat hulle werk broodnodig het.
Vra vir die Here se leiding en sorg met:
* Carina se gesondheid, krag, balans (vir selfsorg) t.m.v. voltydse tuisonderrig, huistake, omgee vir mense in ons gemeente ens.
* De Wets se gesondheid en aanpassing in Niihama, ná ‘n vermoeiende trek. Bid vir krag, wysheid en ‘n vrugbare bediening.
* RCJ se diakonale/missionale aktiwteite: o.a. betrokke in Suid-Afrika, Myanmar, Gambië, Hongarye, Kambodië en onlangs ook in Turkye/Sirië met getuienis, liefdesdiens en finansiële ondersteuning – t.m.v. baie uitdagings in Japan self.
* Suksesvolle werwing van jongmense vir diakonale studietoer na Suid-Afrika in 2024.
LINKS BO NA REGS ONDER:
Tiener Bybelstudiegroep: Annlie en Cornelius geniet die maandelikse byeenkoms met vriende.
Blye weersiens: Die Wets groet die Makitas ná jare weer in Kobe, werk voortaan saam in Shikoku.
Oggend trein @ Osaka: Where is Wally? 🙂 Ek is oppad om die ‘nuwe’ motor te gaan afhaal …
Troue in Yamagata: Nico en sy bruid Akari saam met haar gesin by die onthaalplek.
So lyk die spannetjie nou: Annlie (15), Cornelius (13), Lodewyk (11) en Stephan (9).
[…] Het jy enige nuus van ons gemis die afgelope tyd? Kliek gerus hier … […]