Beste vriend/vriendin,
Gister se sneeu lê nog plek-plek in die koppies rondom Tokushima. Midde-in die bibber-seisoen breek ˊn nuwe era aan. Carina se ouers (Tobie en Annalie) is na ˊn totaal van amper 20 jaar se toegewyde bediening oppad terug na hulle geboorteland. Daar is laag op laag wat ons sou kon en wil sê oor ons dankbaarheid, teenoor húlle op wie se skouers ons in Japan leer staan het … maar eers vertel hulle sélf meer hieronder. Lees gerus hul brief en bid asb. saam vir hulle pad vorentoe.
Op ˊn ander noot: “Dankie!” vir almal wat die afgelope weke kontak gemaak het n.a.v. Lodewyk se geboorte, Kersfees ens. Tyd het ongelukkig ontbreek om op elkeen afsonderlik te reageer. Maar ons waardeer die ondersteuning geweldig baie. Meer oor ons doen en late in ˊn volgende nuusflits. Annlie en Cornelius veg steeds om plekke in die voorste ry van hulle nuwe boetie se fan club. Verder gaan dit met ons goed, al is ons gemoedere vol met die swaar afskeid wat die naweek voorlê …
Ons hou kontak!
Vrede en vreugde in 2012.
Stéphan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk
———————————————————————————————————————————

Tobie en Annalie met Cornelius, Annlie en Lodewyk
Liewe familie en vriende,
’n Nuwe jaar het aangebreek (2012) en vir ons ’n splinternuwe fase in ons lewe en bediening. Einde van 2011 het ons amptelik “afgetree” as sendelinge van Missie Japan met die RCJ in Japan. Nou is ek ’n emeritus leraar van die RCJ, amptelik verbonde aan die RCJ Ring van Shikoku. Op Dinsdag 10 Januarie land ons DV op Kaapstad lughawe, presies 12 jaar nadat ons in 2000 ook op 10 Januarie na Japan terug gekeer het vir ons tweede termyn. Daarvan was ons 8 jaar op die Suid-eiland Kyushu en die afgelope 4 jaar op die klein eiland van Shikoku.
Ons kyk terug met groot dankbaarheid oor die afgelope 12 jaar waarin ons soveel seëninge beleef het: In hierdie tydperk het beide die NGKerk en die RCA amptelike sendingbande en ooreenkomste met die Christelike Gereformeerde Kerk van Japan (RCJ) gesluit en het ’n hegte band van vriendskap en samewerking tussen die twee kerke ontwikkel. Oor die jare het ons soveel wonderlike bande kon smee met mense buite en binne die kerk van Japan en het ons die groot voorreg gehad om die saad van die evangelie wyd te saai. Dit is broers en susters en (nie-Christen) mense met wie ons sekerlik kontak sal behou en voor sal bid tot die einde van ons lewe. Ons werk in Japan is nie afgehandel nie! Dit sal voortgaan tot ons ons laaste asem uitblaas. En om dit te bevestig het die Here ons eie kinders (Stephan en Carina met Annlie, Cornelius en Lodewyk) geroep en gestuur om nog vir baie jare voort te gaan met die verhouding met die RCJ en die sending van Missie Japan saam met die RCJ.
Die afgelope 4 jaar in Shikoku was beslis ’n geseënde hoogtepunt in ons bediening in Japan! Die sending-ooreenkoms tussen MJ en die RCJ Ring van Shikoku is ’n baie besondere een. Die verhouding tussen MJ en die Ring van Shikoku is ’n baie intieme vertrouens- en samewerkings- verhouding. In Tokushima Gemeente, waarin ons samewerkende sendelinge is, het ons soveel liefde, ondersteuning en waardering ontvang dat ons eintlik klein en onwaardig voel. In die hele Ring van Shikoku kon ons al die gemeentes besoek en bedien met die Woord en met gereelde sending seminare help om die gemeentes se sendingroeping te verdiep. Intussen het nuwe sendelinge vanuit SA by ons kom aansluit: Ons eie kinders en ook Gys en Linda Olivier as Engelse onderwysers by SEIWA Christenskool hier in Shikoku.
Die afgelope jaar (2011) was die klimaks van almal! Eers die groot ramp in die Noord-Ooste van Japan waarby ons, danksy Missie Japan en die Ring van Shikoku, onmiddelik betrokke kon raak en uiteindelik vir ’n volle drie maande in die gebied kon gaan bedien, beide geestelik en fisies … ’n ervaring wat ’n diepe-diepe indruk op ons gemaak het. Verder het ons ook vanjaar in verskeie gemeentes verder as Shikoku bedien. ’n Droom wat ons altyd gedroom het, naamlik die aanbied van ’n huwelik-verrykings seminaar, is bewaarheid. Ons sluit inderdaad ons 20 jaar in Japan op ’n groot hoogtepunt af! PRYS DIE HERE!
Nou lê ’n splinternuwe pad met nuwe uitdagings voor… Ons vestig onsself saam met my (Tobie) se suster en swaer, Annelie en Lodewyk Spies, op Swellendam, Augestraat 50. Dis slegs 10 kilometer van ons jongste dogter, Corlia en Sakkie Nel en hulle kinders, Daniël and Tobie en nie te ver van ons oudste, Dries, Dene, Rita en Nella in die Kaap en ons jongste, Nico, naby Stellenbosch nie.
Die Kerk van Japan het ons versoek om so gou as moontlik en vir so lank as moontlik weer terug te kom Japan toe om te help in die rampgebied. ’n Hoë profile afvaardiging van die RCJ van sewe persone besoek SA aan die einde van Februarie om dankie te kom sê vir die Kerk in SA se werk in Japan, asook vir ons betrokkenheid in die rampgebied. Terselfdertyd sal hulle ook saam met Missie Japan se bestuur beraadslaag oor ons toekomstige betrokkenheid, in Shikoku sowel as in die rampgebied. Die afvaardiging sluit in, die moderator van die RCJ, Ds. Yoshida asook Ds. Tateishi, beide woonagtig en aktief betrokke in die ramgebied. Dan ook die vorige rektor van die Kobe Kweekskool en bekende Japannese Gereformeerde teoloog, Ds. Makita. Verder, die predikant van ons eie gemeente in Tokushima, Ds. Kataoka en sy vrou, Kazumi, en laastens die verteenwoordiger van die RCJ Sinodale Kommissie vir Ekumeniese betrekkinge, Ds. Ashida en sy dogter, Kana.
Die voorlopige beplanning is dat die afvaardiging die drie hoof areas van Missie Japan se ondersteuning (Wes- en Suid-Kaap, Oos-Kaap en Vrystaat) sal besoek om met ondersteuners in elke area te ontmoet. Hulle land Vrydag 24 Februarie in Kaapstad, besoek Kaapstad-Stellenbosch gebied, beweeg na Swellendam, George en Port Elizabeth en vandaar na Bloemfontein om uiteindelik op Woensdag 7 Maart uit Johannesburg te vertrek terug na Japan. Ons vra julle voorbidding en samewerking wat hierdie besondere en geskiedkundige besoek (veral na die Groot Ramp) betref.
Aan die begin van die nuwe jaar wil ons aan julle almal wat oor soveel jare met soveel opoffering en volharding mee geleef het met ons persoonlik, en met die Kerk en sending in Japan, BAIE BAIE DANKIE sê. Ons wil vra dit julle sal voortgaan met dieselfde ywer in jul meelewing met Stephan-hulle, Gys en Linda-hulle, en nuwe sendelinge wat nog sal gaan. En ook dat julle nie van ons sal vergeet nie, waar ons in ’n nuwe fase moet aanpas en voor nuwe uitdagings staan en selfs op pad terug na Japan is om in die rampgebied te kom help, en in die toekoms op allerhande nuwe maniere ons bediening met Missie Japan en die RCJ in Japan sal voortsit.
Ons epos adres is tobiedewet@hotmail.com
Ons sal kontak met julle almal baie waardeer.
Met liefde en seënbede,
Tobie en Annalie de Wet
Tateishi sensei se preek
Ons was onlangs op besoek aan die Sendai-gebied in die Noord-Ooste van Japan – die rampgebied waar die aardbewing, die tsoenami en kernbestraling agt maande gelede geweldige verwoesting gesaai het. Ons het gaan saampraat oor die aanwending van die byna R700 000 rampfonds wat Missie Japan ingesamel het en oor Tobie en Annalie de Wet se voortgesette betrokkenheid in die gebied. Ons wou op ‘n manier ook gaan handevat met ons broers en susters in die gemeentetjies daar.
Wat ‘n belewenis! Oral is die wonde nog sigbaar; dorp op dorp wat platgevee is en berge rommel wat soos mynhope in die plek daarvan verrys. Tussen die stukke afval van wat eens veilige tuistes en bekende gemeenskappe was, dwaal enkele mense nog verwese rond. Met die hoop om dalk tog iets herkenbaar terug te vind, ‘n speelding, ‘n bekertjie, ‘n stukkie klere – as verweer teen die angs en rou oor die groot golf uit die see, wat daardie dag ‘n hele bestaansruimte, met soveel geliefdes en bekendes, in een hap kom insluk het.
Ons het saam met ‘n vrou in die ruïnes van haar eens luukse woning gestaan en gesels oor haar belewenis. Dit was aangrypend, die manier waarop Reiko san as Boeddhis en tipiese Japanner haar hart vir ons oopgemaak het, ons naby haar toegelaat het. Dis vreemd aan die kultuur daar, waar kinders van kleins af geleer word om nie emosie te wys nie, vas te byt, altyd maar net weer op te staan.
Van hierdie merkwaardige vermoë om weer op te staan, op te ruim en te herbou, het ons oral tekens gesien. Eintlik is dit ongelooflik om te sien wat alles reeds in die kort tyd na die tsoenami vermag is. Tussen die verlate, opgefrommelde huise en hope rommel is daar oral nuwe groentetuintjies, kool en spinasie en rape - tekens van hoop en nuwe lewe.
‘n Gesprek met die plaaslike leraar van die klein gemeente in die gebied het ons diep geraak. Tateishi sensei was ‘n gewone jong leraar van die Reformed Church in Japan, immer met ‘n pak klere (soos alle middel- en hoër klas mans in Japan), toegewyd, formeel, met ‘n beheersde ordentlikheid in leer en lewe, soos dit pas by ‘n dominee in die baie behoudende Gereformeerde susterkerk.
Maar toe kom verander die tsoenami alles, sy hele bediening. Toe hy die dag die hope lyke sien, die totale verwoesting, het hy ophou praat. Hy kon veral ook nie meer preek nie, het hy vir sy geskokte kerkraad gesê. Want as dominee was hy kwaad vir God. Later het hy sy woede teen God verloor, want hy het begin glo God bestaan nie. Dit het geen sin meer gehad om vir ‘n God wat nie bestaan nie kwaad te wees. Sy woede was egter nog gerig op welmenende Christene wat God se handelinge probeer regverdig het, maklike verduidelikings probeer gee het.
Toe trek hy maar sy pak klere uit en trek die klere van ‘n gewone handearbeider aan. En hy begin modder en stinkende vullis opruim uit die huise wat nog bly staan het. Sonder woorde, elke dag. Een huis na die ander. Vir drie maande het Tobie en Annalie hiermee gehelp. Ander jong vrywilligers het ook kom help. Christene van oral-oor, maar ook nie-gelowiges, met die dominee vooraan. Sonder woorde of verduideliking. In die hoofsaaklik Boeddhistiese gemeenskap het daar ‘n nuwe hoop en groot waardering begin groei. Die swygende dominee in die werkersklere word ‘n geliefde na wie almal wys en vra.
Dit word toe sy beste preek ooit, merk ek teenoor Tateishi sensei op. Ja, antwoord hy verleë. En soos ‘n Wesley van ouds preek hy daarmee homself toe sommer weer die geloof in, bely hy. Want in die modderslym het hy vir Christus ontmoet, teenwoordig, langs hulle en deur hulle besig om op te ruim, heel te maak, nuut te maak. Dis waaroor sy woordelose preek toe al die tyd gegaan het, het hy mettertyd ontdek.
Mag ons die Kersfees ook weer hierdie Christus ontmoet, langs ons, in ons stukkende wêreld.
Geseënde Kersfees!
Gideon van der Watt – missio@ngkerkovs.co.za
Tobie de Wet skryf die volgende oor die bg. artikel: Hierdie artikel van Gideon oor hulle besoek aan Japan en veral die rampgebied en sy ervaring en waarneming is treffend geskryf. Dit was inderdaad ’n aangrypende ervaring, veral die ontmoeting en gesprek met Tateishi sensei vir wie ons groot waardering het. Hy en sy gemeente het spesifiek gevra dat ek en Annalie vir die volgende paar jaar daar kom help. Dit is DIE Gemeente in die RCJ wat in die rampgebied op die voorlinie is van praktiese hulpverlening, opruimings- en herbouwerk. Die hele RCJ is agter hulle met fondse en honderde volunteers, veral jongmense maar ook ouer mense vanoor die hele land en ook van oorssee wat sedert die tsoenamie letterlik daagliks help. Tateishi sensei het van die begin af die inisiatief geneem en die leiding gegee en doen dit steeds. Die wyse waarop hy eerlik sy hart vir Gideon, Victor en myself daardie dag van ons besoek oopgemaak het, was eenvoudig aangrypend. Ekself kon nie help om diep bewoee te raak nie. Gideon het hom gevra hoe die gebeure van die aardbewing en tsoenamie hom persoonlik geraak het. Dit was die eerste keer dat iemand hom die vraag vra…. Nadat hy ’n rukkie stilgebly en as te ware gehuiwer het, kom hierdie ongelooflike ontboeseming en dit nog in die teenwoordigheid van sy hoofouderling wat langs hom staan (en wat self ook sy pak klere uitgetrek en besig is om sy voete en hande te bevuil met harde fisiese opruimingswerk).
Daar`s soms flitsmomente in die lewe wanneer jy ervaar dat jy deel is van elke breukdeel van `n sekonde se ratwerk … wanneer jy volledig IN die moment is … bewus van elke asemteug, handgebaar en wenkbrou se lig …
Vandag het ons dit deurleef met ons seun Lodewyk (volle name: Lodewyk Petrus) se geboorte. Dit was `n BAIE spesiale ervaring … natuurlik met harde werk en baie pyn vir Carina … maar gelukkig `n heelwat korter proses as wat met Annlie en Cornelius die geval was. Die outjie weeg in teen 4.14 kg … geen wonder hy`t `n paar dae vroeer as sy verwagte datum opgedaag nie!
Ons is baie dankbaar vir die Here se groot genade hierin, en waardeer jou meelewing met ons in hierdie brose, maar onverdunde en opwindende tyd.
Vrede
Stephan, Carina, Annlie, Cornelius en Lodewyk
Beste vriend/vriendin ,
Eerder laat as nooit … só is dit nou met hierdie gebedsflits. Die afgelope maand is my werk herhaaldelik onderbreek a.g.v. rekenaar-probleme, maar dis nou uitgesorteer. As ek dalk nie gereageer op ‘n dringende e-pos nie, laat weet asb. weer indien moontlik. Jammer vir die vertraging! Ek stuur intussen hierdie gebedsflits voordat ek binnekort (uiteindelik!) meer vertel oor die afgelope tyd se doen en late … dit is nou ás ons derdeling(seun) nie dalk intussen vroeër as verwag sy verskyning maak nie …
Gebede wat bemoedig
Dankie vir elkeen wat getrou bly bid vir Nobuo (Terauchi) – dit maak ‘n verskil! Sy suster Miwa het onlangs ‘n kort briefie geskryf oor sy merkwaardige herstel sedert sy ernstige beroerte vroeg in Julie vanjaar: “Thank you so much for your prayers for my brother. He is really recovering and now he can walk really well without stick, even outside he can walk independently. And he can come to church every Sunday. He can speak much easier now. He still needs training for his word and hand. If you could pray for him it will be great.”

Annlie en Cornelius by Nobuo in die hospitaal
Buiten die gebedsversoek vir Nobuo wil ons graag die volgende noodsaaklike gebedspunte ook met jou deel, en vra om saam te bid …
Persoonlik:
- Bid asb. saam met ons vir Carina en die ongebore baba se gesondheid in hierdie laaste dae van haar swangerskap (moontlik nog drie weke oor). Sy dra alreeds swaar, maar dit gaan goed. Die hospitaalopset is ‘n taamlike uitdaging m.b.t. die Japanese manier van geboorte-hantering, so wel as die taalgaping ens.
- Annlie en Cornelius vaar heel goed met hulle inskakeling by die kleuterskool – ‘n paar uur op Dinsdae en Woensdae. Dit is nogal iets wat `n gesonde balans in ons weeklikse roetine meebring. Ons is dankbaar vir die voorreg.
- Stephan se Japannese taalstudie (en Carina s`n) vorder goed, maar vereis toegewyde volharding, fokus en toenemende insig. Dit hou ons daagliks pal besig. Stephan se bedieningsverpligtinge (preke, besoeke aan verskeie gemeentes ens.) neem vanaf Maart 2012 amptelik aanvang, dus sal die volgende paar maande met belangrike voorbereidings gepaard gaan.
- Carina is ook by ons plaaslike (RCJ Tokushima) gemeente se kleuterbediening (Tokushima Happy Kids) betrokke, en sy en Miwa doen baie moeite met die afskop van hierdie nuwe onderneming. Intussen is Carina se aanbieding van Engelse klasse tot vroeg volgende jaar onderbreek t.w.v. die baba se geboorte.
- Tobie sukkel al die afgelope twee weke om ontslae te raak van ‘n sinus-/griepvirus. Hy en Annalie het ‘n baie vermoeiende tyd van ondersteunende bediening in die Sendai-gebied gehad, en die laaste twee maande wat oorbly is ook volgepak. Bid asb. vir hulle emosioneel-geestelike en liggaamlike gesondheid.
- Bid asb. vir Gys en Linda Olivier – ons kollegas – vir volgehoue energie in hulle daaglikse onderrigprogram en buitemuurse aktiwiteite saam met hulle leerlinge en mede-onderwysers (in Seiwa Christenskool in Kochi).
Bediening:
- Doen asb. steeds voorbidding vir die klein RCJ gemeentes – veral vir hulle leraars en leiers – wat steeds uitreik na die getraumatiseerde mense van die Sendai-rampgebied. Vele vrywilligers het ook gebedsondersteuning nodig in hulle pogings om die plaaslike mense fisies te help om hulle huise te herbou, sodat hulle hulle eie lewens in orde kan kry.
- Die daarstelling van ‘n beradingsentrum is ‘n voortgaande proses. Die sentrum sal beradingsdienste bied vir mense wat hulp soek om hulle trauma te verwerk, en verblyf verskaf aan vrywilligers wat in die streek werksaam is. Missie Japan se betrokkenheid gaan voort. In samewerking met die Christelik-Gereformeerde kerk van Noord-Amerika (CRCNA), die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ), die Koshin Presbiteriaanse Kerk van Korea, en die Ortodokse Presbiteriaanse Japan-Sending maak ons (en jy as ondersteuner) bydraes ten einde ‘n Christen-sorgsentrum in Yamamoto-cho in Sendai te vestig. Verder bly die RCJ-gemeente van Higashi-Sendai se koördinering van die vrywillgers van regoor die wêreld, ‘n fokuspunt waarby Missie Japan waarskynlik ook op die langtermyn betrokke by sal bly.
- Dr. Gideon van der Watt (sekretaris van Missie Japan) en Ds. Victor Pillay (voorsitter van Missie Japan) besoek ons in Tokushima volgende week (vanaf 5-13 Nov.). Hulle kom om baie belangrike sake te bespreek met die plaaslike RCJ verteenwoordigers van die Shikoku-ring. Hulle sal ook self (saam met Tobie) die Sendai-rampgebied besoek en Missie Japan se huidige en toekomstige betrokkenheid (moontlik ook deur die De Wets) daar in-diepte deur gesels. Verder sal hulle ook amptelik deel vorm van Tobie en Annalie se afskeidsfunksie, en o.a. ook belangrike gesprekke met plaaslike kerkleiers voer oor ons (as Van der Watt-gesin se) toekomstige bediening ens. Bid asb. vir wysheid en leiding met hulle reise, verhoudings met plaaslike kerkleiers, en vergaderings.
- In ons plaaslike RCJ gemeente in Tokushima het drie mammas met hulle kleuters onlangs begin om ons eredienste by te woon. Hulle kom vanuit ‘n Shintoïstiese/Boedistiese agtergrond en dit is hulle eerste ondervinding van ‘n kerkomgewing, eerste kontak met Bybelse inhoud, kinderbediening ens. Een dame het die afgelope ses maande getrou dienste bygewoon. Bid saam met ons vir God se leiding, en vir oop harte terwyl die saad van die evangelie in hulle lewe gesaai word (Rom. 10:14 – “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?“)… hierdie is en bly God se werk, en ons is bevoorreg om daaraan deel te hê.
- Tobie en Annalie besoek Fukuoka en Hiroshima omgewings vanaf 29 Okt – 3 Nov vir opvolg-bediening. Hulle sal beslis ‘n nuwe inspuiting van energie nodig hê om hulle laaste verpligtinge – voor hulle terugkeer na SA aan die einde van 2011 – te voltooi. Hou asb aan met bid vir hulle vir krag, asook vir God se vertroosting in hierdie moeilike tyd van afskeid neem na `n totaal van amper 20 jaar in Japan.
- Tobie het die voorreg gehad om die (66ste) RCJ Algemene Sinode verlede week in Tokyo, toe te spreek. By hierdie geleentheid is amptelike waardering en lof vir sy en Annalie se langtermyn toewyding, asook vir hulle opofferende korter termyn betrokkenheid in die Sendai-rampgebied, uitgespreek. Dit was wonderlik om te beleef, maar tegelykertyd ook baie emosioneel, lees hartseer en nostalgies. Dr. Pieter van Jaarsveld (moderator van die Vrystaatse Sinode van die NGK) se bemoedigende teenwoordigheid en sensitiewe betrokkenheid by Japannese kollegas, het ‘n besondere ondersteunende uitwerking gehad op ons as sendelinge. Hy het vir ‘n paar dae by ons besoek afgelê en ons is dankbaar dat hy ‘n sleutelrolspeler en betroubare verteenwoordiger van Missie Japan in albei kontekste (SA en Japan) is.
Baie dankie vir jou volgehoue ondersteuning, dit dra ons!
Stephan, Carina, Annlie en Cornelius
(ook namens Tobie en Annalie en Gys en Linda)
Beste vriend/vriendin,
Ons is al vir meer as drie weke terug in Japan en deur God se genade gaan dit baie goed …. Ons wil graag vir julle baie meer vertel van die sinvolle tyd in Suid-Afrika (en Nieu-Seeland), en ons huidige bedrywighede. Jy kan gerus loer na ons jongste gebedsversoeke en ‘n onlangse foto (net hieronder in die gebedsflits van 22 Sept). Maar eers is dit belangrik om die jongste nuus vanuit die Missie Japan kantoor in Bloemfontein (Suid-Afrika) oor ons betrokkenheid by die rampgeteisterde gebiede met jou te deel.
Dankie vir die volgehoue ondersteuning!
Vrede en vreugde,
Stéphan, Carina, Annlie en Cornelius
—————————————————————————————

Nuusbrief aan alle medewerkers van Missie Japan – 21 September 2011
Liewe Broers en Susters,
1. Rampfonds
Missie Japan wil graag weer dankie sê aan alle kerke, gemeentes en individue wat tot die rampfonds bygedra het. Julle het ons gehelp om ons Japannese broers en susters, wat so ernstig deur die ramp geraak is, te ondersteun. Julle het ons bygestaan om in ‘n baie traumatiese situasie getuies van God se liefde te wees. Ons waardeer dit opreg. Teen die einde van Augustus het ons reeds bydraes ter waarde van R653 861.18 ontvang; daarvan het ons reeds R600 000 aan die Kerk in Japan oorbetaal. Ons loof die Here hiervoor!
2. Tobie en Annalie de Wet se bediening in die rampgebied
Afgesien van hierdie finansiële ondersteuning, het Missie Japan ook besluit om Tobie en Annalie de Wet vir ‘n aanvanklike tydperk van drie maande te stuur om tussen die getraumatiseerde mense in die rampgebied te gaan leef en werk. Die doel was om daar te dien en te getuig, om hulp te verleen (geestelik, emosioneel en selfs fisies) en om die Kerk by te staan in die oprigting van ‘n beradingsentrum. Tobie hulle is gestuur in samewerking met ons susterkerk en mede-sendingorganisasies.
In ‘n gees van groot offervaardigheid het Tobie en Annalie hierdie “roeping van die Here” aanvaar. Vir die laaste drie maande het hulle hulleself regtig gegee in diens van die Here, en dit onder moeilike omstandighede. Hulle werk baie hard, en fokus veral daarop om:
• Al die klein en dikwels arm kerkies en hulle predikante te besoek en te bemoedig om so uit te reik na die noodlydende mense.
• ‘n Bediening van gasvryheid daar te stel, waardeur talle plaaslike gaste en ander vrywillige werkers ontvang en ondersteun word.
• Baie “kokoro-no-care” (omgee/-berading van die hart) te doen.
• Mense fisies te help om hulle huise en tuine op te ruim sodat hulle weer hulle eie leefruimtes en lewens kan orden.
• ‘n Beradingsentrum te help vestig van waar al die mense van daardie gebied vir die afsienbare toekoms bedien kan word.
Met hul tipiese onbaatsugtige benadering het Tobie en Annalie na die rampgeteisterdes geluister, opreg vir hulle omgegee en so God se medelye uitgestraal. Hulle het baie opgeoffer, selfs hulle eie gesondheid in gevaar gestel (mense van hulle plaaslike gemeente in Tokushima het gereeld vars kos en water gestuur sodat hulle nie so veel aan bestraling blootgestel sou word nie!).
Maar hulle het ook die geleentheid geniet om die Here te dien. Tobie skryf: “Baie mense dink dat dit ‘n “reuse-opoffering” moet wees om hier bo te wees en te doen wat ons doen. Dit was egter een wonderlike, geseënde, verrykende en lonende ervaring wat ons waarskynlik vir die res van ons lewens sal bybly. Ons sal dit onthou as die hoogtepunt aan die einde van ons 20 jaar van diens in Japan!!” Hulle het self trauma ervaar, maar is ook bemoedig. Tobie skryf ook: “Om eerstehands iets van die lyding van duisende mense as gevolg van die drievoudige ramp te sien en hoor en voel, was vir ons ‘n heilige ervaring wat ons elke keer sprakeloos gelaat het, met ‘n diep innerlike pyn vir hierdie mooi mense. Ons is aan die ander kant ook verras en bemoedig deur die positiewe houding van die baie mense, wat alles, behalwe hoop en dankbaarheid vir nuwe vriende en nuwe lesse geleer, verloor het.” (Lees asseblief Tobie se volledige en roerende verslag oor die werk in die rampgebied op ons webruimte by: www.missiejapan.co.za/english – lees net af om by die verslag te kom, die Afrikaanse weergawe word nog vertaal).
Daar is werklik baie waardering vir die werk wat Tobie en Annalie doen. Ons kan net die Here dank vir hulle toewyding, maar veral vir hulle sensitiewe en nederige houding teenoor die mense wat hulle bedien. Hulle is inderdaad geloofwaardige getuies van die reddende liefde van Jesus Christus. Die gemeentes en kollegas in die rampgebied pleit dat Tobie en Annalie toegelaat moet word om veel langer in die gebied te bly.
3. Ons toekomstige betrokkenheid in die rampgebied
Die situasie in die rampgebied is duidelik besig om wonderlike geleenthede vir die kerk en ons sending te skep. Die Macedoniese stemme klink helder op: “Kom oor en help ons asseblief!” Missie Japan is reeds verbind tot die daarstelling van ‘n beradingsentrum; dit is waarvoor ons die bydraes tot die rampfonds gestuur het. Ons kan ons nie doof hou vir die oproepe vir ons volgehoue betrokkenheid nie. Missie Japan is tans besig om God se wil hierin te soek. Tobie en Annalie is veronderstel om aan die einde van hierdie jaar af te tree. Hulle verdien dit. Hulle is egter ook bereid om met die werk voort te gaan. Op watter wyse moet hulle, en Missie Japan in samewerking met die Reformed Church in Japan, op die oproep reageer? Ons vra julle gebede. En ons vra vir julle volgehoue ondersteuning – ook finansieel.
4. Stephan en Carina van der Watt
Ons wil graag ook al die ondersteuners en gemeentes wat Stephan en Carina tydens die onlangse besoek aan Suid-Afrika so vriendelik ontvang het bedank. Hoewel die besoek vir hulle baie vermoeiend was, veral met hulle twee kleuters, was dit baie vrugbaar en geseënd. Hulle is bemoedig deur die gasvryheid en lojale ondersteuning en gebede van soveel individue en gemeentes. Ons waardeer julle ondersteuning. Stephan en Carina is nou besig om hulle voete te vind en berei hulle voor vir die volgende termyn van hulle bediening. Ons is baie opgewonde oor die nuwe uitdagings wat vir hulle voorlê ná hulle aanvanklike periode van taalstudie. Ons waardeer hulle. Ons het hulle tydens hulle besoek opnuut liefgekry en ons bid vir hulle.
Seënwense.
Gideon van der Watt
(Sekretaris)
Posbus 1399
Bloemfontein, 9300
Suid Afrika
+2751 4066729 / +27827808038
www.missiejapan.co.za
Beste vriend/vriendin,
Ons sal dit baie waardeer as jy die volgende punte deel van jou gebedslys sal maak:
Dank die Here saam met ons vir:
Ons het ‘n baie geseënd 11 weke in Suid-Afrika beleef, honderde bemoedigende ondersteuners op meer as 50 plekke ontmoet, en spesiale tye saam met familie en vriende in ons mooi land geniet. Stephan het ook ‘n baie sinvolle konferensie oor pastorale sorg in Nieu-Seeland bygewoon.
Ons is dankbaar om veilig “tuis” en weer in ‘n gesonde roetine te wees, en om te midde van bedompige somerhitte en vlugflouheid weer voete te kon vind.
Ons waardeer veral in dié tyd ons twee geloofsfamilies (RCJ Tokushima en RCJ Tokushima-Wes) wat ons met groot warmte en gasvryheid terug ontvang het.
Wees saam met ons afhanklik voor God vir:
Bid asb. vir Carina vir krag, gesondheid en geduld in die swangerskap (laaste 8-9 weke lê voor).
Bid asb. vir kinders se her-aanpassing in kleuterskool en gemeenskap
Bid asb. vir almal se Japannese taalstudie en die aanbied van Engelse klasse vir kleuter en ma’s, as belangrike verhoudingsbou-geleentheid.
Bid asb. vir wysheid en krag vir Tobie en Annalie (de Wet), Carina se ouers, vir die laaste paar maande van hulle werk in Japan, en ook vir besluite oor hulle pad vorentoe in diens van Missie Japan en die RCJ.
Bid asb. vir Gys en Linda vir nuwe energie en visie in die nuwe skooljaar wat hulle onlangs weer begin het (1 Sept) saam met hulle leerlinge en kollegas (in Seiwa Christenskool in Kochi).
Bid asb. vir duisende mense in Japan wat steeds die stukkies van hulle lewens optel na die rampgebeure in Maart, en ook na hierdie maand se groot storms (tifone en vloedreen) regoor die land (sien op foto hieronder hieronder hoe dit lyk nadat 600 mm in twee dae hier in Tokushima geval het).
Baie dankie vir jou volgehoue ondersteuning!
Vrede
Stephan, Carina, Annlie en Cornelius
(ook namens Tobie en Annalie de Wet en Gys en Linda Olivier)

Ryslande agter ons huis

Cornelius en Annlie by dieselfde ryslande - nou oorspoel!
Sondag 11 September 2011
Van: Tobie en Annalie de Wet
Aan: Alle Missie Japan ondersteuners en bestuurslede
Ring van RCJ Shikoku / RCJ Tokushima- en Seibu-gemeentes
Ring van RCJ Touhoku / Kerkraad RCJ Sendai
RCJ/Sending Touhoku ondersteuningsentrum-komitee
Verslag oor ons verblyf in Noordoos-Japan
Vandag terwyl ek skryf is dit presies 6 maande (‘n halwe jaar) sedert daardie GROOT aardbewing en tsoenamie die Noord-oostelike deel van Japan getref en die Fukushima-kernongeluk plaasgevind het… ons is alreeds drie maande in hierdie rampgebied.
Ons beskou en beleef dit as een van die grootste eerbewyse wat nog ooit aan ons toebedeel is deur die Ring van RCJ Shikoku om beide die Ring van RCJ Shikoku en Missie Japan (en ons kerke in SA) in die rampgebied vir ‘n tydperk van drie maande (Julie – September) te verteenwoordig. Baie mense het gedink dat dit vir ons ‘n “reuse-opoffering” moes gewees het om hier bo te doen wat ons doen. Dit is egter ‘n wonderlike, geseënde, verrykende en lonende ondervinding wat ons vir die res van ons lewens sal bybly Ons sal dit onthou as die hoogtepunt van die einde van ons 20 jaar se diens in Japan!! Daarvoor loof ons die Here wat ons geseën het met hierdie unieke ondervinding en ons dank Missie Japan en die RCJ Ring van Shikoku en ook die Kerkrade van die Tokushima- en Seibu-gemeentes dat hulle ons gestuur het en ons ondersteun het met al hulle liefde, gebede en finansies.
Ons opdrag (soos ons dit verstaan het) was:
1) Om die RCJ Kerke in Touhoku te besoek, om hulle tydens eredienste te bedien en om op enige ande wyse die predikante in hulle bediening by te staan.
2) Om mense na ons huis te nooi vir geleenthede van gemeenskaplikheid (“fellowship”) en bemoediging.
3) Om “kokoro-no-care” (omgee / berading van die hart) te doen.
4) Om praktiese gemeenskapswerk (vrywilligersdiens) in die geteisterde gemeenskappe te doen.
5) Om bystand te verleen met die daarstelling van die Ondersteuningsentrum vir rampslagoffers.
Met ons aankoms in die Sendai-gebied was ons baie onseker oor ons pligte en waar en hoe om te begin. Ons wou ons by niemand opdring nie. Ons was ook baie bewus van die vele struikelblokke en probleme veral op die gebied van ware kokoro-no-care (omgee / berading van die hart).
Ons waardeer egter opreg die wyse waarop die leraars en ouderlinge van die Ring en Kerke van die Noord-oostelike RCJ ons ontvang het, en die warmte wat ons deurgaans beleef het.
Ons is veral dankbaar teenoor RCJ Sendai-gemeente, prediker Yoshida sensei en sy wyse leiding en vriendelike bemoediging asook teenoor ouderling Sasaki Kazuo san vir sy wonderlike praktiese hulp met die opstel van ons program vir die drie maande.
Om vir die drie maande in die baie gerieflike huisie by Takayama Gaikoku Mura te kon bly, was was op sigself ‘n seën.
So was die wonderlike weer ook wat ons die meeste van die tyd ervaar het (Totaal anders as verlede jaar …!).
Wat ‘n seën was die vars groente ook wat ons gereeld van ons dierbare broers en susters in Tokushima-gemeente ontvang het! Ons sal hopelik na Shikoku terugkeer sonder te veel bestralingsbesoedeling!
‘n Halfdagrit al met die kus langs vanaf RikuZenTakata, Kesennuma en MinamiSanriku, tot onder by Onagawa en Ishinomaki, het ons oë laat rek oor die verskriklike verwoesting wat deur die GROOT tsoenamie oor ‘n wye gebied veroorsaak is. Ons was diep getref, maar ook beïndruk, deur die stelselmatige wyse en spoed waarmee die Japannese die puin opruim.
Om eerstehands iets te sien en hoor en voel van die lyding van duisende mense as gevolg van die drievoudige ramp was vir ons ‘n heilige ervaring, wat ons telkemale stom gelaat het, en met diep innerlike pyn vir hierdie pragtige mense. Andersyds was ons ook verras en bemoedig deur die positiewe houding van baie mense wat als verloor het behalwe die hoop en dankbaarheid oor nuwe vriende wat hulle gemaak het en nuwe lesse wat hulle geleer het.
Vir die eerste keer kon ons hierdie deel van Japan en die Kerk en die se leraars, leiers en lidmate in die Noord-Oostelike Ring leer ken. Dit was ‘n verrykende ervaring waarvoor ons opreg dankbaar is. Ons het feitlik al die gemeentes in die ring besoek, en afgesien van die tweede Sondag, elke Sondag in ‘n ander gemeente gepreek. Ons is so dankbaar oor die geldelike ondersteuning van Missie Japan en die gemeentes in die RCJ Shikoku-ring wat ons gehelp het om nie ‘n finansiële las vir enige van hierdie gemeentes in die Touhoku-ring wat ons besoek het, te wees nie.
Ons het die RCJ Noord-oostelike ring leer verstaan en liefkry, en is nou ‘n bietjie beter toegerus om te deel in hul laste en uitdagings. Die ring beslaan inderdaad ‘n baie groot gebied vanaf Fukushima-provinsie in die Suide tot by Hokkaido in die Noorde. Die meeste van die 12 gemeentes is egter baie baie klein, in sommmige gevalle bestaan ‘n gemeente uit slegs die predikant en sy gesin. Lidmate, soos ook in die RCJ Shikoku-ring, word ouer. Finansieel is dit waarskynlik die armste ring in die hele Japan…’n Aantal leraars moet tentmaker-predikante wees wat hulle self onderhou. Nou, na die groot aardbewing, tsoenamie en kern-ongeluk staar die ring groter uitdagings in die gesig. Ons eerlike waarneming is dat hulle al die aanmoediging en ondersteuning wat hulle van die res van die RCJ en al die medewerkende sendings kan kry, nodig het om die geleenthede aan te gryp en die uitdagings wat voorlê te bowe te kom. Ons is egter aangegryp en bemoedig deur die toewyding, ywer en deursettingsvermoë van die leraars, hulle families, kerkleiers en kidmate wat ons ontmoet het. Dit is voorwaar besielend om te sien hoe hierdie broers en susters, oor baie baie jare ten spyte van soveel struikelblokke, vashou aan hulle geloof, die gemeenskap van gelowiges en die sendingboodskap van die kerk!
Ons kon ook baie nuwe broer-suster-verhoudings en wonderlike vriendskappe bou!! Ons het in die drie maande meer as sestig gaste by ons aan huis vir middag- en aandetes, tee/koffie, ontbyt of verblyf ontvang!
Dit was ook wonderlik om ons OPC broers en susters beter te leer ken en het heerlike tye van samesyn met hulle geniet. Ons is ook beïndruk deur die werk van die OPC oor baie dekades in hierdie gebied, kerkgeboue deur hulle opgerig, en mense deur hulle bediening na die Here gelei.
Dit was ‘n groot eer, voorreg en seën om vir ‘n kort rukkie deel van die RCJ Higashi-Sendai-gemeente te word, om elke Woensdagaand gebedsbyeenkomste te lei, en om saam met die leraar, Tateishi sensei, die ouderlinge en hulle gesinne, die diakens en lidmate sosiaal te verkeer. Hierdie gemeente, onder leiding van Tateishi sensei, stel ‘n voorbeeld aan alle kerke met ‘n gestuurde gemeente deurdat hulle uitreik na geteisterde gemeenskappe, en die fisiese en emosionele nood van soveel mense op die mees praktiese wyse aanspreek.
Praktiese en fisiese deelname met die opruim van huise en tuine en voorbereiding vir herstelwerk in die dorpe Touna en Nobiru onder leiding van Tateishi sensei, was onder die hoogtepunte van ons verblyf hier in die Noordooste van Japan. Ons is diep getref deur die visie, benadering en leierskap van Tateishi sensei en die personeel van sy vrywilligersentrum en die ondersteuning van die Higashi-Sendai-kerkraad en -gemeente. Om hulle te ontmoet en sy-aan-sy saam met vrywilligers van so veel kerke vanoor die hele Japan en so veel nasionaliteite vanoor die wêreld te werk was ‘n ongelooflike ervaring.
Tydens ‘n onlangse vergadering van die RCJ Higashi-Sendai-kerkraad is besluit om met hulle hulpverleningsaksie in Touna and Nobiru voort te gaan tot Oktober 2013, en om ‘n vrywilligersentrum met voltydse personeel in die gebied daar te stel. Ons was baie opgewonde en verheug oor die besluit van die Ondersteuningsentrum om met die fondse van oorsese kerke die RCJ Higashi-Sendai-gemeente finansieel by te staan met die oprig van ‘n ondersteuningsentrum (vrywilligersentrum) te Touna and Nobiri en ook om te help met die aanstel van voltydse personeellede om die sentrum te beman.
Die kinderkamp wat deur die Higashi-Sendai-kerk aangebied en deur Tateishi sensei gereël is, is bygewoon deur nie minder nie as 13 nie-Christen-kinders van die Touna/Nobiru-gebied en was ‘n aangrypende ervaring. Ek persoonlik het geëerd gevoel om gevra te wees om die twee aandpraatjies oor gebed te doen.
Die mees opwindende ontwikkeling is dat Higashi-Sendai Kerk nog ‘n twee-dagkinderkamp gereël het vir die kinders van daardie gebied. Hierdie keer sou selfs meer kinders (altesame 23 kinders!) dit meemaak. Ongelukkig sou dit plaasvind net toe ons op pad terug na Tokushima was…
Nog ‘n besondere ondervinding was die “Kokoro-no-Care (hart-omgee)” seminaar geborg en aangebied deur “Stand-by-Japan,” die Koreaanse Christen-organisasie, spesifiek op die been gebring om Japan en die kerk in hierdie tyd van swaarkry by te staan. Dit was goed om leraars en kerkleiers te sien en te hoor hulle harte oopmaak, en om die sagtheid en sensitiwiteit te ervaar waarmee ons Koreaanse broers en susters die verskillende sessies gelei het.
Nog ‘n hoogtepunt was Annalie se gereelde besoeke aan die tydelike behuisingseenhede hier in the Shichi-ga-Hama-gebied waar ons woon, met die klimaks toe ons van die dames vir middagete en saamkuier oorgenooi het. Annalie voel dit was egte “kokoro-no-care (hart-omgee)” en is spyt dat ons nie op die lang duur kan voortgaan met hierdie soort bediening nie. Ons glo baie sterk dat uitreik na die tydelike behuisingseenhede een van die fokusbedienings van die kerk vir die volgende paar jaar moet wees en om selfs die gesinne uit die behuisingseenhede in ons huise in te nooi vir saameet en saamkuier.
Ten slotte, om met Larry en Cal saam te werk met navorsing oor die oprig van ‘n Ondersteunersentrum in hierdie gebied was ‘n opwindende en ware leerervaring. Ek was ‘n totale uitlander en vreemdeling in hierdie gebied en het nie geweet waar en hoe om te begin nie. Veral Larry se buitengewone taalvaardigheid, sy wye netwerk van talle belangrike kontakte, sy geesdrif, die tyd en energie wat hy ingesit het, sy leierskapsvermoëns, al die hulpmiddele tot sy beskikking vanaf die CRC, ens., was oorweldigend! Hy het dit sowaar als gedoen!! Ek was net ‘n toeskouer, en ten beste sy gewillige chauffeur/taxibestuurder. Ons is ook beïndruk deur die manne van die OPC en hulle toewyding om beskadigde huise te herstel en om die Tandheelkundige Kliniek te YamamotoChou as ‘n moontlike Ondersteuningsentrum voor te berei. Alhoewel ons effens onrustig was oor die besonder vinnige soort noodlenigingsbenadering met die daarstelling van die ondersteuningsentrum te YamamotoChou, is ek namens Missie Japan verbind om saam met die CRC en die OPC onder leiding van die RCJ heelhartiglik deel van hierdie opwindende onderneming te wees. Ons is ten volle verbind om die Komitee se leiding en besluite te volg en te ondersteun. Ons gebed is dat dit inderdaad ‘n RCJ Ondersteuningsentrum sal word wat nie deur sendinggroepe bestuur sal word nie, maar deur die plaaslike RCJ Kerk, die plaaslike RCJ Ring en die plaaslike RCJ Kerkraad en gemeente.
Wat hou die toekoms vir ons in nadat ons vir drie maande hier was en al die dinge gesien en ervaar het?
Ons wroeg ernstig en diep oor wat ons rol en die van Missie Japan behoort te wees. Ons besef en voel dat ons nie ons oë, ore en harte mag sluit vir die situasie hier in die rampgebied wat ons na die groot aardbewing en tsoenamie ondersoek het en waarheen die Here en die Kerk (Missie Japan in samewerking met die ring van RCJ Shikoku) ons vir drie maande vanaf Julie tot September gestuur het nie. Nog minder kan Missie Japan en die Kerk in SA dit doen ….ook nie RCJ Shikoku Ring nie….
Wat ons die meeste uitdaag is nie die enorme nood, fisies, sosiaal, emosioneel en geestelik nie (Nood is baie relatief……. Oral is daar genoeg nood…… in Afrika, in Somalië en die Horing van Afrika, in ons eie land SA, en ook in Shikoku and Tokushima en die hele Japan…), maar die geleentheidsdeure as gevolg van die verwoesting van die tsoenamie het oopgegaan, om konkreet en fisies te reageer en die nood van die Japannese hier in die rampgebied aan te spreek en te bedien, om soveel Japannese wat gewillig is, tewens, wat gretig is, te dien, en met hulle om te gaan. Ek dink dis die eerste keer in ons 20 jaar in Japan dat ons so iets beleef …of iets van hierdie omvang…
Wat hier in die rampgebied gebeur, kan ons nie anders sien nie as die GROOT geleentheid vir die Kerk en Sending om God se liefde en genade op ‘n baie konkrete manier aan die mense van Japan te wys en met hulle te deel. Dis ‘n geleentheid wat waarskynlik net vir die volgende twee tot drie jaar sal bestaan tot wanneer gemeenskappe opgeruim en herstel en duisende Japanners uit die duisende tydelike behuisingseenhede terug in hulle normale lewens sal wees..; ‘n geleentheid, nie vir aggressiewe evangelisasie nie, maar vir stille en nederige fisiese diens en sensitiewe sosiale meelewing met lydende mense; ‘n geleentheid om lewensbelangrike fondamente te lê sodat God se Gees mense se gedagtes en harte en huise kan oopmaak vir Sy Kerk en die Evangelie; ‘n geleentheid om op ‘n praktiese wyse geloofwaardigheid vir die Kerk van Jesus Christus en sy boodskap te verkry.
Dit is hoekom ons glo dit is baie belangrik vir ons en Missie Japan (die Kerk in SA) saam met die Ring van RCJ Shikoku, om in gebed God se aangesig en leiding te soek en Hom opnuut te hoor….
Ons wag vir die Here, en sal julle wyse insette en leiding in afhanklikheid van die Here waardeer.
Tobie en Annalie
tokushima.church@mountain.ocn.ne.jp (Tobie) of annaliedewet1@gmail.com (Annalie)
DRINGENDE GEBEDSVERSOEK VANAF RAMPGEBIED
Liewe gebedsvennote
Hiermee ‘n versoek om doelgerigte gebed vir ‘n spesifieke geleentheid:
Ons beplan om vanaf Woensdag tot Vrydag hierdie week ‘n unieke kinderkamp gereël deur ds. Tateishi van die Higashi-Sendai Gereformeerde Kerk by te woon en daaraan deel te hê. Tateishi sensei en sy gemeente neem die leiding met die hulpverlening
van die RCJ in ‘n streek met die naam Higashi-Matsushima en ‘n dorp genaamd Tona Town. Higashi-Matsushima is ‘n streek met skilderagtige natuurskoon en is ‘n gewilde toeriste-bestemming met baie klein eilande en baie dennebome. Tona Town
is ‘n klein vissersdorpie in daardie area. Die tsoenamie het egter die dorpie oorspoel en amper alles verwoes. ‘n Lidmaat van Higashi-Sendai-gemeente, wat in daardie streek woon, se huis is ook getref. Tateishi sensei het onmiddellik na die tsoenamie die lidmaat besoek en het begin met opruimwerk en herstel van haar huis. Terselfdertyd het hy ook by ander huise in die dorpie besoek afgelê en hulp met opruimwerk aangebied.
Aanvanklik was die mense huiwerig om sy aanbod te aanvaar, maar mettertyd het hulle gesien hoe ander mense gehelp word, en het hulle hom en die kerk begin vertrou. Gevolglik het meer en meer mense om hulp gevra. Sedertdien het Christen-vrywilligers vanoor die hele land asook die buiteland na Higashi-Sendai Gereformeerde Kerk gestroom om huise en tuine in Tona Town te help opruim. Tateishi sensei, sy gemeente en die vrywilligers het ‘n toonbeeld van ‘n ware gestuurde kerk geword met soek en uitreik en die aanspreek van die fisiese nood van die gemeenskap. Tateishi sensei en Higashi-Sendai Gereformeerde Kerk het bekendheid verwerf en in die streek ‘n baken van hoop vir baie geword, glo ek. Ons is bevoorreg om ook ‘n bietjie te help met die opruim van huise en tuine in Tona Town. Ek probeer ook om Tateishi sensei se pastorale las ‘n bietjie ligter te maak deur sy weeklikse bidure waar te neem.
Die gebedsfokus is die kinderkamp wat hierdie week van Woensdag tot Vrydag gehou word. Ongeveer 12 kinders van Tona Town, sowel as ongeveer dieselfde getal Christen-kinders van die Sendai-omgewing, sal dit bywoon. ‘n Groot groep vrywilligers sal hulp
verleen. Ek en Annalie sal ook daar wees. Ek sal die godsdiens Woensdag- en Donderdagaand waarneem. Ek is gevra om oor gebed te praat: wat gebed is, en hoe gebid moet word. Dit sal omtrent al “geestelike” bydrae tot die amptelike program wees. Die res gaan uit baie pret en speletjies bestaan met baie tyd om verhoudings te bou met hierdie getraumatiseerde kinders.
Ons versoek julle ernstige gebed vir die kamp, die program, die kinders, die vrywilligers, Tateishi sensei, en die langtermyn-invloed op hierdie kinders se lewens en dié van hulle gesinne. Vra asseblief ook vir God se beskerming.
Saam in Jesus Christus, ons Heer en Verlosser.
Tobie en Annalie
tokushima.church@mountain.ocn.ne.jp (Tobie) of annaliedewet1@gmail.com (Annalie)
Gemeentes, medewerkers en donateurs
Liewe Vriende
TERUGVOER JAPAN RAMPFONDS EN BETROKKENHEID BY HULPVERLENING
Missie Japan gee graag terugvoer oor die Rampfonds vir Japan en ons voortgesette betrokkenheid by die rampgebied. Ons wil opnuut ons hartlike dank uitspreek teenoor elkeen wat ‘n bydrae gestuur het of voorbidding doen vir die mense wat deur die ramp geraak word.
1. Ons is dankbaar om aan te kondig dat ons teen die einde Mei reeds net meer as R500 000.00 se bydraes vir die Rampfonds ontvang het. Hierdie bydraes het van kerke, gemeentes en individue van oraloor gekom, ook uit die buiteland. Baie dankie vir elke bydrae!
2. Van hierdie geld het ons reeds R470 000 oorbetaal aan die Reformed Church in Japan se eie rampfonds. Ons het versoek dat die geld aangewend word vir die daarstel van ‘n Hulp- en Beradingsentrum waar noodleniging en berading gebied kan word aan die hele gemeenskap wat so erg deur die aardbewing en tsoenami geraak is.
3. Die Reformed Church in Japan werk ten nouste saam met ander Christelike instansies en kerke om te help met die heropbou van die geteisterde gebiede. Die fase van onmiddellike hulpverlening het nou oorgegaan in die heropbou van die gemeenskappe. Honderde duisende mense sit sonder huis of werk; hulle het alles verloor en moet gehelp word om nuut te begin. Maar, dis die diep emosionele wonde wat die moeilikste genees – daarmee is veral die kerke en ‘n aantal vrywilligers nou besig.
4. Na hulle reeds ‘n paar besoeke aan die rampgebied gebring het, word ds Tobie en Annalie de Wet eersdaags gesamentlik deur Missie Japan en die Reformed Church in Japan uitgestuur om ‘n tydperk van drie maande na die rampgebied te gaan bly en werk. Hulle opdrag is om:
- die leraars, gemeentes en vrywillige werkers in daardie gebied te gaan ondersteun
- waar moontlik pastorale gesprekke te voer en mense fisies te ondersteun
- te help met die vestiging van ‘n Hulp- en beradingsentrum waar daar op langer tyd hulp verleen kan word
- netwerke te vorm met ander vennote wat in die gebied werk, soos die Christian Reformed Church in America, die Orthodox Presbyterian Church, ens.
- ondersoek in te stel oor die mees effektiewe wyse waarop verdere hulp verleen kan word.
5. Hierdie taak waarvoor Tobie en Annalie uitgestuur word, gaan groot opofferings van hulle verg – fisies en emosioneel. Dit gaan egter ook wonderlike geleenthede bied om te getuig van die liefde van Christus. Daar is by die kerk in Japan baie groot waardering vir dit wat Tobie en Annalie daar doen. Daar is ‘n groot verwagting… Ons vra dus u voortgesette voorbidding vir hulle.
6. Die hele projek om Tobie en Annalie uit te stuur en dit wat hulle daar in die Sendai gebied gaan doen, gaan uit die aard van die saak ook heelwat ekstra kostes meebring. Daarom doen ons ‘n beroep op al ons medewerkers om dit vir ons moontlik te maak om die groot nuwe uitdaging aan te pak, naamlik om te midde van al die ellende daar ‘n getuienis oor God Drie-enig se ontferming en liefde uit te dra. Ons het dringend verdere finansiële ondersteuning nodig!
U kan bydraes inbetaal by:
Missie Japan, ABSA 4049690248 (Verwysing: Japan Rampfonds)
Of u kan dit stuur aan ons adres hierbo.
Groete in Christus
Gideon van der Watt
(Sekretaris)